FOURIE, J. 2023.
Die storie van Louis. Hoofrede by die Europese Historiese Demografie Konferensie. Ourlongwalk.com
FOURIE, J. 2023.
Die storie van Louis. Hoofrede by die Europese Historiese Demografie Konferensie. Ourlongwalk.com
DREYER, W.A. 2015.
South Africa: The early quest for liberty and democracy. HTS Theological Studies, vol. 71(3)
FOURIE, J. & VON FINTEL, J. 2014.
Settler skills and colonial development: The Huguenot wine-makers in eighteenth-century Dutch South Africa. The Economic History Review, vol. 67(4)
FOURIE, J. & VON FINTEL, D. 2012.
“The Fruit of the vine: An augmented endowments-inequality hypothesis and the rise of an elite in the Cape Colony” in Amsden, A., Robinson, J. and DiCaprio, A. The Role of Elites in Development. WIDER series on Economic Development. Oxford University Press.
COERTZEN, P. 2011.
The Huguenots of South Africa in documents and commemoration. NGTT, vol. 52(3)
COERTZEN, P. 2011.
The Huguenots of South Africa in history and religious identity. NGTT, vol. 52(1)
FOURIE, J. & VON FINTEL, J. 2011.
‘n Ongelyke Oes: die Franse Hugenote en die vroeë Kaapse wynbedryf. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, vol. 51(3).
FOURIE, J. & VON FINTEL, J. 2010.
An Unequal Harvest: The French Huguenots and early Cape wine-making. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, vol. 51(3), p.332-353.
English summary available here.
FOURIE, J. & VON FINTEL, J. 2010.
Settler skills and colonial development: The Huguenot wine-makers in eighteenth-century Dutch South Africa. The Economic History Review, vol. 67(4).
BRITS, D. 2009.
The French refugees in 20th century South African historiography.
D’ASSONVILLE, V.E. 2003.
The angle of incidence of Paul Roux’s catechism – a study on the theology of a French refugee at the Cape: research. Acta Theologica, vol. 23(2)
PLOEGER, J. 1988.
Die verspreiding van die Franse Hugenote. South African Journal of Military History, vol. 18(2)
PLOEGER, J. 1973.
Die godsdienstig-kulturele bydrae van die Hugenote tot die Afrikaanse volkswording. HTS Teologiese Studies, Vol. 29(1/2)
5. Die Jourdan- (Jordaan) familie
Die verhaal van die Jourdans se vlug toon hoe sterk die invloed van familie-netwerke in die Luberon se Aigues-vallei was. In Oktober 1685, twee jaar nadat hulle die Hervormde geloof afgesweer het, besluit die Jourdans, Marie, Jean, Paul, Piere (Saint-Martin) en Pierre (Cabrières), om Frankryk te verlaat ten einde ’n heenkome in die Nederlandse Republiek te vind. Ander families uit Luberon soos die Jauberts, Courbons, Granges, Rouxs, Malans en Mesnards sluit by hulle aan. Onderweg ontvang hulle hulp in Genéve en in Frankfurt. Saam met 35 ander Hugenote-vlugtelinge verlaat hulle op 2 Maart 1688 Goeree aan boord die China en arriveer op 4 Augustus in Tafelbaai. Jean en Pierre, twee broers uit Belle Étoile, Saint-Martin de la Brasque, en Pierre Jourdan uit Cabrières-d’Aigues (nie verwant nie) was die enigste Jourdans wat die tog oorleef het.
6. Jean-Prieur Duplesis (Du Plessis)
Jean-Prieur Duplesis is in 1638 in Poitiers in die Poitou-Charente-streek van wes-sentraal Frankryk gebore. Die Koninklike Verordeninge van die 1680s het veroorsaak dat hy, as aanhanger van die Hervormde geloof, nie meer as barbier-sjirurgyn kon praktiseer nie. Jean-Prieur verlaat Frankryk in 1687 en reis na die Frans-Karibiese eiland Saint Christopher. Hy trou in Junie 1687 op ’n naburige eiland met Madeleine Menanteau, ook uit Poitiers. Kort ná hulle huwelik is hulle na die Nederlandse Republiek.
Die paartjie vertrek op 29 Januarie 1688 van Wielingen aan boord die Oosterland. Hulle seun. Charl, wat ter see gebore is, is 18 April 1688 aan boord gedoop. Die familie het sewe dae later by die Kaap aangekom. Hulle het hulle in Stellenbosch gevestig, waar Jean-Prieur as ’n barbier-sjirurgyn praktiseer het en deeltyds geboer het. Omdat hy nie sy vrou en twee kinders kon onderhou nie, het hy versoek om aan die einde van sy kontrak saam met sy familie na Europa terug te keer. Die VOC het aan hom uitstel vir die betaling van die passaat verleen. Die familie het op 12 Junie 1693 aan boord die Sirjansland na Veere in Zeeland vertrek. Die familie was ’n tyd lank in Ierland waar hulle dogter, Judith, gebore is.
In 1702 keer Jean-Prieur Duplesis terug na die Kaap met sy tweede vrou, Marie Buisset (41 jaar jonger as hy), en hulle vestig hulle in die Banghoek-vallei by Stellenbosch. Hy is ses jaar later oorlede op 7 Desember 1708 op ouderdom van 70. Sy oudste seun Charl, wat deur sy vader as barbier-sjirurgyn opgelei is, het aan die Kaap en Drakenstein van 1712 tot sy dood in 1737 gepraktiseer. Marie Buisset was ’n gekwalifiseerde vroedvrou en het ook lykskouings aan die Kaap uitgevoer.
7. Die Vivier(Viviers)-broers
Die drie Vivier-broers uit Normandië, Abraham, Jacques en Pierre, was in bannelingskap in Zierikzee, Zeeland voordat hulle op 24 April 1688 aan boord van die Zuid-Beveland na die Kaap vertrek het. Soos baie vlugtelinge het hulle skenkings van die Waalse kerk ontvang. Die laaste opgetekende skenking was op 28 Maart 1688 “vir die drie vertrekkende Viviers”. Abraham het op 41-jarige ouderdom met die 16-jaar oue Jacquemine des Prez getrou. Hy was die enigste een van die broers wat ’n huwelik aangegaan het. Hy en Jacquemine was dus die stamouers van die Viviers-familie in Suid-Afrika. Van hulle nege kinders het agt volwassenheid bereik. Die drie Vivier-broers het tydens die pokke-epidemie van 1713 omgekom. Jacquemine is ’n jaar later oorlede op ouderdom van 36. Haar oudste seun was 18 jaar oud en hulle jongste dogter, Anna, is Januarie dieselfde jaar in Drakenstein gedoop. Anna se peetouers, Marie-Jeanne des Près (Jacquemine se suster) en haar man, Jacques Therond, het die verantwoordelikheid op hulle geneem om die vyf Vivier-dogters groot te maak.
8. Jacques (Jacob) Bisseux en Marie Lefebvre
Toe die vervolging van Hugenote in Frankryk hewiger geword het, het Jacques (Jacob) Bisseux, ’n bakker uit Pikardië, na Middelburg in Zeeland gevlug. Jacques en sy vrou, Marie Lefebvre, hulle twee seuns en die Bisseaux-familie het op 26 April 1696 van Wielingen aan boord die Vosmaar vertrek.
Gedurende die rampspoedige seevaart is 94 persone dood, insluitende vyf van die tien Hugenote wat aan boord was. Die dood van Jacques en Marie se seun, Paul, verskyn in ’n inskrywing onder 7 September in die skeepsjoernaal. Marie is oorlede kort ná hulle aankoms aan die Kaap. Jacques het as ’n bakker en kruidenier gewerk en is in 1700 met Isabeau Pochox getroud.
9. André Mellet
André Mellet uit Nîmes het in 1731, kort na sy huwelik met Marie Gautier, aan die Kaap aangekom, vergesel van Marie se oom, die handelaar Gilles Soullier (Sollier) en sy vrou Anne Roulain. Mellet het hom in Tafelvallei gevestig waar hy as ‘n bakker gewerk het en ’n gastehuis, wat baie gewild onder Franse besoekers was, bedryf het. In 1748 is hy na Nederland gerepatrieer omdat hy met gesteelde goedere handelgedryf het.
10. Pierre Grange (La Grange)
Pierre Grange verlaat sy tuisdorp, Cabrières-d’Aigues, ná die Edik van Nantes. Soos die ander Protestantse vlugtelinge uit die Luberon ontsnap Grange en sy neef, die messelaar Louis Courbon oor die Alpe na die Switserse kantons. Vandaar volg hulle ’n noordwaartse roete al met die Rynvallei langs tot in Frankfurt. Hoe erg hulle ontberings was, blyk uit die feit dat, met hulle aankoms in Frankfurt, Louis Courbon nie meer skoene aan sy voete gehad het nie. Pierre en sy neef het albei die rampspoedige vaart op die China oorleef en het as messelaars aan die Kaap gewerk.
11. François Guillaumé (Giliomee)
Die Hugenoot François Guillaumé (ook Guillaumet) was ’n kleremaker uit Berlyn, wat die Languedoc as kind verlaat het. Hy het saam met sy vrou, Claudine Eloy, en hulle vier kinders na die Kaap gekom om ’n sy-industrie tot stand te bring. Ten spyte van sy uiterste pogings het probleme met die kweek van moerbeibome en die uitbroei van sywurm-eiers die projek laat skipbreuk lei. In 1732 het hy die projek laat vaar en ’n vryburger van Stellenbosch geword. Matthieu, sy seun, het nog ’n paar jaar volgehou, voordat hy ’n grofsmid en kleinboer by Vlottenburg, Stellenbosch geword het.
12. Suzanne Briet
Suzanne Briet was die dogter van ’n familie wynboere in Monneaux in die historiese Champagne-streek. Sy is getroud met die hoedemaker Isaac Taillefert uit die naburige dorpie Château-Thierry. Isaac en Suzanne met hulle ses kinders het in April 1688 aan boord die Oosterland gearriveer. Aan die Kaap het hy sy beroep as hoedemaker voortgesit.
In 1689 word die plaas Picardie op die Bergrivier in die Paarl aan Isaac toegeken en sy seun Jean kry die aangrensende plaas La Brie (Laborie), genoem na sy plek van herkoms. Die plase is as een eenheid bedryf. Die Franse avonturier François Leguat het in 1698 by die plaas aangedoen tydens sy besoek aan die Kaap. In sy reisjoernaal wat in 1708 gepubliseer is, verklaar Taillefert: “He has the best wine in the country, and which is not unlike our small wines of Champagne”. Ná haar man se dood het Suzanne Briet die boerdery voortgesit ─ op ’n suksesvolle wyse, geoordeel aan die opgaafrolle. In 1700 was daar 36 stuks vee en 12 000 wingerdstokke op haar naam. Teen 1709 het sy 80 stuks vee, 400 skape en 20 000 wingerdstokke gehad en het sy haar produksie van koring verdubbel.
13. Jean Durand (Durand, Du Rand, Du Randt)
Jean Durand was ’n barbier-sjirurgyn uit die dorpie La Motte-Chalancon in die Drôme-distrik. Hy het waarskynlik omstreeks 1687 uit Frankryk gevlug. Onderweg het hy bystand in Genève, Schaffhausen en uiteindelik in Amsterdam ontvang. In August 1688 het hy uit Texel aan boord die Wapen van Alkmaar vertrek en het in Januarie 1689 aan die Kaap gearriveer. In 1702 is Jean Durand getroud met die 16-jarige Anna Vermeulen, dogter van Jan Vermeulen uit Utrecht en Catharina Opklim van Bengale (’n bevryde slaaf). Die sieklike Anna is in 1713 oorlede. Die egpaar het twee dogters gehad: Johanna en Susanna. Jean se tweede huwelik was met Wilhelmina van Zijl, die 18-jarige dogter van sy buurman. Jean en Wilhelmina het ses kinders gehad. Die Durand-bloedlyn is deur twee seuns Jan en Jonathan in Suid-Afrika voortgesit.
14. Gidéon Malherbe
Gidéon Malherbe het in 1688 uit Normandië aan boord die Voorschooten aan die Kaap gearriveer. Hy trou met Marie Grillon van die Kommune van Mer, naby Blois. In 1694 ontvang hy Normandie, ’n plaas naby Lormarins in Drakenstein, maar dit is eers in 1713 aan hom toegeken.
Gidéon se posisie word tussen 1700 en 1715 aansienlik versterk deur die erflating van sy goeie vriend Philippe Drouin. Philippe se vader het ook al sy besittings, insluitende die plaas De Groene Fonteyn in die Wagenmakersvallei aan hom oorgedra. Soos baie mans aan die Kaap het Phillipe Drouin oujongkêrel gebly. In 1705 was die meerderheid manlike setlaars oor vroulike setlaars groter as in 1682. In areas soos die Drakenstein was daar vir elke 100 vroue 227 mans.
15. Jacques Malan en Isabeau Le Long
In 1688 het Jacques as 16-jarige weeskind aan boord die China gearriveer. Soos dikwels die patroon aan die Kaap, was ’n weduwee die rede vir sy vinnige ekonomiese en sosiale vordering. Toe hy in 1699 met Isabeau le Long, Jean Jourdan se weduwee, trou, het hy toegang tot heelwat kapitaal verkry. Daarmee kon hy tussen 1702 en 1733 eiendom bekom en is hy en sy familie op die pad na aansien en sukses geplaas. Die egpaar het hulle op die plaas La Motte (naby die Hugenote-monument) in Oliphantshoek (Franschhoek) gevestig. Jacques het tussen 1702 en 1733 minstens 12 plase gekoop en ook twee erwe in Tafelbaai. Gedurende hierdie tyd het hy ook van die eiendomme teen ’n wins verkoop.
Met die afsterwe van sy vrou 1736 is Jacques Malan se netto waarde op meer as 86 000 gulde geskat. Binne een geslag het die Hugenote-weeskind tot ’n baie welgestelde lid van die Kaap se hereboere gevorder. Dit toon aan hoe dit aan die Kaap moontlik was vir ʼn Hugenote-vlugteling, met ʼn aanleg vir ondernemingsgees én die vermoë om ʼn winsgewende transaksie raak te sien, om op die ekonomiese en sosiale leer te klim. Jacques en Isabeau is albei onder die vloer van die NG-kerk (Moedergemeente) in Stellenbosch begrawe.
16. Sara Vitu and Jacques Delporte (Delport)
Sara Vitu uit Guînes (Wijnen) in Pikardië en haar eggenoot, Jacques Delporte (gebore naby Lille in Vlaandere), arriveer in April 1699 aan boord die Kattendijk aan die Kaap. Hulle vestig hulle in Drakenstein waar Jacques as ’n knecht werk. Teen 1707 was Jacques in die diens van Pierre Cronier op die plaas Versailles in die Wagenmakersvallei. In 1721 is die plaas Dekkersvlei aan Jacques toegeken. Hy was nie ’n baie suksesvolle boer nie en hy en sy familie moes finansiële steun van die Drakenstein-gemeente ontvang. Sara het in 1710, 1713 en weer in 1716 ’n bedrag van 36 gulde ontvang omdat hulle te arm was om hulle ses kinders te kleed. Sara is in 1724 oorlede en Jacques in Desember 1739.
17. Pierre Jaubert (Joubert) en Isabeau Richarde
Pierre Jaubert en Isabeau Richarde was stellig die suksesvolste van die Hugenote-boere. Pierre het in 1685 uit Frankryk na Switserland gevlug, al met die Ryn langs tot by Rotterdam. Hy was 24 jaar oud toe hy in Augustus 1688 aan boord van die China van Rotterdam aan die Kaap aangekom het. Daar was 175 passasiers op die China, waarvan 28 Hugenote-vlugtelinge was. Negentien van die passasiers, insluitende 13 Hugenote-vlugtelinge uit die Luberon, is ter see oorlede. Onder hulle was Jaubert se eerste vrou (Suzanne Reyne) en Isabeau Richarde se eggenoot (Pierre Malan). Toe die skip in Tafelbaai anker gooi was daar 50 siekes aan boord.
Pierre Jaubert is onderweg na die Kaap met Isabeau Richarde getroud. Pierre en Isabeau het in 1694 die plaas La Provence in Oliphantshoek ontvang en het daar gewoon tot Pierre se dood in 1732. Hulle het talle ander plase in die Drakenstein en die Land van Waveren gekoop. Met sy dood, 44 jaar na sy aankoms aan die Kaap, het Pierre en sy vrou 14 plase en ’n dorpshuis in die Kaap besit. Hulle het van die diens van sewe skoolmeesters gebruik gemaak vir hulle 11 kinders se opvoeding. Isabeau het tien jaar lank na Pierre se dood voortgegaan met die boerdery. Pierre se Bybel word uitgestal onder die ‘Bybelse Dokumente’ (Bybel No.2).
18. Marie Mouton en Titus van Bengale
Net 9 jaar oud, het Marie Mouton op 20 Julie 1699 saam met haar ouers, Jacques Mouton en Marie de Villiers, en susters Madeleine en Marguerite aan boord die Donkervliet vanaf Middelburg aan die Kaap aangekom. Haar moeder is kort daarna oorlede en Jacques moes alleen na sy jong familie omsien.
Op ouderdom van 16 is Marie getroud met Frans Jooste wat 15 ouer as sy was. Marie het sy opstal aan die voet van die Elandskloofpas betrek, nie ver van haar ouers se plaas in die Land van Waveren in die Vier en Twintig Rivieren gebied nie. In 1714 word sy beskuldig van die moord op haar man met die hulp van twee slawe, Titus van Bengale en Fortuijn van Angola. ’n Rare stukkie detail wat tydens die verhoor na vore gekom het, was dat Jooste se lyk in ’n erdvarkgat op die rand van ’n koringland op die plaas begrawe is.
Marie het tydens die hofsaak getuig dat haar eggenoot haar mishandel het en dat sy nege jaar lank geen nuwe klere van hom gekry het nie. Ooggetuies het getuig dat Marie Mouton en Titus van Bengale in ’n liefdesverhouding betrokke was en in die tyd was die moord op Marie se man voorafgegaan het,’n seksuele verhouding gehad het. Marie se tydgenote was geskok oor haar losbandige en moorddadige dade. Sy is vir die moord ter dood veroordeel. Ander Hugenote-vroue wat intieme verhoudings met hulle slawe gehad het en deur die kerk onder sensuur geplaas is, was Suzanne de Puis in 1716 en Cecilia du Preez in 1765.
Marie, Titus en Fortuijn het swaar en wrede strawwe ontvang. Marie Mouton was die enigste blanke vrou wat in die agtiende eeu aan die Kaap tereggestel is.
19. Jean Duthuilé
Toe die plaas Hexenberg in die Wagenmakers-vallei in 1699 aan Jean Duthuilé toegeken is, het die toekoms aan die Kaap vir hom veel belofte ingehou, soos vir ander Hugenote. Hy moes egter die binneland in vlug nadat een van sy slawe en ’n Khoi-Khoi-arbeider dood is, veroorsaak deur straf wat Jean hulle toegedien het. Hulle is van die diefstal van sleutels verdink. Hy is in absentia skuldig bevind en ter dood veroordeel. Duthuilé het in 1718 sy herverskyning in Londen gemaak.
20. Charles Marais en Edischa
Charles Marais, ’n lidmaat van die Le Plessis Marly gemeente naby Longvilliers in die Hurepoix-streek van die Île de France, het in April 1688 aan boord die Voorschoten gearriveer met sy vrou, Catherine Tabourdeux, en hulle vier kinders. Marais het sy plaas in die Drakenstein Le Plessis Marle genoem (tans Plaisir de Merle) na sy plek van herkoms. ’n Jaar ná hulle aankoms het Charles ’n woordewisseling gehad met twee Khoi-Khoi-mans, Edischa en Rooman (lede van Kaptein Jantjie se stam in die Drakenstein-gebied). Hulle het wilde amandels in die veld agter Simonsberg gesoek en op groen waatlemoene op Marais se plaas afgekom. Marais het hulle belet om dit te pluk, maar Edischa het Charles se bevel verontagsaam en Marais met stukke waatlemoen en klippe gegooi toe hy vind dat die waatlemoene groen en smaakloos was. Een van die klippe het ’n slagaar in Marais se linkerlies geskeur en tot sy dood vyf dae later gelei. Edischa is ter dood veroordeel, maar is aan sy stam oorhandig wat hom met stokke doodgeslaan het.
21. Estienne en Pierre Cronier en Matthieu Frachasse
Die broers Estienne en Pierre Cronier het in 1707 op Pierre se plaas betrokke geraak in ’n skermutseling met Khoi-Khoi-arbeiders en twee van die arbeiders is noodlottig gewond. Pierre se pleit van selfverdediging (in Frans) is nie deur die Politieke Raad aanvaar nie. Die vonnis van 25 jaar bannelingskap is egter nooit uitgevoer nie. Dit is in teenstelling met die lot van Matthieu Frachasse van Lourmarin in die Luberon wat in 1711 uit die Kaap verban is omdat hy vee by die Khoi-Khoi gesteel het.
22. Matthieu Amiel en Hoofman Dorha
Die Kompanjie het ruilhandel tussen die vryburgers en die Khoi-Khoi verbied omdat hulle monopolie in die handel van vee wou behou. Baie koloniste het die verbod geïgnoreer en onwettig handelgedryf. Matthieu Amiel van die plaas Terra de Luc in die Olifantshoek het teen vergoeding (in die vorm van beeste en skape) akkommodasie aan die oortreders verskaf en as hulle gids oor die berge opgetree. Kaptein Dorha, ook genoem Claas, het in Januarie 1696 die onwettige ruilhandel aan die Kompanjie gerapporteer. Toe dit tydens die ondersoek aan die lig kom dat die Hugenote meer vee as die Kompanjie besit, was die Kompanjie-amptenare ontstoke.
23. Gérard Hanseret
Gérard Hanseret was met Gabrielle Wavrand getroud. Hulle het sonder kinders na die Kaap gekom, want hulle seun is klein dood en hulle dogter, Marie-Gabrielle was reeds ’n volwassene met hulle vertrek uit Europa. Gérard was ’n messelaar in Stellenbosch en het in vennootskap met Pierre Rochefort op die plaas Vlottenburg geboer. Dit wil voorkom asof hy bande met sy tuisdorp, St Omer in Artesië, behou het aangesien baie van sy familie en vriende daar in sy testament genoem is. Hy het in 1718 na Europa teruggekeer.
Om die reiskoste van die Hugenote se na die Kaap te verhaal, het die VOC vereis dat die immigrante minstens vyf jaar lank aan die Kaap bly.
24. Lys van Hugenote wat die Kaap verlaat het (in xl sigblad)
25. Marie Buisset
Maria Buisset, 'n gekwalifiseerde vroedvrou, was die eerste vrou wat 'n lykskouing aan die Kaap gedoen het. Sy het in 1702 gearriveer as die tweede vrou van Jean-Prieur Duplesis, 'n barbier-sjirurgyn. Na die dood van haar man het sy as vroedvrou aanhou praktiseer en die boerdery aan die gang gehou. Ter selfbeskerming het sy twee pistole en ammunisie op 'n veiling gekoop. Sy was bekend daarvoor dat sy alle pasiënte behandel het, vreeslose forensiese verslae geskryf het en selfs siek slawe te perd na haar huis geneem het. Sy is in 1711 met nog 'n barbier-sjirurgyn, Dietrich Schnitt, getroud en het hom met sy werk bygestaan.
26. Louis Fourié
Louis Fourié het in 1689 uit Pontaix in die Dauphiné aan die Kaap aangekom. Hy trou in 1694 met Suzanne Cordier, uit die Orléanais. Na haar dood trou hy in 1716 met Anne Jourdan. Anne was 18 jaar oud, drie jaar jonger as sy oudste dogter. Louis was vader van 21 kinders, waarvan tien (ses dogters en vier seuns) uit sy eerste en 11 (vier dogters en sewe seuns) uit sy tweede huwelik was. In 1699 het Louis die plaas De Slange Rivier in Wagenmakersvallei bekom. Teen 1707, was daar al ’n klein Hugenote-kolonie van 19 volwassenes op aangensende plase.
27. Jeanne de Clercq
Op 26 April 1688 het Jeanne (Jannetjie) de Clercq op die Oosterland aan die Kaap aangekom saam met haar moeder en broers. Sy is met André Gauche getroud, wie se eerste eggenote, Jacqueline Décre, en haar dogter in 1691 in Europa of onderweg na die Kaap oorlede is. André het in 1698 ’n gewelddadige dood gesterf en Jannetjie agtergelaat met vier van haar eie kinders en ’n stiefseun Steven. Dieselfde jaar is sy met die gewelddadige Pieter Becker getroud. Becker is tot vier jaar dwangarbeid op Robbeneiland gevonnis en uit die Kaap verban, weens die barbaarse behandeling van sy slawe. Jannetjie was betrokke in 'n buite-egtelike verhouding met ’n VOC-korporaal, Mattheus de Maker, wat tot die geboorte van 'n dogter, Johanna, gelei het. In 1715 het sy en Becker geskei. Omdat sy weer verwagtend was, met reeds nege kinders, is ’n leenplaas in die Land van Waveren (Tulbagh) aan die noord-oosgrens van die kolonie aan haar toegeken. Daar is geoordeel dat sy ’n suksesvolle boer was en sy het die grondbrief ontvang vir Straatkerk, vernoem na haar dorp van oorsprong in Zeeland (Serooskerke, ook genoem Straatkerke).
28. Marguerite-Thérèse de Savoye
Marguerite-Thérèse, in Gent in die Suidelike Nederlande gebore, was die dogter van die welgestelde handelaar Jacques de Savoye. Sy het op 25 April 1688 saam met haar gesin aan die Kaap aangekom. Sy trou met Christoffel Snijman (Snyman), wat in 1688 as slawekind gebore is. Christoffel was die buite-egtelike kind van die soldaat, Hans Christoffel Snijman, en Catharina van Paliacatta (bekend as Groote Catrijn), die eerste vroue-bandiet wat na die Kaap verban is. Gedurende die VOC-bewind aan die Kaap kon Europese immigrante met vrygestelde vroulike slawe, wat gedoop was, trou. Hulle gemengde afstammelinge is in die vryburger-gemeenskap geassimileer. Marguerite-Thérèse en Christoffel se huwelik was die eerste voorbeeld van ’n huwelik van man van gemengde afkoms met ’n wit vrou. Sy en haar man, wat nege kinders gehad het, was die stamouers van die Snyman-familie in Suid-Afrika. Nadat Christoffel in 1705 oorlede is, is sy met Henning Villion (Viljoen) getroud en uit die huwelik is nog vier seuns gebore wat die Henning-tak van die Viljoen-gesin voortgesit het. Haar dogter, Catharina Snijman, is met Henning se broer, Johannes, getroud en hulle word die stamouers van hierdie tak van die Viljoen-familie.
29. Anne Prévost
Anne Prévost, wat in 1681 in Marck, Calaisis gebore is, is die stammoeder van die Van der Merwe-familie. Anne was sewe jaar oud toe sy saam met haar ouers, Charles Prévost en Marie Lefebvre, en haar broers, Abraham en Jacob, en suster, Elizabeth, na die Kaap gekom het. Hulle het in Junie 1688 aan boord die Schelde gearriveer. 'n Tweede broer, Jacob, is ter see gebore. Haar vader is 'n maand later oorlede en haar moeder het nog drie keer getrou: met Hendrik Eckhoff, Louis de Péronne en Hercule des Prés jr. Anne was 15 jaar oud toe sy met Schalk Willemsz van der Merwe getrou het. Tussen 1697 en 1725 is uit die huwelik tien seuns en ses dogters gebore. Haar eerste kind is gebore toe sy 16 jaar oud was en haar 17de op 44-jarige ouderdom. Anne se dogter, Sophia van der Merwe, is die gemeenskaplike voorouer in die voorouerlike lyne van persone met die genetiese stigterseffek, Huntington se chorea. Anne se suster, Elisabeth Prévost, wat met Philippe des Prés getroud was, het sewe seuns en vier dogters gehad. Sy was een van stammoeders van die Du Preez’s.
30. Pierre Roux
Madeleine Goirande, die vrou van Pierre Roux, 'n landbouer uit Cabrières-d’Aigues, is in 1688/9 aan boord die Wapen van Alkmaar oorlede, onderweg van Amsterdam na die Kaap. Pierre het nie weer getrou nie. Hy bly ’n tyd lank op Louis Barré se plaas La Roque in Drakenstein voordat die plaas Winterhoek in Augustus 1694 aan hom toegeken word. In 1700 keer hy terug na Amsterdam, maar is teen 1718 terug in die Kaap en koop die plaas Paarl Diamant. In 1725 vaar hy na Batavia, maar keer in 1730 terug om hom permanent aan die Kaap te vestig. Hy bemaak sy wêreldse goed aan Daniel Malan (seun van Jacques), eienaar van Morgenster, wat hom op sy oudag versorg het. Ander Hugenote wie se versorgers hulle enigste erfgename was, was Philippe Drouin (aan Gidéon Malherbe) en Jean Imbert (aan Pierre Jaubert).
A-C
Bastiaansz
Bossau
Bisseaux
Blignaut
Bruère
Cellier
Cordier
Cronier
D-E
De la Bat
Delporte
Des Prés
De Villiers
Du Buisson
De Bus
De Clercq
Duplesis
Durand
Dutoit
F-K
Faure
Foucher
Fourié
Gauche
Grange
Guillaumet
Hugot
Jacob
Jaubert
Jourdan
L-M
Labuscaigne
Le Long
Le Riche
Le Sueur
Leroux
Lombard
Malan
Malherbe
Marais
Maré
Mesnard
Mellet
Meyer
Migault
Mouton
N-Z
Naudé
Néel
Nourtier
Pinard
Rétif
Rousseau
Roux
Sénécal
Terreblanche
Therond
Villion
Vivier
A - C
Bastiaansz
François Bastiaansz uit Armentières in Frans- Vlaandere, was die eerste Hugenoot wat by die Kaap aangekom het in 1671. Op 19 Mei 1686 is hy met Anna Maria Pietersz de Leeuw getroud en Vredenhof, ’n plaas in Noorder-Paarl in Drakenstein is in 1692 aan hom toegeken.
Nie een van François en Anna se sewe kinders is met Hugenote getroud nie. Hulle dogter, Elisabeth, is met Willem van der Vyver getroud en sy het só die stammoeder van die Van der Vyver familie in Suid-Afrika geword.
Bevernagie
Die Bevernagie-familie uit Nederbrakel in die Suidelike Nederlande, bestaande uit Francina en haar broers Joost, Theunis, Anthonie en Jean het op 11 Junie 1700 by die Kaap aangekom aan boord die Ellemeet (ook bekend as Helmeet). Francina is op 10 Oktober 1700 met ’n wewenaar, Jacques Mouton, getroud en hulle vestig hulle in die Land van Waveren op Steenwerck (genoem na Mouton se tuisdorp in Vlaandere). Hulle het drie seuns en vier dogters gehad.
Joost is in 1716 met Anna van der Wey, die weduwee van Cornelis Ockers in die eg verbind. Joost, wat op Rietvallei en Theuniskuyl in die Land van Waveren gewoon het, het nie kinders van sy eie gehad nie, maar het Anna gehelp om die vier Ockers-kinders groot te maak. Sy gemengde sukses as ’n grensboer blyk duidelik uit die opgaafrolle van 1712 en 1719. In 1712 het Joost 90 stuks vee en 900 skape gehad, maar strooptogte deur die Khoi-Khoi jagters het teen 1715 sy lewende hawe erg uitgedun. Teen 1719 het hy slegs 50 stuks vee en 150 skape gehad.
Daar is nie veel bekend oor die ander kinders nie, behalwe dat Jean ’n sukkelbestaan as boer gevoer het. Anthonie was ’n padwerker en Theunis is kranksinnig verklaar. Theunis is in 1736 kinderloos oorlede. Meer inligting oor die familie is beskikbaar by: https://www.stamouers.com.
Bisseaux
Jacques (Jacob) Bisseux, ’n bakker uit Pikardië, het na Middelburg in Zeeland gevlug. Daar is hy met Marie Lefebvre getroud. Jacob, hulle eersgeborene, is in 1691 gedoop. Pierre is in 1694 gebore en Paul vyf jaar later.
Die Bisseaux - familie vertrek op 26 April 1696 uit Wielingen aan boord van die Vosmaar. Tydens ‘n rampspoedige reis kom vier en negentig mense om, waaronder vyf van die tien Hugenote wat aan boord was. Op 7 September is die dood van Jacques en Marie se seun in die skeepsjoernaal aangeteken: “een van onse Franse passagiers kinders genaamt Paulus Biosse (Paul Bisseux) gebooren tot Middelburg “
Aan die Kaap het Jacques as ’n bakker gewerk. Dit wil voorkom asof sy vrou kort na hulle aankoms oorlede is, aangesien hy in September 1700 met die 20-jarige Isabeau Pochox van Parys getroud is. Die egpaar het twee seuns en twee dogters gehad.
Blignaut
Jean Blignault is in Amsterdam gebore, waar sy ouers ná die herroeping van die Edik van Nantes geskuil het. Hy het sy oortog vanaf Texel verdien deur as seekadet aan boord van die Huijs Te Assenburg te werk. Op 1 Julie 1723 arriveer hy aan die Kaap en drie weke later begin hy om die kinders van Daniel Hugot, ‘n familielid, te onderrig. Met Hugot se afsterwe, nie lank daarna nie, trou Blignaut met Hugot se weduwee, Anna Rousseau, en word só die stiefpa van die elf Hugot-kinders en ook die eienaar van die drie Hugo-plase. Jean en Anna het nog vyf kinders gehad. Jean het sy naam in die Nederlandse spelling onderteken as Jan Blignaut.
Bossau (Boshoff)
Henri Guillaume Bossau of Willem Henrik Boshoff van Bayonne, soos hy in die register van die Nederlandse skip Ruijven aangeteken is, het op 18 Maart 1741 by die Kaap aangekom. Die Ruijven was op ’n vaart na Batavia en moes by die Kaap aandoen om die siekes aan land te laat gaan. Drie en sestig bemanningslede het die vaart nie oorleef nie, maar Willem, hoewel siek, het oorleef. Die kaptein van die skip het geweier om hulle weer aan boord te neem. Willem het dus as smid, slotmaker en wapensmid aan die Kaap aangebly.
Volgens dokumente van die konsistorie van die Franse kerk van Hamburg, wat op 25 April 1742 in Altona vergader het, word gesê dat hy die gemeente twee jaar tevore verlaat het, nadat hy bykans vier jaar daar gewoon het en dat hy 'van Frankryk' was.
In 1749 verlaat Boshoff die diens van die VOC. Sy naam verskyn vir die eerste keer op die opgaaf van vryburgers wat in Maart 1750 in Swellendam saamgestel is. Op 15 Oktober 1752 meld Tulbagh se kerkregister dat "Willem Hendrik Boshof van Bayonne, burger van Swellendam" met "Martha Maria Cortje van die Kaap die Goeie Hoop" getrou het. Martha Maria Cortjie (Cordier) was die dogter van Philipe Cordier en Elizabeth Malherbe en die kleindogter van die Hugenote, Louis Cordier en Francoise Martinet. Willem en Martha het tien kinders gehad: agt seuns en twee meisies.
Soos baie destydse werknemers van die VOC, blyk dit dat Willem ook kinders by ’n slavin gehad het. Die NG Kerkargief in Kaapstad bevat inskrywings van die geboorte van ‘n seuntjie, Willem Lodewyk in 1745 en ’n meisie, Sophia Margarita 1748, van die ouers, Cornelia Cockzaaya en Willem Henrik Boshof. Dit is onbekend wat met hierdie kinders gebeur het ná sy huwelik.
In 1786 is Willem oorlede in die Swellendam-distrik. In 1790 bekom sy seun Jacobus Nicolaas die plaas Duynsigt naby Mosselbaai en die rekords toon dat Willem se weduwee daar by haar seun gewoon het.
’n Afstammeling van Willem, Jacobus Nicolaas Boshoff (1808 - 1881), was ’n Voortrekkerleier in Natal en word later tussen 1855 en 1859 die tweede staatspresident van die Oranje -Vrystaat.
Vooraanstaande Boshoffs uit die twintigste eeu sluit in Carel Willem Hendrik Boshoff (1927-2011), ’n Suid-Afrikaanse professor in teologie en regse Afrikaanse kultuur-aktivis, en Adriaan Boshoff (1935-2007) wat ’n belangrike Suid-Afrikaanse skilder geword het. ’n Ander talentvolle Boshoff is die konseptuele kunstenaar Willem Boshoff (1951-) wie se werk, wat teks, taal en die verwerking van inligting kombineer, internasionale lof geniet het.
Bruère (Bruwer)
Estienne Bruère was een van ’n groep van 22 Hugenote-vlugtelinge wat op 13 Desember 1687 vanaf Delftshaven aan die Maasrivier vetrek het — dieselfde hawe waarvandaan die pelgrimvaders ongeveer vyftig jaar vroeër na Amerika vertrek het. Aan boord was onder andere Anne Foucher (née Bruère), Estienne se suster, haar seun Philippe en Philippe se bruid, Anne Souchay.
Estienne het twee keer aan die Kaap huwelike aangegaan. Sy eerste vrou was Esther des Ruelles en sy tweede, Suzanne du Puis. Estienne en Suzanne het sewe kinders, vyf dogters en twee seuns (Steven en Johannes) gehad. Steven was kinderloos, sodat die Bruère-lyn slegs deur Johannes voortgesit is.
In 1692 ontvang Estienne die plaas Rust en Werk in Daljosafat en in 1712 verhuis die gesin na die plaas Voorkeyker (naby die huidige Wolseley) in die Land van Waveren. Daar woon hulle tot 1722. Estienne het weidingsregte ontvang langs die Breederivier by Wagenboomsrivier (Slanghoek) en Bruwelskloof (Worcester) — en ook by Het Roodezandt aan’t Hoopsrivier, waar die dorp Robertson tans is. Baie van die gevestigde wynboere in die distrikte Robertson en Worcester is direkte afstammelinge van Johannes Bruère. Verskeie van sy agterkleinseuns het egter verkies om trekboere te word of om by die Retief-trek na Natal aan te sluit.
Cellier (Cilliers, Cillié, Celliers)
Josué en sy jong bruid, Elizabeth (Isabeau) Couvret, wat nege jaar jonger as hy was, het na Nederland gevlug ná die herroeping van die Edik van Nantes. Dit wil voorkom asof hulle in Nederland gebly het tot hulle op die VOC se werwing van getroude landbouers vir die Kaap gereageer het. Hulle arriveer op 22 Augustus 1700 aan die Kaap aan boord die Reijgersdaal. Saam met hulle aan boord was Elizabeth se broer, Paul Couvret en sy vrou, Anne Vallette en hulle dogter, Anne-Elizabeth. Paul was ’n wynmaker en ook skoenmaker uit Bazoches-en-Dunois in Orléanais-streek. Josué was ’n timmerman van beroep, maar ook ’n landbouer.
Die Cellier-egpaar se eerste plaas was Het Kruyspad aan die Kuilsrivier naby die huidige Brackenfell. Daar word in die titelakte ietwat minagtend na die plaas verwys as met 'sanderige en totaal ongeskikte grond' ('zand en heel onbekwaam land'). Nadat ’n plaas aan die Hugo-rivier naby die huidige Wellington in 1712 aan Josué toegeken is, het die egpaar hoofsaaklik in die Drakenstein gebly. Hy noem die plaas Het Orleans. Die vorige eienaar was Matthieu Frachasse van Lourmarin in die Luberon, ’n mede-Hugenoot, wat uit die Kaap verban is omdat hy vee van die Khoi-Khoi gesteel het.
Josué en Elisabeth se seuns, Jean (1702) en Abraham (1709) het seuns gehad, wat die Cellier-lyn voortgesit het. Mettertyd het dié van verskillende vorme aangeneem, soos Celliers, Cilliers en Cillié
Anders as sy swaer, was Paul Couvret ’n uitgesproke teenstander van die Van der Stel-bewind. Ten spyte van die toekenning van die plaas Goede Hoop aan hom, keer Couvret en sy gesin tog in 1712 terug na Europa.
Die Cellier-egpaar, wat elf kinders gehad het, vyf seuns en ses dogters, was ongeletterd en moes dus hulle dokumente met ’n kruis onderteken. Tussen 1719 en 1720 het hulle Jacob Naudé in diens geneem om hulle kinders 1720 te onderrig, sodat hulle kinders ten minste ’n basiese opleiding kon kry.
Toe Josué in 1721 op 54-jarige ouderdom oorlede is, het hy Elizabeth met ses kinders jonger as 15 nagelaat. Kort daarna trou sy met Paul Roux, voorleser en onderwyser in die Drakenstein. Nadat sy in Oktober 1723 weer weduwee geword het, het sy in vennootskap met haar seuns geboer. Toe sy in 1743 te sterwe kom, het haar boedel bestaan uit vyf slawe, 10 lêers (± 6 000 liter) wyn, ses perde, 30 beeste, 200 skape en aansienlike hoeveelhede koring en rog.
In 1739, teen die einde van haar veelbewoë lewe, het Elizabeth die Kaapse samelewing geskok deur aan die struikrower, Estienne Barbier, vir ’n jaar lank ’n tuiste te bied. Soos Celliers, was Barbier ook ’n Calvinis uit Bazoches-en-Dunois in die Orléanais-provinsie. In 1728 trou Jean Cellier met Anna Marais, die weduwee van Gabriel Rossouw (aan die Kaap is die Franse spelling, Gabriel en Daniel, verander na Gabriël en Daniël). Sy jonger broer, Abraham, trou met Gabriel se 18-jarige dogter, Anna Rousseau en teen 1744 het Anna en Abraham reeds twaalf kinders. Abraham was die eerste Cellier om die Drakenstein-streek te verlaat. Teen 1768 woon die gesin aan die oewer van die Breërivier naby die huidige Swellendam en vandaar het hulle na die Oosgrens versprei.
Een van hulle afstammelinge, Sarel Cilliers (1801–1871), was een van die Voortrekkerleiers van die Groot Trek van 1836–1845 toe sommige nedersetters die binneland ingetrek het, op soek na meer grond en groter politieke onafhanklikheid. Sedert Andries Pretorius die Zoeloe-aanslag in die Slag van Bloedrivier (Ncome) in Desember 1838 die botoon gevoer het, word hy en Cilliers as helde vereer.
Cordier
Louis Cordier het in 1688 saam met sy vrou, Françoise Martinet, en hulle vyf kinders, Jeanne, Suzanne, Louise, Marie en Jean, by die Kaap aangekom. As landboukundige van Montigny in die Orléanais, ontvang hy die plaas Bethel aan die Bergrivier in Drakenstein in 1689 en ook in 1690 finansiële bystand uit die Batavia-fonds. As ’n verkose ouderling van die gemeente Drakenstein, was Cordier, saam met Jacques de Savoye, Daniel des Ruelles en Abraham de Villiers, lede van Pierre Simond se afvaardiging wat die Franse gemeenskap se versoek om ’n eie gemeente aan die VOC oorgedra het. Van der Stel was huiwerig om aan hulle versoek te voldoen, gegewe die VOC se taalbeleid van verhollandsing en assimilasie.
Die vier Cordier-dogters trou almal met Hugenote-vlugtelinge: Jeanne trou met Matthieu Frachasse, Suzanne met Louis Fourie, Louise met Daniël Jacob en Marie met François-Jean des Prés. Toe Frachasse deur die Kompanjie weens verskeie oortredings verban is, het Jeanne hom na Nederland gevolg.
Cronier (Cronjé)
In 1698 arriveer Estienne en Pierre Cronier, broers van Thimerais in Normandië, aan die Kaap aan boord die Driebergen.
Die Croniers het as Katolieke grootgeword, maar het die Gereformeerde belydenis aanvaar vóór hulle na die Kaap vertrek het. Aan die Kaap het hulle bekend gestaan as Steven en Pieter Cronjé. In Februarie 1699 ontvang Estienne die plaas Olyvenhout aan die Kromrivier in die Wagenmakersvallei en koop in 1713 die plaas Champagne aan die Spruitrivier van Hercule Verdeau. Hy het ongetroud gebly. ’n Aangrensende plaas aan die Kromrivier is aan Pierre toegeken. Hy het die plaas Versailles genoem.
Soos so baie van die jong Hugenote, trou Pierre met ’n weduwee. In hierdie geval met Suzanne Taillefert, weduwee van Jean Gardé, met wie sy in 1709 getrou het toe sy 15 was. Pierre en Suzanne het ses kinders grootgemaak. Toe Pierre in 1718 te sterwe kom, trou Suzanne in 1724 met Jacob Naudé, wat in 1718 aan boord die Abbekerk na die Kaap gekom het. Op daardie stadium was hy haar kinders se onderwyser. Suzanne Taillefert het dus die stammoeder van drie Hugenote -families in Suid -Afrika geword.
Pierre Cronier jr. trou met Susanna Roi, ’n Hugenoot. Van Pierre en Suzanne se seuns was hy die enigste wat met ’n Hugenoot getrou het en die egpaar het agt kinders in die lewe gebring (twee dogters en ses seuns). Vyf van hulle seuns (Johannes, Stephanus, Johannes Izaak, Daniël en Abraham) het die Cronjé-lyn voortgesit.
In 1707 was die broers Cronier en Jacques Delporte (stamvader van die Delport-familie in Suid-Afrika) betrokke by ’n skermutseling met Khoi-Khoi-arbeiders op Pierre se plaas waarin twee Khoi-Khoi noodlottig gewond is. Pierre se pleidooi van selfverdediging (in Frans gelewer) is nie deur die Raad van Justisie aanvaar nie. Sy vonnis van verbanning vir 25 jaar is egter nooit uitgevoer nie.
Inventarisse van die broers se gesamentlike besittings in 1707 en 1708 toon die eenvoudige omstandighede waaronder sommige van die Hugenote-setlaars moes lewe: Estienne se huis het uit twee klein vertrekke bestaan en die broers se vee het bestaan uit 345 skape, 49 stuks vee, een wa en twee ploeë . Hulle enigste boek was ’n Franse Bybel. Die Cronier-kinders was erfgename van hul vader sowel as Estienne Cronier se boedel toe hy in September 1724 te sterwe kom. Hulle erf die plase Olyvenhout en Champagne.
Generaal Piet Cronjé (1836–1911) is een van die bekendste van die Cronjés. As jong seun het hy saam met sy ouers die Kaap verlaat op die Groot Trek. Die gesin vestig hulle in die ZAR. Gedurende die Eerste Vryheidsoorlog sluit hy by die Boeremagte aan en veg teen die Britte. Hy is tot die rang van veggeneraal bevorder en was betrokke by die gevangeneming van die Jameson-groep toe hulle die Suid-Afrikaanse Republiek in 1896 binnegeval het. Tydens die Anglo-Boere-oorlog was hy die bevelvoerder by Modderrivier en Magersfontein in 1899. Nadat hy in Februarie 1900 hom aan Lord Roberts op Paardeberg oorgegee het, is hy as krygsgevangene na Saint Helena gestuur. Ná die oorlog het hy ’n tragikomiese figuur geword toe hy saam met generaal Ben Viljoen opgetree het in opvoerings van gevegte van die Anglo-Boereoorlog in ’n Amerikaanse vertoning wat bekend staan as die "Boere-sirkus".
D - E
De la Bat
Nicolas Labat (De la Bat) het in 1688 aan die Kaap aangekom en is met Elizabeth Vivier in Drakenstein getroud. Hy was egter nie die stamvader van die de la Bats in Suid -Afrika nie.
Dié eer kom Gerard Henry Guillaume de la Bat toe, wat op 27-jarige ouderdom met Hester Petronella Pricelius getroud is, terwyl hy luitenant in generaal Janssens se Bataafse Kavallerie aan die Kaap was.
Die egpaar het twee seuns, Bernabé Jan Gerard en Willem, gehad voordat Guillaume na Europa verplaas is om onder Maarskalk Jean-Baptiste Jourdan in die Napoleontiese oorloë te veg. Gerard kom in Julie 1809 om tydens die slag van Talavera naby Madrid. Ná ’n tyd in Engeland en Holland, keer die twee De la Bat -seuns in 1824 terug na die Kaap om by hul ouma te woon. Hulle vestig hulle in Worcester en werk as notarisse en transportryers. Bernabé Jan Gerard trou met Anna Catherina Hugo en sit die De la Bat-lyn in Suid -Afrika voort.
Delporte (Delport)
Jacques Delporte, gebore naby Lille in Vlaandere, is die stamvader van die Suid -Afrikaanse Delport -families. Hy en sy vrou, Sara Vitu (Vitout) van Guînes (Wijnen) in Pikardië, het in 1699 aan boord van die Cattendijk by die Kaap aangekom. Hulle vestig hulle in die Drakenstein-vallei, waar Jacques as ’n kneg werk. Teen 1707 was hy in diens van Pierre Cronier op die plaas Versailles in die Wagenmakersvallei. Hy koop die plaas Dekkersvlei in Klein-Drakenstein van Philippe des Prés, maar het min sukses as boer gehad. In 1710 en 1713 het hy finansiële hulp van die gemeente Drakenstein ontvang en weer in 1716 toe sy vrou f36 ontvang het vir klere vir hulle kinders. Sara is in 1724 oorlede en Jacques in 1740. Hulle het vyf kinders gehad. Marie, hulle eersgeborene (aan boord gebore in 1699), is met André Huibaux, wat in 1706 as ’n VOC-soldaat op die Beljois aangekom het, getroud. Die egpaar het geen kinders gehad nie.
Een van hulle seuns, Pierre (Pieter), was twee keer getroud en vader van veertien kinders - dertien by sy eerste vrou Anna Maré, en een by sy tweede vrou Margaretha Schreuder (weduwee van Willem Beyers). Hy erf Dekkersvlei van sy vader, ontvang in 1657 die huurplaas, Amandelrivier naby die huidige Villiersdorp. Hy koop ook in 1659 die plaas De Paardevleij anderkant die Hottentots Hollandberge. Volgens die monsterrolle van 1173 was Pierre se besittings by Dekkersvlei: sewe slawe, 24 stuks vee, 11 perde, 200 skape, 20 000 wingerdstokke en 27 lêers wyn. Die afstammelinge van Jacques Delporte het mettertyd na die grens migreer en aan verskeie protes-aksies deelgeneem, eers teen die Kompanjie en later teen die Britte.
’n Kleinseun, Petrus Jacobus Delporte (1757-1797), was die leier van die Swellendamse Patriot-beweging, wat beplan het om die Kompanjie se bewind omver te werp. In Junie 1795 beset ’n kommando van 60 burgers onder sy leiding die kantore van die Swellendamse landdros. Toe die Britte in dieselfde maand Simonstad beset, skryf Delporte ’n dreigbrief aan die Britse bevelvoerder en weier om 'ons land oor te gee'. As gevolg hiervan word hy na Nederland verban.
Jacobus Delport was nog een van Jacques se kleinseuns. Die Morawiese sendeling, Christian Ignatius Latrobe, doen só verslag oor sy besoek in 1815 aan Jacobus se plaas Moddergat naby Stellenbosch: “. . ons het mnr. Delport se huis by die Moddergat bereik. Na die duisternis en moegheid was ons verheug om hier ’n gemaklike nagrus te vind. Ons is almal in een kamer geplaas waar ons ook die eer gehad het om ons gasheer en ’n seuntjie in dieselfde kamer as ons te hê. Die goeie ou siel gaan slaap met ’n pyp in sy mond. Toe hy vaak word, sit hy dit op ’n stoel neer om dit die volgende oggend byderhand te hê. Tussen twee en drie uur in die nag steek hy sy pyp aan en raak weer aan die rook, in die bed. Dit het egter nie gepla nie, want daar was geen plafon in die vertrek nie en die groot volumes rook het in die dak in opgestyg.”
Des Prés (Du Preez)
Hercule des Prés en sy vrou, Cecilia d’Atis (d’Athis), en ses kinders het in 1686 van Kortrijk (Courtrai) in Wes-Vlaandere na Vlissingen gevlug. Daar het hulle en Cecilia se swaer, Nicolas d'Athis, om armesorg aansoek gedoen. Die familie arriveer in 1688 aan die Kaap aan boord De Schelde. Die plaas De Zoeten Inval in die Paarl word vier jaar later aan Hercule toegeken.
Hercules, die Des Prés se tweede seun, was die vierde eggenoot van Marie Lefebvre. Toe hy in 1696 met haar getrou het, was sy 20 jaar ouer as hy. As haar man word hy die eienaar van die plaas Welgevonden in Drakenstein. In 1698 koop hy die aangrensende plaas, Watervliet, en in 1709 verkry Romansrivier in die Land van Waveren, op huurpag. Hy was baie aktief in die plaaslike gemeenskap: hy word diaken in die kerk en in 1691, lid van die Heemraad in 1700, luitenant in die kavallerie in 1702 en kaptein van die burgermag in Drakenstein in 1705. Hy onderteken die petisie van 1706 teen goewerneur WA van der Stel, waarin hy deur Van der Stel beskryf word as die "meest kwaadwillige en gevaarlikste vyand". Hy word gearresteer en sou na Mauritius verban geword het as die VOC nie die goewerneur na Nederland teruggeroep het nie.
Hercule se oudste dogter, Jacquemine, trou in 1695 (die jaar van Hercule se dood) met Abraham Vivier (ongeveer 25 jaar ouer as sy) en word die stammoeder van die Vivier(s)-geslag in Suid-Afrika. Binne 18 jaar het sy 11 kinders gebaar, waarvan agt volwassenheid bereik het. Die drie Vivier-broers sterf tydens die pokke-epidemie van 1713. Toe Jaquemine twee jaar later sterf, het die meeste van haar wees-kinders by haar suster, Marie-Jeanne, en swaer Jacques Therond, wat self sewe kinders gehad het, gebly.
Marie-Jeanne het by geleentheid van die geboorte van elkeen van haar sewe kinders ’n godsdienstige vers in Kaaps-Hollands geskryf. In 1827 het Pieter Theron, die eerste Hugenote-genealoog, dit gepubliseer as “Copia van een oud geschrift door Maria Jane des Preez, vrouw van Jacques Theron, geschreeven t’ welk onder haar oude papieren gevonden is “. Sy het haar kinders die name van die Bybelfigure Maria, Elizabeth, Petrus, Johannes, Thomas, Jacob en Dawid gegee. Elke kwatryn volg dieselfde struktuur: Die naam en geboortedatum van die kind dien as opskrif, die eerste twee reëls beskryf die Bybelfiguur en in die volgende twee reëls vra Marie-Jeanne dat God die kind netso sal seën as die Bybelfiguur. Soos uit die volgende voorbeeld blyk, is die gedigte kort gebede:
“Anno 1699 den 9 July is gebooren Jacques Theron. Jacob den eerste zoon des Jacobs stam kies. Des Jacobs se ryk laat hom nie verliese nie
Brengt hom ook zeegens vol des Jacobs aan den Dag. Dit kan ook ’n ewewiglike triomf gevind word.”
Teen die middel van die agtiende eeu het lede van die Du Preez-gesin na Swellendam, Worcester en selfs na Graaff-Reinet verhuis.
De Villiers
In Desember 1688 stuur die Delftse kamer van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie ’n brief aan die Kaap waarin gewag gemaak word van die wynbou-vaardighede van die Franse vlugtelinge Pierre, Abraham en Jacob de Villiers met die versoek dat hulle alle moontlike ondersteuning moes kry. Daar is sterk bewyse dat hulle geboorteplek eerder Boergondië was as La Rochelle, soos in die VOC -rekords gemeld word. Hulle gee die plase wat hulle in 1694 ontvang Boergondiese name: Champagne, La Brie en Bourgogne.
Die De Villiers-broers was duidelik geletterd - amper tot dieselfde vlak as Pierre Simond. Hulle het ’n sleutelrol in kerksake gespeel - al drie het as ouderlinge of diakens in die Drakenstein -gemeente gedien. Abraham (saam met mede-ouderlinge Jacques de Savoy, Daniel de Ruelle en Louis Cordier) was ondertekenaars van Pierre Simond se versoek van 1689 om ’n outonome gemeente in Drakenstein te stig.
In 1703 het hy weer (met mede-ouderlinge François Dutoit, Abraham Vivier en Daniel Hugot) Beck se versoek ondersteun om Franse eredienste in Drakenstein weer in te stel omdat "uit 116 volwassenes slegs 25 ’n preek in Nederlands kon volg".
Tydens die burgeropstand teen Wilhem Adriaen van der Stel onderteken Pierre die petisie teen Van der Stel, terwyl Jacob en Abraham Van der Stel ondersteun. Abraham het daarna erken dat hy dit gedoen het “uijt swakheijt, en ten dele uit vreeze” weens intimidasie deur Landdros Starrenburg.
Die drie het welvarende en gerespekteerde burgers geword. Abraham en Jakob trou met die Gardiol-susters, Suzanne en Marguerite, en Pierre trou met Marie Elizabeth Taillefert. Lede van die Suid-Afrikaanse de Villiers-familie kan hulle afkoms terugvoer na óf Pierre en Marie Elizabeth (Taillefert) óf na Jacob en Marguerite (Gardiol). Abraham het geen seuns gehad nie.
Die De Villiers-familie het ’n groot bydrae in Suid -Afrika gelewer, veral op die gebied van die regswese. Tussen 1828 en 2007 het elf lede van hierdie familie as gedien as regters in die kolonies van die Kaap en Natal, die Boererepublieke van Transvaal en die Oranje -Vrystaat, en nog later, die Unie en Republiek van Suid-Afrika. Daar was vir die periode 122 jaar tussen 1873 (toe lord Henry de Villiers aangestel is as hoofregter van die Kaapse hooggeregshof) en 2005, toe regter IWB de Villiers uittree as regter van die hooggeregshof in Transvaal, altyd ten minste een De Villiers op die regbank in Suid-Afrika. Drie van hierdie De Villiers-regters was hoofregter, die bekendste was Lord Henry de Villiers, hoofregter van die Kaap van 1873 tot 1910. In 1910 word hy die eerste hoofregter van die Unie van Suid-Afrika.
Christoffel Coetzee de Villiers (1851-1887), wat die Geslachtregister der oude Kaapsche familien in 1882 gepubliseer het, word beskou as die vader van die Suid-Afrikaanse genealogie.
Die De Villiers-familie het ook van Suid -Afrika se beste sportlui opgelewer. Die meeste van hulle is afstammelinge van Jacob en Marguerite se jongste seun, Jean (1717–1798) en Elizabeth Joubert (1721–1761), sy niggie. Tussen 1891 en 2007 het sewe De Villierse internasionale rugby vir Suid-Afrika gespeel. Jean de Villiers, wat in 2002 sy debuut teen Frankryk gemaak het, het nie net die kaptein van die Springbok-span geword nie, maar was teen sy uittrede in 2015 een van die spelers wat die Springboktrui die meeste kere gedra het. In 2008 is Peter de Villiers as afrigter van die Springbok -rugbyspan aangestel. In krieket het die De Villiers-familie ook internasionaal bekende spelers soos Fanie en AB De Villiers opgelewer.
Du Buisson
David du Buisson se naam verskyn vir die eerste keer in 1703 op die opgaafrolle aan die Kaap. Alhoewel hy uit La Rochelle afkomstig was, het hy moontlik nie om godsdienstige redes Frankryk verlaat nie. Hy was egter volledig deel van die Franse gemeenskap aan die Kaap en het tot 1714 in die Drakenstein gewoon.
Vir sy tyd het hy buitengewoon goeie skryfvaardighede gehad en hy was leermeester vir Pierre Jaubert se kinders.
David het sterk standpunt ingeneem teen WA van der Stel. Hy was een van die twee tamboerslaners (die ander was Nicolas Labatte) van die Drakensteinse Infanterie, “een sterke Troup manschap”, wat Starrenberg as “van de quaad aardige soort” beskryf het. Voor die huis van die grofsmid, Hans Jacob Conterman, was daar “een menigte volk [wat] Rondom den Trommel danssen”. Toe hulle versoek is om die tamboerslanery te staak, het een van die Drakensteinse tamboerslaners geantwoord “dat hij geen duijts [Nederlands] verstond”.
In Augustus 1707 trou David met die 17-jarige Claudine Lombard (gebore in 1690), dogter van Pierre Lombard en Marie Couteau. Hulle het vyf kinders, vier seuns en een dogter gehad. Jean (Jan), wat getroud is met Marie Cronjé (dogter van die Hugenote-egpaar Pierre Cronier en Suzanne Taillefert), was die enigste van hul kinders wat die naam Du Buisson voortgesit het.
De Bus (De Buys, Buys)
Jean De Bus is in Mark (Marck) naby Calais gebore. Hy het in 1688 as landbouer aan boord die Oosterland aan die Kaap aan wal gegaan. Alhoewel hy sy naam as Jean Debus onderteken het, het hy gou bekend gestaan as Jan Buys. Daar moet op gelet word dat die De Buys en Buys afstammelinge van Jean De Bus nie verwant is aan die meerderheid Buyse in Suid -Afrika nie. Hulle stam af van óf Barend Buys van Braunschweig wat in 1715 aan die Kaap aangekom het óf van die Du Bois-familie, wat afstammelinge is van Gustave du Bois wat in 1839 aangekom het.
Jean ontvang twee plase, Palmietvlei in 1694 en Knolle Vallei in 1704. Weens Jean se teenkanting teen WA van der Stel, het Landdros Starrenberg gedreig om die plase te konfiskeer. Jan moes twintig jaar wag om die titelakte aan Palmietvlei te ontvang.
In 1700 trou Jean met Sara Jacob, die 23-jarige dogter van Pierre Jacob en Suzanne de Vos. Sara was die weduwee van Daniel Terrier (met wie sy op die ouderdom van net 15 getrou het) en sy het vier jong kinders uit die huwelik met Terrier gehad. Die Jacob-familie kom uit Oude Kerke (Vieille-Église), nie ver van Marck nie, ’n gebied waar Wes-Vlaamse dialekte gepraat word. Die Jacobs het vier kinders, twee seuns en twee dogters, gehad. Van hulle twee seuns sou net Jean de Bus jr. seunskinders hê . Hy is met Elsje Hoffman, die dogter van die Duitse setlaar, Johannes Hoffman en Maria Louisa, ’n Kaapse bruin vrou. Toe Jean jr. in 1779 te sterwe kom, was hy woonagtig op die plaas De Bergfontein naby die Attakwas-olifantpad in die Kammanassie-berge in die Klein Karoo. Sy afstammelinge het hulle verder as die oostelike en noordelike grense van die kolonie gevestig. Een van hulle was sy kleinseun, Coenraad de Buys (1761-1821).
Hy was ’n reus van ’n man, wat om die beurt ’n avonturier, olifantjagter, grensboer, voëlvryverklaarde, uitgeworpene, rebel, beredderaar en tolk was. Die negentiende-eeuse ontdekkingsreisiger, Henry Lichtenstein, wat Coenraad persoonlik ontmoet het, beskryf De Buys in sy Reise in Suider-Afrika, 1803-1805: "Sy buitengewone lengte, want hy was amper sewe voet, sy sterk en goed gevormde ledemate, sy trotse houding, sy selfversekerde blik, sy hoë voorkop, sy algehele voorkoms en ’n bepaalde waardigheid van sy bewegings, het ’n baie aangename indruk gelaat. Dit is hoe ’n mens die helde van die antieke tyd sou voorstel; sy voorkoms was soos die lewende figuur van ’n Hercules, die verskrikking van sy vyande, die hoop en steun van sy vriende. "
In 1785 verlaat De Buys sy familiewoning in die Langkloof en vestig hom naby die Boesmansrivier in die Zuurveld saam met Maria van der Horst, ’n vrou van gemengde slawe- en Khoi-Khoi-afkoms, by wie hy sewe kinders gehad het. Hy het gereeld die Visrivier oorgesteek en beeste van die Xhosas gebuit. De Buys het in botsing gekom met Langa, ’n Xhosa -hoof van die Zuurveld (Oos-Kaap), wat De Buys daarvan beskuldig het dat hy op sy vrou en sy beeste beslag gelê het. Daarenteen het daar ’n hegte vriendskap tussen hom en die magtige Xhosa-hoof, Ngqika, ontstaan. De Buys het Ngqika se hoofraadgewer geword. Hy het ’n verhouding met Ngqika se ma gehad en het later ’n Thembu-vrou, Elizabeth, geneem en baie kinders by haar gehad. Gedurende hierdie tydperk was De Buys een van baie mense wat hulle aan die kant van die Xhosa teen die Boere en daarna teen die Britte in ’n reeks grensoorloë geskaar het. De Buys het ook ’n strooptog in die huidige KwaZulu-Natal uitgevoer.
Teen die 1790's was daar ’n prys op sy kop weens onwettige handel en wapensmokkelary langs die Groot Visrivier. In 1803 verleen goewerneur Janssens kwytskelding aan De Buys en ander verraaiers, sodat De Buys na die Kaapkolonie terugkeer. Hy was vlot in Nederlands, Engels en isiXhosa en het as tolk en fasiliteerder tussen die owerhede en verskillende Xhosa-stamme opgetree. In 1813 het hy sy met sy gesin, bediendes en sy Khoi-Khoi-, Oorlams- en Baster-volgelinge noordwaarts oor die Garieprivier (Oranjerivier) getrek. In Transoranje (nou bekend as Vrystaat) was hulle betrokke by diefstal van vee van swart stamme, Europese setlaars en sendelinge. In 1818 het Landdros Andries Stockenstrom ’n beloning uitgeloof vir sy inhegtenisneming, sodat De Buys dieper die binneland ingetrek het. Hier het sy uitgebreide familie en bondgenote militêre dienste aangebied vir sommige Sotho-hoofmanne en óf klopjagte uitgevoer óf handel gedryf met ander. Hulle het na bewering ook met die Portugese in Mosambiek handel gedryf.
In 1820 trek hy noord na die Limpopo-vallei waar die Tsongo en Afro-Portugese ivoor verskaf het, in ruil vir kruit. Met Elizabeth se dood in 1821, vertrek die erg ontstelde De Buys na Mosambiek. Hy het sy seuns opdrag gegee om vir hom by die Limpoporivier in te wag, maar hy het nooit weer teruggekeer nie. Sy uitgebreide gemengde ras-gesin in die omgewing van Louis Trichardt in die Soutpansberg het bekend geraak as die Buysvolk. Sy dade is bekend van vertellings en oorlewerings van die inheemse bevolking en ook die koloniale rekords van dié tyd. Willem Anker se roman, "Buys: 'n Grensroman", is gebaseer op die lewe en legendes rondom Coenraad de Buys, en is in 2015 met die Hertzogprys bekroon.
Die Buysvolk is lidmate van die NG Kerk en Afrikaans is hul moedertaal.
Duplesis (Du Plessis)
Jean-Prieur Duplesis is in 1638 in Poitiers in die Poitou-Charente-streek van Frankryk gebore. Volgens die Koninklike Verorderinge van die 1680’s kon hy, as lidmaat van die Hervormde geloof (La Religion Pretendué Reformée), nie meer as barbier-sjirurgyn praktiseer nie.
In 1681 het dit nog meer ondraaglik geraak toe die eerste dragonnades die Poitou-distrik geteiken het. Jean-Prieur het Frankryk verlaat vóór die herroeping van die Edik van Nantes. In 1687 bereik hy die eiland van Sint Christopher, waarskynlik via die Nederlandse Republiek, aangesien Nederland ’n monopolie oor handel met hierdie eilande gehad het. In Junie 1687 trou hy Madeleine Menanteau op die naburige eiland, Sint Thomas. Sy was, soos hy, ook ’n boorling van Poitiers. Hulle het kort ná hulle huwelik teruggekeer na Nederland. Op 29 Januarie 1688 vertrek hulle van Wielingen aan boord van die Zeelandse Kamer se skip, die Oosterland. Hulle baba-seuntjie, Charles, wat ter see gebore is op 18 April 1688 op die skip gedoop. Die familie het sewe dae later by die Kaap aangekom.
Duplesis en sy gesin het hulle op Stellenbosch gevestig, waar hy as barbier-sjirurgyn en deeltydse boer gewerk het. Omdat hy nie sy gesin kon onderhou nie, het hy toestemming gevra om na Europa terug te keer wanneer hy die einde van sy kontraktyd bereik. Die VOC het uitstel verleen vir die betaling van die passasie. Die gesin het op 12 Junie aan boord die Sirjansland vertrek na Veere in Zeeland.
Hierná is inligting oor die Duplesis-gesin is fragmentaries. Hulle dogter Judith is in 1694 in Ierland gebore. Twee jaar later was hy ’n wewenaar in Amsterdam en verloof aan Rachel Noël. Die verlowing is ’n week later deur albei partye verbreek en ’n week daarna raak die 62-jarige Jean-Prieur verloof aan die 22-jarige Marie Buisset. Hulle is die volgende week getroud.
Om en by 1702 keer Duplesis terug na die Kaap en die egpaar vestig hulle in die Banghoek-vallei by Stellenbosch. Hy kom ses jaar later te sterwe op 7 Desember 1708 op die ouderdom van 70. Hy het ses kinders gehad – drie by sy eerste vrou, Madeleine Menanteau, en drie by sy tweede vrou, Marie Buisset. Met sy dood was sy oudste seun Charl 20 jaar oud en Pieter, sy jongste, was 11 maande oud. Dit was Jean nie beskore om enige van sy 42 kleinkinders te sien nie. Charl is deur sy vader opgelei as ’n barbier-sjirurgyn en hy het aan die Kaap en in die Drakenstein van 1712 tot sy dood in 1737 praktiseer.
Maria Buisset, ’n gekwalifiseerde vroedvrou, was die eerste vrou wat ’n lykskouing aan die Kaap uitgevoer het. Ná haar man se dood het sy aanhou boer en praktiseer as vroedvrou . Van die eerste voorwerpe wat sy op ’n veiling gekoop het was twee pistole met houers en ammunisie. Sy was bekend daarvoor dat sy alle pasiënte op gelyke voet hanteer het en onverskrokke forensiese verslae met ’n selfversekerde handskrif geskryf het. Sy het selfs soms siek slawe te perd huis toe geneem. In 1711 hertrou sy met die barbier-sjirurgyn, Dietrich Schnitt. Sy het hom bekwaam bygestaan as ’n informele mediese praktisyn.
Deesdae is die Du Plessis-familie baie uitgebreid. Onder die prominente afstammelinge word van teoloë tot sportlui en sakeleiers gevind. Professor Johannes du Plessis (1868–1935), ’n teoloog, sendeling en geordende predikant in die Nederduits-Gereformeerde kerk het sy pos as professor by Stellenbosch verloor toe hy van godslastering aangekla is. Hy het voortgegaan en gehelp om die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings, ’n wyd-gerespekteerde navorsingsinstansie, te stig.
Verskeie lede van die Du Plessis-familie het uitgestyg op die gebied van die kunste, insluitende Hubert du Plessis, komponis van die Hugenote-cantata, Enslin du Plessis, die bekende kunstenaar en ID du Plessis, die digter en skrywer.
Felix du Plessis was die Springbok-kaptein in 1949. In die 1970’s, was sy seun, Morné du Plessis een van die mees suksesvolle kapteins op internasionale vlak. Elf Du Plessis’s het toetsrugby vir Suid-Afrika gespeel.
In 2018 was Francois (Faf) du Plessis die krieketkaptein vir die Proteas.
Durand (Durand, Du Rand, Du Randt)
Jean Durand (1666–1727), 'n barbier-sjirurgyn uit die klein dorpie La Motte-Chalancon in die Auvergne-Rhône-Alpes-streek van die Drôme-distrik, arriveer in Januarie 1689 aan die Kaap. Hy het vermoedelik in 1687 uit Frankryk gevlug en het hulp ontvang in Genève en in Schaffhausen en arriveer in Amsterdam. In Augustus 1688 verlaat hy Texel aan boord van die Wapen van Alkmaar en bereik die Kaap in Januarie 1689.
In 1690 word Durand en die Waal, Jean Parisel mede-eienaars van die plaas Bergen Henegouwe in Simondium. Parisel was afkomstig uit die dorp Willebeek, naby Mons (Bergen) in die provinsie Henegouwen (Hainaut) in Wallonië. Met Parisel se afsterwe in 1710, word Jean die enigste eienaar van Bergen Henegouwe. 'n Jaar later verkoop hy dit aan Matthys Michelsz. Met die afsterwe van Marie Vitu in 1711 koop Jean Durand die plaas Frederiksberg en 'n aangrensende stuk grond uit haar landgoed en hy noem die nuwe plaas La Motte, na sy geboorteplek in die Drôme. (Op hierdie stadium was daar drie La Motte Hugenote-plase, vernoem na drie verskillende La Motte-dorpe in Frankryk.) Dit wil voorkom asof kontak tussen Jean en sy ouers in Frankryk gehandhaaf is, want hy was die erfgenaam toe sy moeder in 1704 sterf.
In 1702 trou Jean Durand met die 16-jarige Anna Vermeulen (1686–1713), dogter van Jan Vermeulen van Utrecht en Catharina Opklim, dogter van die Indiese slavin Cathrijn van Bengale. Die egpaar het ’n hoë premie geplaas op die opvoeding van hulle kinders en bepaal in hulle testament van 1707 dat die langslewende huweliksmaat moet voorsorg tref om hulle kinders in “in alle Christelijke deugden te educeeren en opvoeden tot jare mondige dae”. Die sieklike Anna sterf kinderloos in 1713. Jean se tweede huwelik was met Wilhelmina van Zijl, die 18-jarige dogter van sy buurman, Willem van Zijl. Jean en Wilhelmina het ses kinders gehad, vier dogters en twee seuns, Jan en Jonathan, wat die stamvaders van die Durands in Suid-Afrika sou word.
’n Bekende afstammeling van die Durands is die Switserse tennisster Roger Federer wat herhaaldelik gekroon is Wimbledon- en Grand Slam-kampioen. Sy ma, Lynette Durand, het aan die Oos-Rand naby Johannesburg groot geword. Ander sportsterre is die rugbyvoorspelers, Salty (Jacobus) du Rand wat die Suid-Afrikaanse nasionale span (Springbokke) in 1956 aangevoer het, en Os (ook Jacobus) du Randt wat lid van die Springbokspanne was wat die Wêreldbeker-rugbytoernooie in 1995 en 2007 gewen het. Op akademiese gebied het die skrywer, teoloog en filosoof, JJ (Jaap) Durand, 'n wesenlike bydrae gelewer tot die intellektuele gesprek in Suid-Afrika en hy het verskeie eredoktorsgrade ontvang. Tydens die apartheidsregime was hy 'n sterk en skerp kritikus van pogings om rasseskeiding in Suid-Afrika te regverdig, in die praktyk en ook teologies.
Dutoit (Du Toit)
Aangesien Guillaume en sy vrou, Sara Cochet, nie seuns gehad het nie, was François en Suzanne Seugnet, met vier seuns en ses dogters, die stamouers van die Du Toit-familie in Suid -Afrika.
Dominee Stephanus Jacobus du Toit (1847–1911), gebore te De Kleine Bos, was 'n joernalis en politikus. Hy hom beywer vir die bevordering van Afrikaans. In 1875 het hy die Genootskap van Regte Afrikaners help stig om die Afrikaanse taal, volk en land te bevorder. Hy publiseer 'n maandelikse joernaal en begin gou werk aan 'n woordeboek en grammatikale reëls. In 1876 het hy die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot gestig en met die vertaling van die Bybel in Afrikaans begin. In 1883 word die Gedenkschool der Hugenoten as "'n lewende monument vir Afrikaans en moedertaal-onderrig" ingewy, as resultaat van sy veldtog vir 'n monument as 200-jarige herdenking van die van die aankoms van die Kaapse Hugenote.
Daniël François du Toit (1853 – 1918), sy broer, het 'n belangrike rol gespeel in die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners en was die redakteur van Die Afrikaanse Patriot. Stephanus se seun, Jacob Daniël du Toit (1877–1953), beter bekend onder die skuilnaam Totius, was 'n belangrike Afrikaanse digter geword, net soos twee van sy klasmaats van 1890 aan die Gedenkschool, AG Visser en DF Malherbe.
Dr. Alexander Logie du Toit (1878–1948), studeer aan die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Glasgow en word 'n prominente Suid-Afrikaanse geoloog. Hy was die eerste wetenskaplike wat die teorie van twee superkontinente wat deur een oseaan geskei is, voorgestel het. Meer onlangs het Natalie du Toit 'n nasionale held geword toe sy twee goue medaljes op die Paralimpiese Spele in 2004 sowel as by die Statebondspele verower het. Sy was die derde atleet met ’n amputasie wat ooit vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het. Sy het sestiende in die 10 km swem-marathon gekom.
F - K
Faure
Antoine (Alexandre) Faure het op 24 Maart 1714 aan boord van die Kockengen na die Kaap gekom, nie as 'n vlugteling nie, maar as 'n werknemer van die VOC. In teenstelling met baie van die ander Hugenote-aankomelinge aan die Kaap, was hy goed geletterd.
Antoine is in 1685 in die klein Prinsdom van Orange gebore. Sy ouers het in 1686 noodgedwonge hulle tuiste verlaat om van Louis XIV se troepe te ontsnap en het hulle in die stad Borculo in Gelderland in die Oos- Nederland gevestig. Daar word vermoed dat sy vader daar as poortwagter van die kasteel gewerk het en dat Antoine moontlik sy opvoeding saam met die kinders van die offisiere in die kasteel ontvang het. Toe hulle geboortedorp in 1697 aan Willem III terugbesorg word, keer hulle terug na hulle tuiste.
Toe 150 Franse dragonders weer in 1703 die stad binneval, het Protestante geen ander keuse gehad as om óf hulle geloof af te sweer óf weer op die vlug te slaan nie. Antoine vlug na Berlyn en word daar ’n leerling-sjirurgyn en sluit in 1707 by een van Frederik van Pruise se regimente aan. Hy aanvaar ʼn administratiewe pos aan die Kaap vir ’n vyf jaar termyn.
Aan die Kaap werk hy as klerk, maar hy word na agtiende maande bevorder tot Bode van die Weeskamer. Op 30 Augustus 1716 trou hy in Kaapstad met Rachel de Villiers en in Februarie 1718 word hy vryburger. Sy goeie karaktereienskappe en sy vaardighede het hom goed te staan gekom en hy word aangestel as skoolmeester, kantor en voorleser vir die Stellenbosse gemeente, poste wat hy tot sy dood in 1736 sou beklee.
Hy en Rachel het sewe kinders gehad, maar slegs hul eersgeborene, Abraham, het kinders gehad. Abraham en Anna Maria Wium, sy vrou, het sewe kinders gehad. Abraham was netsoos sy vader ’n skoolmeester en hy was voorleser in die kerk tot hy in 1761 sekretaris van die landdros en die raad geword het. Hy beklee hierdie posisie tot en met sy aftrede in 1784. Minstens vier van Abraham se kleinkinders het in Europa gaan studeer — iets buitengewoons vir destyds.
Abraham Faure, agterkleinseun van Antoine, is op 29 Augustus 1795 in Stellenbosch gebore. Faure, wat 'n NG predikant geword het, het 'n belangrike bydrae gelewer tot die behoud van die kultuur van die Nederlandstalige koloniste. Hy stig in 1831 die Zuid-Afrikaansch Tractaat en Boek Genootschap om letterkunde te bevorder. Hy was die stigter, redakteur en uitgewer van die maandblad, Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (1824-43), die eerste kerktydskrif, De Honigbij (1838-46), en De Gereformeerde Kerkbode. Saam met NJ Hofmeyr en John Murray stig hy in 1853 die Zuid-Afrikaansche Christelijke Boeken Vereeniging.
In 1829 begin hy die Zuid-Afrikaansch Athenaeum in Kaapstad, waar hy in klassieke tale doseer en help om die eerste opleidingskollege vir onderwysers in 1849 en die Teologiese Kweeksool op Stellenbosch in 1859 te vestig. In 1862 ontvang 'n eredoktorsgraad van Rutgers Universiteit.
Foucher (Fouché)
Al die Fouchés in Suid-Afrika is afstammelinge van Philippe Foucher en Anne Souchay, wat in 1688 saam met hul drie kinders aan boord die Voorschoten aan die Kaap geland het. Phillippe se ouers was Bernard Foucher (1617–1674) en Anne Bruère. Hulle was landbouers uit La Bruslée naby Suèvres, tussen Mer en Blois. Kort voor haar vertrek, trou Esther Foucher (waarskynlik 'n niggie of suster van Philippe) in Delft met 'n mede-vlugteling Jacques Pinard. Saam met Philippe Foucher op die Voorschoten was sy neef, Estienne Bruère, en Jean en Gabriel Le Roux, afkomstig uit die dorpe Blois en Mer aan die Loire.
Steven was die enigste seun van Philippe en Anne wat manlike afstammelinge gehad het. Hy trou in 1720 met Maria Olivier en werk as 'n handlanger (knecht) vir sy swaer Louis Le Riche. In 1732 ontvang hy 'n weilisensie vir De Knolle Valleij in die Land van Waveren, 'n plaas wat voorheen aan André Gauche (Gouws) behoort het. Onder sy afstammelinge is daar onder andere die tweede Suid-Afrikaanse Staatspresident (van 1968 tot 1974), Jacobus Johannes (Jim) Fouché (1898–1980) en ook die historikus Leo Fouché (1880–1949), onder wie se direksie die dagboek van Adam Tas gestaan het. Dié boek beskryf die bewind van Adam Tas en die stryd teen die korrupte regime van goewerneur WA van der Stel.
Fourié (Fourie)
Louis Fourié (Faurite) het in 1689 vanaf Pontaix in Dauphiné aan die Kaap gearriveer. Hy trou in 1694 met Suzanne Cordier uit die streek Orléanais. Ná haar dood trou hy in 1716 met Anne Jourdan wat 18 jaar oud was — drie jaar jonger as sy oudste dogter. Louis was die vader van 21 kinders: tien (ses dogters en vier seuns) is uit sy eerste huwelik en elf (vier dogters en sewe seuns) uit sy tweede huwelik. In 1699 word die plaas De Slange Rivier in Wagenmakersvallei aan Louis toegeken. Teen 1707 was daar 'n klein Franse kolonie van 19 volwassenes en verskeie kinders op die aangrensende plase. Die volwasse pare was: Louis Fourié en Suzanne Cordier; Philippe des Prés en Elisabeth Prévost; Charles Marais en Anne de Ruelle; Claude Marais en Marie Avice; Hercule Verdeau en Marie-Catherine Wibau (Huibeaux); Louis Le Riche en Marie Grillon; en Pierre Cronier en Suzanne Taillefert (weduwee van Jean Gardé). Die vier Franse vrygeselle was Phillipe Drouin, Estienne Cronier, Jean Duthuilé (Jean van het Tichelje) en Philippe Mesnard.
Louis het die streek oorkant die berge van die Kaap (die Overberg) en die Suid -Kaap leer ken toe goewerneur van Assenberg aan hom 'n lisensie toegeken het om daar te jag. As gevolg van sy sukses as jagter, ontvang hy Zeekoedrift, 'n leenplaas aan die Gouritzrivier. Al sy seuns vestig hulle in die distrikte Overberg en Swellendam. Net soos in die geval van baie ander Hugenote-families, het van sy afstammelinge aan die Groot Trek deelgeneem. Hermanus Fourie was een van die Voortrekkers wat saam met Piet Retief deur Dingaan se krygers vermoor is.
Josef Johannes (Jopie) Fourie (1878-1914), 'n verkenner en rapportryer tydens die Anglo-Boere-oorlog, het ’n groot rol gespeel om die aandag te vestig op Afrikanernasionalisme. Met begin van die Eerste Wêreldoorlog het hy 'n groep burgers gemobiliseer teen die regeringsmagte van die Unie in ’n aanslag wat bekend staan as die rebellie van 1914. Die rebelle wou die ou Boererepublieke weer instel en was gekant teen regeringsteun vir die Britte teen Duitsland. Fourie en sy broer Hannes is op 16 Desember 1914 gevange geneem. ’n Afvaardiging van Afrikaners, wat die toekomstige premier, DF (Daniël François) Malan, ingesluit het, het die minister van verdediging, generaal Smuts, tevergeefs om begenadiging versoek. Fourie is op 20 Desember 1914 (op Fourie se versoek sonder die gebruiklike blinddoek) tereggestel. Die besluit van Smuts het van Fourie 'n volksheld onder baie Afrikanernasionaliste gemaak het en het bygedra tot Smuts se ongewildheid onder Afrikaners.
Gauche (Gouws)
André Gauche van Le Pont-de-Montvert in die Cévennes-berge van Languedoc het waarskynlik sy tuisdorp in die vroeë 1680's verlaat. Hy trou in 1683 in Celigny, Switserland met Jacqueline Decré. Van daar is hulle via Frankfurt na Amsterdam. In 1690 word hulle dogter, Marie, gebore. In November van dieselfde jaar vertrek die Gauche-gesin uit Texel aan boord van die VOC-fluitskip, die Spierdijk na die Kaap die Goeie Hoop. Slegs André en sy jong seun het die vaart oorleef en hulle bereik die Kaap in April 1691. In Augustus van dieselfde jaar trou Andre met die 15-jarige Jannetje de Klerk (Jeanne le Clercq), dogter van Sara Cochet uit Zeeland en die stiefdogter van Guillaume du Toit. (“Den 19 Augusti. Sijn ini den huijwelijken staedt aen Stellenbosch vereenigt Andre Goosche uijt Langedok weduwenaer ende borger alhier, met Joanna de Klerk van Zeelandt jonge dogter”.) (Richard Ball, Norfolk, http://www.e-family.co.za/ffy/g5/p5222.htm)]
Gauche het 'n smid en deeltydse boer in Drakenstein geword. Op 26 Februarie 1698 is hy vermoor deur drie keer teen die kop geslaan te word. Daar is goeie rede om te glo dat die oortreder 'n Duitse vryburger was, Peter Becker, met die medepligtigheid van Jannetje. Binne maande na die moord op haar eerste man, trou sy met Becker en het 'n kind by hom.
Becker, 'n geweldenaar, is in 1701 tot dwangarbeid gevonnis en na Mauritius verban. Jannetje de Klerk is op 81-jarige ouderdom oorlede, vermoedelik op haar leenplaas Straatskerk (vernoem na Straaskerk, haar geboorteplek in Zeeland) in die Roodezand -distrik.
Baie Gouws (Gous)-families in Suid -Afrika is nie afstammelinge van André Gauche nie, maar van 'n aangenome seun, Carel Eduard Alexander Faculyn (gebore 1782 in Elsas, Frankryk), wat bekend geword het as Andries Stephanus Faculyn Gous.
Grange (La Grange)
Pierre Grange het sy tuisdorp Cabrières d'Aigues ná die herroeping van die Edik van Nantes verlaat. Grange en sy neef, die messelaar Louis Courbon, het soos ander protestantse vlugtelinge uit die Luberon, ontsnap deur die Alpe in die Switserse kantons oor te steek. Vandaar is hulle noordwaarts al met die Rynvallei langs na Frankfurt, waar hulle Pierre Goirand en sy vrou François Roux ontmoet het. Pierre en Francois is albei dood tydens die reis na die Kaap. Hulle swaarkry word weerspieël deur die feit dat Louis Courbon geen skoene gehad het nie. Beide Pierre en sy neef het die noodlottige vaart met die China oorleef. Nie een van die twee het boere aan die Kaap geword nie, maar het as messelaars gewerk. Pierre het ook saam met die Jourdan-broers, Pierre Rousseau en Matthieu Amiel, by die ruil vir vee by die Khoi-Khoi betrokke geraak. Dit het soms gevolge gehad: Pierre Rousseau, byvoorbeeld, is gevonnis om geslaan te word en om “3 jaar in de kettingh” deur te bring.
Grange het 'n eiendom in Tafelvallei (hoek van die huidige Wale- en Langstraat) gekoop waar sy bure die vrygelate slawe Jacob van Coromandel en Jacob Cornelisz van Malabar was. In Desember 1704 trou hy met Margaretha Kool uit Amsterdam. Die egpaar het drie kinders gehad: Pieter, Margaretha en Johannes — wat die La Grange-naam voortgesit het.
Guillaumet (Giliomee, Guillaumé)
François Guillaumé (Giliomee), 'n Hugenote -kleremaker uit Berlyn wat as kind die Languedoc verlaat het, en sy gesin het na die Kaap gekom om 'n sybedryf te begin. Die projek het misluk as gevolg van probleme met die verbouing van moerbeibome en die uitbroei van sywurm-eiers. In 1732 laat vaar hy die projek en word 'n vryburger in Stellenbosch. Sy seun Matthieu het nog 'n paar jaar met die projek aangehou voordat hy grofsmid en kleinboer op Vlottenburg, Stellenbosch, geword het.
Hermann Giliomee, professor in politieke studies aan die Universiteit van Kaapstad en buitengewone professor in geskiedenis aan Stellenbosch Universiteit, is Suid-Afrika se voorste skrywer van werke oor die geskiedenis en die politiek van die vroeë 21ste eeu. Hy is die ontvanger van verskeie literêre toekennings en 'n kampvegter vir Afrikaans. Hy is veral bekend vir sy boek Die Afrikaners: 'n Biografie [The Afrikaners - Biography of a People (2003)].
Hugot (Hugo)
Daniel Hugot is in Serzy-les-Maupas, Champagne gebore, waar sy pa Jacques 'n kleinhandelaar was. Daniel se broer, Jacques, het na Duitsland uitgewyk. Daniel het sy vakleerlingskap as grofsmid en slotmaker in die nabygeleë stad Monthelon voltooi. Die dragonnades van 1682 het veroorsaak dat die Hugo-familie hoofsaaklik deur Switserland en Duitsland verstrooi is. Daniel arriveer op 12 Mei 1688 aan die Kaap op die Borsenburg en begin as smid in Stellenbosch werk, totdat Sion, 'n plaas in Groot-Drakenstein (Simondium), in 1691 aan hom toegeken word. Teen die einde van 1704, trou hy op die ouderdom van 45 met die 15-jarige Anne Rousseau, dogter van Pierre Rousseau en Anne Rétif. Die egpaar het agt kinders gehad.
In 1708 koop Daniel die plaas Bethel in Drakenstein van Louis Cordier en bekom in 1716 ook De Leeuwenkuyl in die Swartland. Tussen 1720 en 1724 woon die gesin in Tafelvallei. Daniel kom in Februarie 1725 tot sterwe en in November van dieselfde jaar trou sy 30-jarige weduwee met die 39-jarige Jean Blignaut, wat twee jaar tevore deur Daniël as onderwyser vir sy kinders aangestel is.
Hugot was 'n kleurvolle karakter. In 1692 het die Stellenbosse boere by Landdros Linnes gekla dat Hugot nie hulle landbouwerktuie in stand hou soos wat hom verwag word nie. Toe Hugot versoek word om die aambeeld en die blaasbalk wat hy by die Kompanjie geleen het terug te besorg, wou hy nie gehoor gee nie. By 'n ander geleentheid is hy daarvan beskuldig dat hy die met die meulstroom se vloei gepeuter het.
Hugot en Hercule des Prés was ook in 1702, 1709 en 1717 in 'n reeks geskille betrokke wat gegaan het oor skade wat deur Hugot se beeste aan Des Prés se wingerd aangerig is, kwetsende beledigings deur Hugot tydens 'n vergadering van die landdros en heemrade en die diefstal van jong eikebome op Des Prés se plaas.
In 1713 is Hugot f25 beboet en hy is gedemoveer van vaandrig in die Drakenstein-burgermag tot gewone voetsoldaat op grond van ontduiking van militêre diens. Sy beroep om hersiening op grond van swak gesondheid is deur die Politieke Raad verwerp.
Ondanks al hierdie terugslae het Hugot se selfvertroue en charisma hom blykbaar goed te staan gekom, want hy is aangestel as lid van die Heemraad vir Stellenbosch. Hy was ook 'n suksesvolle boer. Na sy dood in 1724 is sy weduwee getroud met 'n skoolmeester, Jean Blignault.
Jacob (Jacobs)
Pierre Jacob, sy vrou Suzanne de Vos, hulle kinders Suzanne, Daniel en Sara van Vieille-Église (Oudekerke) in Artois het op 5 Junie 1688 by die Kaap aangekom. Hulle ander drie kinders is oorlede terwyl hulle nog in die Calaisis-streek van Vlaandere gewoon het. Die plaas Goede Hoop in Groot-Drakenstein is aan Pierre toegeken en volgens die opgaafrolle het hy min sukses as boer gehad. Vier jaar na Pierre se dood in 1693 trou Suzanne met Nicolas de Lanoy, van die buurplaas Bossendal. Nicolas was ook uit die Calaisis-streek en hy was 28 jaar jonger as Suzanne. Die Jacob-lyn word voortgesit deur die enigste seun van Suzanne, Daniel Jacob wat in 1702 met Louisa Cordier getroud is. Die egpaar het vyf kinders gehad. Die jongste was nog 'n baba toe Daniel in 1712 te sterwe kom. In 1714 trou Louisa met Jacques Pinard jr. Sy het nog sewe kinders in die lewe gebring en het 92 jaar oud geword.
Jaubert (Joubert)
Pierre en Isabeau Jaubert was waarskynlik die suksesvolste van die Hugenote-boere. Hulle ontvang die plaas La Provence in Oliphantshoek in 1694 en woon daar tot Pierre se dood in 1732. Hulle koop talle ander plase in Drakenstein en die Land van Waveren, waaronder die spogplase La Provence (1699), Bellinchamp (1700), La Motte-Wemmershoek (1709), Lormarins (1723), Winterhoek (1716), De Plaisante (1716) en La Roque (1732). Ten tyde van sy dood, 44 jaar na sy aankoms aan die Kaap, het hy en sy vrou 14 plase en 'n meenthuis aan die Kaap besit. Hulle het sewe tutors vir hul elf kinders in diens geneem; die eerste een was die VOC-soldaat Hans Pieter Coning, wat in 1699 'n kontrak onderteken het om vir 10 gulden en een pond tabak per maand te werk, en die laaste een Jan Loots, 'n VOC-matroos uit Amsterdam wat in 1726 met hulle dogter Marie getroud is. Isabeau het ten minste tien jaar ná Pierre se dood voortgegaan om te boer. Alhoewel die Jaubert-ouers 'n hoë ouderdom vir destyds bereik het (68 en 70), is sewe van hulle kinders voor die ouderdom van 50 oorlede.
Gideon Daniël Joubert, agter-agterkleinseun van Pierre Jaubert, het tussen 1822 en 1858 'n rol as bemiddelaar aan die Noord-Kaapse grens gespeel. Hy word deur die koloniale owerhede beskryf as “a Dutchman who . . . is highly respected by English, Dutch and the Coloured people, and has exposed himself to all sorts of hardships and dangers, and never fails to risk health, life and property in defence of his Queen’s country and fellow countrymen”. Hy was teen die Groot Trek gekant en het probeer om die Voortrekkers te oortuig om na die Kaapkolonie terug te keer. Bewus van die benarde posisie van die Voortrekkers in Natal, het hy fondsinsamelings in die kolonie van stapel gestuur.
Generaal Piet Joubert (1831–1900) was 'n jong kind tydens die Groot Trek. Hy het in die destydse Transvaal groot geword en word later lid van die Transvaalse Volksraad en dien as waarnemende president van die ZAR van 1875 tot 1876. Hy was bevelvoerder tydens die oorwinning tydens die Slag van Amajuba (26 Februarie 1881) in die Eerste Vryheidsoorlog. Sy vrou Suzanna was aan sy tydens die veldslag. Alhoewel Piet Joubert 'n vurige politieke teenstander van die Kruger-regering was, was hy kommandant-generaal van die Republikeinse magte tydens die uitbreek van die Anglo-Boere- oorlog van 1899-1902. Hy sterf in Maart 1900 en word opgevolg deur die bejaarde generaal Piet Cronjé, nog 'n Hugenote-afstammeling, wat hom by Paardekraal oorgegee het.
Elsabé Antoinette Murray (Elsa) Joubert, gebore in 1922 in die Paarl, is 'n internasionaal Afrikaanse skrywer. Haar roman, Die Swerfjare van Poppie Nongena, oor die ontberings van 'n eenvoudige swart vrou tydens apartheid het 'n groot impak op die Suid-Afrikaanse samelewing gehad. Haar roman Die Reise van Isobelle oor die lewe van 'n Afrikaner-gesin oor ’n tydperk van 100 jaar het haar die Eugène Marais- en Hertzog -pryse in 1997 besorg. In 2004 het sy die Orde van Ikhamanga (Silwer) ontvang vir haar bydrae tot Suid-Afrikaanse letterkunde en joernalistiek.
Jourdan (Jordaan)
Die geskiedenis van die Jourdans tydens die vlugtog wat aan die Kaap geëindig het, beklemtoon die rol van netwerke tussen familielede wat destyds in die Aigues-vallei van die Luberon bestaan het. Twee jaar nadat hulle die gereformeerde geloof in Oktober 1685 versaak het, het die Jourdans besluit om Frankryk te verlaat en hulle toevlug te soek in Nederland. Ander Luberon-gesinne, soos die Malans en Mesnards, het by hulle aangesluit. Onderweg het hulle hulp ontvang in Genève en in Frankfurt. Saam met ongeveer 35 ander vlugtelinge het hulle Goeree op 2 Maart 1688 aan boord van die China verlaat en op 4 Augustus in Tafelbaai aangekom. Die enigste Jourdans wat die reis oorleef het, was die broers Jean en Pierre van Belle Étoile, hulle wees-niggies Marie en Marguerite, en Pierre Jourdan van Cabrières d'Aigues (nie 'n familielid nie).
Aangrensende plase op 'n syrivier van die Bergrivier (vandag die Franschhoekrivier) in Oliphantshoek is aan Jean (Belle Étoile) en Pierre (Cabrières) toegeken. Jean trou met Isabeau Long, 'n medepassasier op die China, en noem sy plaas La Motte na haar plek van herkoms in Provence. Sy broer Pierre (Belle Étoile) vestig hom in Tafelvallei. Pierre (Cabrières), wat nie aan Jean verwant was nie, trou in 1697 met Anne Foucher van Suèvres aan die Loire-rivier en noem sy plaas Cabriere. Hulle het ses kinders gehad, maar daar was geen manlike afstammelinge in die eerste generasie nie. Alle Suid-Afrikaanse Jordaans is dus afstammelinge van Jean Jourdan. Die eerste paar geslagte Jordaans het in Stellenbosch en Drakenstein gewoon, en later in die Hexrivier-omgewing. Hulle nageslag het later na Swellendam en Graaff-Reinet en daarna verder die binneland in getrek.
L - M
Labuscaigne (Labuschagne)
Die stamvader van die Labuschagne-families in Suid-Afrika is Pierre Labuscaigne (1675–1742), wat in 1696 weggevlug het uit sy tuisdorp in Bergerac in Frankryk en in Amsterdam skuiling gesoek het. Hy was 'n kleremaker soos sy vader en oom. Dit is bekend dat hy teen Julie 1697 ’n lidmaat van die Waalse Gereformeerde gemeente in Amsterdam was. Hy verhuis na Enkhuizen waar hy Marie Anne Bacot (1679–1743) ontmoet en hulle trou in 1703. Marie Anne was uit Leeuwarden in Friesland afkomstig. Haar vader was ’n Fransman uit Tours en haar moeder was ’n Nederlander uit Groningen. Haar tweetaligheid het haar later aan die Kaap goed te staan gekom.
Die egpaar het drie kinders gehad: Jeanne Bernardine, Jean en François. François is jonk oorlede en dus stam alle Suid-Afrikaanse Labuschagnes van Jean af. Jeanne was die stammoeder van die Maritz-familie.
Pierre het in 1710 as tamboerslaner by die VOC aangesluit, waarskynlik as gevolg van die ekonomiese afswaai. In 1711 vertrek hy na Batavia, met die idee om met die retoervloot na sy vrou en kinders in Nederland terug te keer. Hy het egter so seesiek geword dat hy by die Kaap aan wal gesit is. Nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, het hy Jacob de Villiers se kinders op die plaas La Bri onderrig. Later was hy ook skoolmeester vir Pierre Jaubert se kinders op die plaas La Provence en daarna vir die kinders van Phillipe Mesnard op die plaas Calais.
Terwyl hy nog in diens van die VOC was, word hy in 1716 aangestel as koster in Drakenstein. Die plaaslike Hugenote-gemeenskap het hom 'n stuk grond gegee waarop hy ’n woning kon oprig. Kort daarna kon sy gesin uit Nederland by hom aansluit en het hy sy ontslag van die VOC ontvang.
In 1723 verleen die Politieke Raad aan hom amptelik eienaarskap van die grond waarop hy reeds sewe jaar lank gewoon het. Deur die toedoen van die gesin het die plaas ontwikkel tot 'n florerende wynplaas met die naam Pontac. Hy kom in 1742 te sterwe en Marie Anne in 1743. Hulle is waarskynlik in die Hugenote-begraafplaas in die Paarl begrawe.
Hulle afstammelinge het na die Oos-Kaapse grensgebied naby die huidige Cradock getrek. Hulle het in 1815 aan die Slagtersnek-rebellie teen die Britse owerhede deelgeneem. Ná 1836 het baie van die familie by die Groot Trek uit die Kaap na Natal, die Oranje-Vrystaat en die Transvaal aangesluit.
Le Clercq / De Clercq (De Klerk)
Die De Clercqs (aanvanklik Le Clercq) is afkomstig uit dorpe soos Lannoy en Aix in die noordelike provinsies van Frankryk. Hulle was van die eerste Protestantse gesinne uit Frankryk wat na die Suidelike Nederlande getrek het. Vanaf Brugge het hulle al in die 1570's na Zeeland in die Verenigde Provinsies verhuis om voortgesette godsdienstige vervolging vry te spring. Die Franse van Le Clercq het in Nederland verander na De Clercq en het later in Suid -Afrika redelik algemeen De Klerk geword.
Pierre (Pieter) de Clercq is in 1634 in die dorp Serooskerke, Walcheren Eiland, Zeeland, gebore. Die De Clercqs was toe al drie geslagte lank in Zeeland gevestig. Sy vrou, Sara Cochet, is in ongeveer 1655 in Oost-Souburg in Zeeland gebore. Die egpaar het vyf kinders gehad. Omdat hulle eerste seun, Abraham, in 1670 as ’n baba gesterf het, het hulle hulle derde seun weer Abraham genoem om die familienaam te behou. Abraham is in 1671 in Serooskerke, Walcheren, gebore en hy was die stamvader van die De Klerk-families in Suid -Afrika.
Op 29 Januarie 1688 vertrek Abraham de Clercq, vergesel van sy weduwee-moeder Sara Cochet, sy suster Jeanne (Jannetje )(geb. 1676) en broers Joost (geb. 1678) en moontlik ook Barendt (geb. 1674) aan boord die Oosterland vanaf Middelburg na die Kaap. Hulle gaan op 26 April 1688 aan land.
Sara Cochet, die weduwee van Pierre (Pieter) de Clercq (wat in Oktober 1678 oorlede is) is weer getroud met Guillaume Dutoit op 16 Mei 1688 - drie weke na haar aankoms aan die Kaap.
Joost trou in 1711 met Jacoba Campher op Stellenbosch. Hulle enigste seun, Barend, se huwelik was kinderloos. Jeanne (Jannetjie) was getroud met André Gauche, wie se eerste vrou Jacqueline Decré en dogter Marie in 1691 onderweg na die Kaap oorlede is. André word in 1698 vermoor en laat Jannetjie met vier klein kinders en haar stiefseun Steven agter. In dieselfde jaar trou sy met die geweldenaar Pieter Becker. Hy word tot vier jaar dwangarbeid op Robbeneiland gevonnis en uit die Kaap verban weens sy barbaarse behandeling van sy slawe. Jannetje skei van hom in 1715. ʼn Leenplaas in die Land van Waveren aan die noordoostelike grens van die kolonie word deur goewerneur Louis van Assenburgh aan die swanger Jannetje, die moeder van nege kinders (die oudste Pieter Gauche gebore in 1693), toegeken. Op grond van haar suksesvolle boerdery, ontvang sy die titelakte van die plaas, Straatkerk, vernoem na haar stad van herkoms (Serooskerke, ook bekend as Straatkerke).
Abraham het waarskynlik by sy stiefpa, Guillaume Dutoit, op Aan’t Pad gewerk. Na Dutoit se dood in 1710 verhuis Sara na 'n huis bo in Dorpstraat in Stellenbosch.
Abraham trou op 12 Mei 1709 in Stellenbosch met Madeleine Mouton (geb. 1692), die dogter van Jacques Mouton en Marie de Villiers. Uit die huwelik is twee dogters en sewe seuns gebore. Vroeër het hy 'n verhouding met Cornelia van de Caep (geb. 27 Maart 1672) gehad en uit die verhouding is 'n dogter, Anna de Clercq in 1703 gebore.
In Julie 1734 word Abraham op sy leenplaas Vogelvalleij in Roodezand besoek deur goewerneur Jan de la Fontaine en 'n groep vooraanstaande amptenare van die Kompanjie, vergesel van Kaapse burgers op pad na Mosselbaai. Getref deur die ontsaglike armoede van die 63-jarige Abraham en sy gesin, het die goewerneur besluit om Abraham eienaarskap van die plaas te gee. Die boerdery se titelakte verklaar Fontaine se vinnige besluit:
“Hoe wij aan den landbouwer Abraham de Clercq uijt insigt van desselfs armoede en de swaare familie waar meede deesen man belaaden is, soo als nu door den heer gouverneur op sijne rheijs na de Mosselbaai is ondervonden, derhalven op zijn gedaan versoek, en ten g’Errde goedkenning onser Heeren en Meesteren, aan hem vergund toegestaan ende gegeven hebben, gelijk wij hem volgens besluijt neenden in Raade genoomen vergunnen toestaan en geeven bij deesen secker veepost, door hem al veele jaaren in leening beseeten geweest, sijnde genaamd de Vogelvallij geleegen bij de Roode Sands Cloof . . .”] [(Fensham, Charles: Huguenot Bulletin, 1988, p.28)]
Abraham en Madeleine se seuns Barend (1716 - 1794) en Joseph (gebore 1726) het gesamentlik Vogelvalleij geërf, en hulle afstammelinge het die grond tot diep in die twintigste eeu besit.
Die trek van Abraham se kleinseun Barend (geb. 1742) ooswaarts is tipies van baie van die destydse boere. Hy en sy vrou Maria van Heyden en hul gesin verhuis van Tulbagh via Graaff Reinet na die Albert-distrik (huidige Burgersdorp). Een van hul seuns, Johannes Cornelis (1791 — 1878), trou met Martha Margaretha Schoeman en hulle boer op die plaas Spioenkop in die Burgersdorp distrik. Die voormalige staatspresident FW (Frederik Willem) de Klerk is 'n direkte afstammeling.
Frederik Willem (FW) de Klerk is in Johannesburg op 18 Maart 1936 gebore. Sy vader, Jan de Klerk, was 'n kabinetsminister en die president van die Suid-Afrikaanse senaat en sy broer, dr Willem (Wimpie) de Klerk, 'n predikant in die Gereformeerde Kerk, akademikus en koerantredakteur. Hy was een van die stigters van die Demokratiese Party wat teen die Nasionale Party se rassebeleid gekant was.
FW de Klerk het as prokureur praktiseer en het van 1961 tot 1972 'n aktiewe rol in die politiek van die Nasionale Party gespeel. Hy word in 1972 tot die parlement verkies en in 1985 tot staatspresident, nadat hy verskeie ministeriële poste beklee het. In 1989 hef hy die verbod op die ANC, die SAKP en die PAC op, ná 'n ontmoeting met Nelson Mandela, die gevange leier van die ANC, op 2 Februarie 1990. Op 11 Februarie word Mandela vrygelaat, en dit word gevolg deur onderhandelinge en 'n vreedsame oorgang na nie-rassige, demokratiese Suid-Afrika. In 1993 ontvang De Klerk en Mandela die Nobelprys vir Vrede vir hulle werk “vir die vreedsame beëindiging van die apartheidsregime en om die grondslag te lê vir 'n nuwe demokratiese Suid -Afrika.”
Le Long (de Lange)
Isabeau le Long was afkomstig van La Motte d'Aigues. In Oktober 1685 het sy, haar suster, Catherine, en hul ouers, Pierre Long en Jeanne Gouirand, die gereformeerde geloof afgesweer. Sy verlaat die Luberon in 1687 saam met die groot kontingent protestantse vlugtelinge wat na die Kaap gegaan het. Haar twee toekomstige mans, Jean Jourdan en Jacques Malan, albei van Saint-Martin-de-la-Brasque, was deel van die groep. Isabeau is nie saam met hulle na die Kaap nie, maar het blykbaar vier maande later vanaf Texel op die Wapen van Alkmaar vertrek, saam met 'n kleiner groep Provensaalse Hugenote, insluitende die Gardiols, Amiels en Goirandes.
In 1690 trou Isabeau met Jean Jourdan. Toe Jean in 1698 sterf, was sy verwagtend met 'n dogter, Jeanne (Janne). In die doopregister van Drakenstein van 18 Januarie 1699 staan die doop van “Janne dogter van Isabeau Longue, weduwee van die oorledene Jean Jourdan met Jacque Mallant en Hanna Fauche, as getuies en peetouers”.
Jeanne trou in 1699 met Jacque Malan (Jacque Mallant). Met vier seuns en ’n dogter uit haar eerste huwelik en vier seuns en drie dogters uit die tweede, is Isabeau le Long die stammoeder van die Jordaan- en Malan-families in Suid -Afrika.
Die volgende inskrywings is in die Drakenstein -doopregister van die vroeë 1700's gemaak - die spelling van die name wissel:
25 September 1695: Paul, die seun van Jean Jourdan en Elizabeth Longue. As getuies was die voorleser Paul Roux en Elizabeth Taillefer.
30 Oktober 1701: Joseph, die seun van Pierre Jourdan van Cabrieré en Anna Fauche. Die getuies en peetouers was Louis Barret en Ejzabeth Long.
22 Januarie 1702: “Elisabeth Anna, dogter van Jaqùes Mallang d 'moeder Elisabeth le Long, getùygen Anna Roùsseaù, en Daniel Uijoe (soo vind) den 22e Janry 1702 gedoopt.”
26 Julie 1705: “Elisabeth. De Vader Josua Seillier, de Moeder Elisabeth Couvret; getuyge Jacques Mallan, en Elisabet Long.”
15 Mei 1707: “Catherina. de Vader Jacqùes Mallan, d'Moeder, Elisabeth Long. Getùygen Pierre Jaubert in plaats van syn soon Jacob en Claùdine Lombard.”
2 September 1708: “Jacques van Daniel Hugot, en Anna Rousseau; de getuigen Jacques Malan, en Elizabeth Longue.”
Verdere Le Longs wat na die Kaap gekom het, was die wewenaar Jean le Long en sy kinders, Charles en Marie. Die noue ooreenkoms tussen die gegewens van Jacob le Long en Jacobus de Lange (op die opgaafrol van 1705) versterk die vermoede dat hulle een en dieselfde persoon was. Jean en sy kinders het op 19 Augustus 1688 by die Kaap aangekom aan boord van die Zeelandse skip, Zuid-Beveland, waarop Pierre Simond en sy geselskap ook was. Daar word vermoed dat die Le Longs ook uit die distrik L'Aigle in Normandië afkomstig was. Jean ontvang f 120 kontant en f 370 krediet uit die Batavia-fonds en ook die plaas Bossendal in Groot Drakenstein. Die titelakte is eers in 1713 uitgereik, waarskynlik as beloning nadat al drie Le Longs (Jean, Charles en Jacob) die getuigskrif ter ondersteuning van Wilhem Adriaen van der Stel onderteken het.
Charles het krediet ter waarde van f150 uit die Batavia-fonds ontvang en Maria, toe reeds met Arie van Wijk (gebore 1668 in Amsterdam) getroud, ontvang f120. Sy sterf voor 1693. Charles trou met Wina Francina van El (die weduwee van Allardus Koopman) en sit die familie-lyn voort. Die van is na De Lange verander.
Le Riche
Louis le Riche, saam met die Cronier-broers (ook uit die Thymerais), Philippe Drouin en Jean Duthuilé, het op 3 April 1698 aan boord van die Driebergen by die Kaap aangekom. Al vyf het plase aan die rivieroewer in die Wamakersvallei ontvang. Louis trou in 1708 met Suzanne Foucher, dogter van Philippe Foucher en Anne Souchay. Hy kom in 1732 te sterwe op sy plaas, Groenfontein in die Drakenstein. Twee van Louis en Suzanne se dogters is met eerste-generasie Hugenote-afstammelinge getroud: Susanna trou met Louis Fourié en Marie trou met Daniel Rousseau. Hulle derde dogter Anne, was by haar dood nog ongetroud. Hulle seun, Pieter (Pierre) le Riche, is met Johanna Rousseau getroud en uit die huwelik is twee seuns, Petrus en Joseph, gebore. Joseph is met Elizabeth de Koning getroud en uit die huwelik is twee seuns en drie meisies gebore, asook 'n kind (geslag onbekend) wat jonk oorlede is. Joseph, wat reeds L'Arc d'Orleans besit het, het die plaas Groenfontein geërf toe sy ma te sterwe kom.
Le Sueur
François le Sueur, uit Ooij in Gelderland, het in 1729 aan boord die Medloo by die Kaap aangekom. Sy pa, Jacques, het in die 1690's saam met sy ouers, Jean le Sueur en Marie Heulen, uit Frankryk gevlug. François was NG Kerk predikant aan die Kaap en in Stellenbosch. In 1730 trou hy met Johanna Catharina Swellengrebel.
Leroux, Le Roux
Die Le Roux's in Suid-Afrika stam af van twee broers, Jean en Gabriel Leroux, wat in April 1688 op die Voorschooten aangekom het. Hulle was afkomstig uit Mer in die Franse sewentiende-eeuse provinsie Orléanais — deesdae deel van die Centre-Val de Loir-streek, Frankryk se belangrikste gebied vir koringproduksie. Albei broers het hulle van as Leroux geteken.
Jean en Gabriel en hulle moeder, die weduwee Anne Bourdon, is gedwing om hulle geloof af te sweer. Nadat hulle na Holland ontsnap het, het die twee broers en Estienne Bruère (ook van Mer) op 25 Junie 1687 in die openbaar hulle afswering teruggetrek. Jean en Gabriel Leroux, asook Estienne Bruère en sy eerste neef Philippe Foucher was almal deel van die groep wat op die Voorschoten na die Kaap vertrek het.
In 1698 ontvang Gabriel 'n 60-morg-oewerplaas aan die Bergrivier in Suider-Paarl. Hy noem die plaas La Concorde. In 1701 trou hy met die 16-jarige Marie-Catherine Lefebvre. Hulle het een dogter en 4 seuns gehad.
Jean het waarskynlik in vennootskap met ander Hugenote gewerk. In 1703 trou hy met Jeanne Mouy, die suster van Marie Mouy wat in 1700 met François Rétif uit Mer getroud was. In 1699 ontvang albei swaers, Jean en François, plase van goewerneur Wilhem Adriaen van der Stel. Jean noem sy plaas Parys, en François syne La Paris. Aangesien François ingestem het om Van der Stel se getuigskrif te onderteken, is die titelakte van La Paris in 1706 uitgereik. Jean, daarenteen, het die petisie teen Van der Stel onderteken met die gevolg dat die oordrag van Parys eers in 1712 gemagtig is, ’n jaar nadat Jean en sy broer Gabriel verdrink het.
Van die twee broers blyk Gabriel die gesellige een te wees. Van tyd tot tyd verskyn sy naam in hofstukke. In Januarie 1708 het 13 Hugenote (Josué Cellier, Isabeau Couvret, Paul Couvret, Nicolas Labat, Gabriel le Roux, Jean Taillefer, Jacob Bourbonnais en ses ander) gesellig gekuier (“zaaten en dronken”) op Kruyspad, Josué Cellier se plaas. Bourbonnais raak toe betrokke in ’n woordewisseling met die verbygaande transportryer Pieter Harmensz. Gabriel le Roux is in 1710 met 5 rijksdaalders beboet omdat hy lede van die Drakenstein-gemeente esels genoem het. Sy pleidooi was: “T’s mijn leet, ‘k versoek vergiffenis, ik ben dronken geweest.”
Die Le Roux-kinders het die familienaam voortgesit. Die Le Roux-familie, wat nou in sy tiende geslag is, verbou steeds wyn op dieselfde grond waar hulle voorouers in 1692 wingerdstokke geplant het.
Die derde Le Roux, Jean Leroux van Normandië, het in Mei 1690 op die Wapen van Alkmaar by die Kaap aangekom. Hy trou met Marie de Haas en boer in die Stellenbosch-distrik. Die egpaar het tien kinders gehad.
'n Aantal Le Roux's word verbind met die Afrikaanse taal- en letterkunde-bewegings, waaronder prof TH Le Roux (1886–1970), 'n prominente Afrikaanse taalkundige, en Etienne Leroux (1922-1989), 'n gesiene Afrikaanse skrywer en 'n sleutelfiguur in die Sestigers-beweging. Ander bekende Le Roux's sluit in talle sportlui wat veral uitgeblink het in krieket en rugby.
Lombard (Lombaard)
Die Lombard-van het sy oorsprong in Lombardye, Noord-Italië. In die Middeleeue is die naam Lombard geassosieer met die pandjieswinkel-bedryf in Noord-Italië, die bakermat van die bankwese. Hieruit het die huidige Lombard-banke en -finansieringshuise ontwikkel.
Pierre Lombard, afkomstig uit Pontaix in die Département Drôme in Suidoos-Frankryk, sy vrou Marie Couteau en ander Couteau’s het via Frankfurt na Nederland gereis. Op 16 Januarie 1688 vertrek hulle aan boord die Borsenburg vanaf Texel en bereik die Kaap op 12 Mei. Pierre het 750 gulden uit die Batavia-fonds ontvang, baie meer as enige ander vlugteling, waarskynlik weens sy omstandighede. Sy gesin word beskryf as “Pieter Lombard besogt met 'n langdurige siekte, zijn vrouw bevrugt, en een kind.” Die plase Watergat en Zondernaam in Simondium (in 1837 herdoop tot Bien Donné deur 'n afstammeling van ’n Joubert-Hugenoot) is in 1699 in Pierre se naam geregistreer. Toe die egpaar ’n gesamentlike testament op 8 Januarie opgestel het (namens hulle geteken deur Daniel Bouvat), was Pierre 51 jaar oud en beskryf as “matigh en gesont, gaande en staande”, terwyl Marie aan haar bed gekluister was (“ziek te bedde leggende”). Hulle het drie seuns en drie dogters gehad. Pierre sterf in 1715 en Marie in 1718. Die meeste van hulle afstammelinge het die Drakenstein verlaat en hulle in die Suid- en Oos-Kaap gevestig.
Malan
Die Malan-naam en sy vele variasies (Malang, Milano, Malano, Mallano, ens.) is 'n tipiese Waldensiese (Vaudois) van met sy oorsprong in die valleie van Piëmont. Die Malans vestig hulle in die sestiende eeu in die ontvolkte Luberon-vallei in dorpe soos Lacoste, Mérindol, La Motte d'Aigues en Saint-Martin-de-la-Brasque. Ander Waldensiese name wat 'n soortgelyke transformasie ondergaan het en hulle weg na die Kaap gevind het, is Jourdan (Jordan, Jourdain, Giordan), Roux (Rosso, Rouss), Durand (Durant, Durando), Gardiol (Gardiolo, Guardiola), Malherbe (Malerbe, Malerba), Lombard (Lombardo), Joubert (Jobert), Anthouard (Antoardi, Anthodardo) en Hugo (Hugon, Hugonis, Ugon).
Jacques Malan, die stamvader van die Malan-familie in Suid-Afrika, is omstreeks 1670 in Saint-Martin-de-la-Brasque gebore. Na die herroeping van die Edik van Nantes en die grootskaalse afswering van geloof in 1685 deur die Protestante in die Luberon, gaan lede van die Malan-familie in ballingskap. Hulle was teen 1687 in Rotterdam. Jacques Malan, Pierre Malan (neef van Jacques) Isabeau Richarde (Pierre se vrou), Antoine Malan (Jacques en Pierre se oom), sy vrou Isabeau Verdeau en hulle babadogter gaan op 20 Maart 1688 aan boord op die China, onderweg na die Kaap. Die 19 passasiers wat tydens die lang reis gesterf het, was almal Jacques se familielede, met die uitsondering van Isabeau Richarde. Ná haar man se dood, trou sy aan boord met Pierre Jaubert.
Daar word vermoed dat Jacques en Pierre Jourdan (de Cabrières) aanvanklik saam met Jean Jourdan (de Belle Etoile) en sy gesin in Drakenstein gewoon het en ’n bestaan as kleinboere gevoer het. Tot 1691 word na hulle in die opgaafrolle verwys as “compagnons”, maar as onafhanklike vryburgers vanaf 1692. Na die dood van Jean Jourdan trou sy weduwee Isabeau Long (toe reeds die moeder van vyf kinders) in 1699 met Jacques Malan. Die egpaar het sewe kinders gehad, van wie drie as babas gesterf het. Toe hy met Isabeau Long trou, het Jacques Malan die eienaar geword van die plaas La Motte in Oliphantshoek. In 1704 koop Malan Languedoc en Rhone wat deur Jean Gardé gekonsolideer is. Malan het hierdie plaas in 1711 aan sy stiefseun, Pierre Jourdan, oorgedra toe hy 'n gedeelte van Vergelegen, wat hy Morgenster genoem het, gekoop het.
Jacques Malan het 'n leidende rol gespeel in die vryburgersopstand teen Wilhem Adriaen van der Stel. Hy het dikwels saam met Estienne Niel opgetree het as tussenganger tussen Adam Tas en eendersdenkende Hugenote-setlaars. Volgens Tas, 'n man van min woorde, het Malan geweier om deur die dreigemente van Starrenberg geïntimideer te word, en was hy een van dertig Hugenote-setlaars wat die vryburgers se petisie teen Van der Stel onderteken het.
Mettertyd het Jacques vooruit geboer. In die 1723-opgaafrolle word hy as die eienaar van 12 perde, 110 beeste, 550 skape, 20 000 wingerdstokke en 23 slawe genoem. Dit is dubbel die aantal slawe wat Hugenote-vryburgers met aansienlik groter boerdery-bedrywighede, soos Daniel Hugot en Pierre Rousseau, besit het. Jacques het vanaf 1716 in die Stellenbosse kerkraad gedien en as diaken toesig gehou oor die vervoer van boustene en hout vir die bou van die nuwe kerk tussen Augustus en Desember 1717, nadat die eerste kerk op Stellenbosch afgebrand het. In 1722 het Jacques 'n stewige stinkhoutbalk vir die klok van die nuwe kerk geskenk.
’n Bekende Malan is Daniël Francois Malan (1874–1959), NG-predikant, koerantredakteur en politikus wat in 1948 premier van Suid-Afrika geword. Nog ’n bekende Malan is 'n plaasseun van Wamakersvallei, groepkaptein Adolph Gysbert Malan (1910-1963), beter bekend as 'Sailor' Malan, eskaderleier en Battle of Britain-vegter, wat die DSO (Distinguished Service Order) en die DFC (Distinguished Flying Cross) met ’n onderskeidingsbalkie, die Franse Légion d'Honneur en die Franse Croix de Guerre verwerf het.
As kabinetsminister was Daniël Francois Malan verantwoordelik vir die instel van wette wat daarop gemik was om die nasionale karakter van Suid-Afrika te vestig: 'n nasionale vlag en die erkenning van Afrikaans as amptelike taal in plaas van Nederlands. As Eerste Minister het hy die Nasionale Party se beleid van rasseskeiding of apartheid ingestel wat gelei het tot meer onderdrukkende wette en die uiteindelike internasionale isolasie van Suid -Afrika. Sailor Malan was sterk gekant teen die segregasiebeleid van Daniël Francois Malan en die Nasionale Party. In 1951 word hy die president van die Torch Commando, 'n pro-demokrasie-beweging wat geprotesteer het teen die verwydering van bruin Suid-Afrikaners van die kieserslys. Die manifes van die Torch Commando het aangedring op vryheid van spraak en universele stemreg. Die beroemde oorlogsheld het die eerste anti-apartheid massa-protes teen die apartheidswetgewing van Daniël Francois Malan se regering gelei.
Malherbe
Gidéon Malherbe, afkomstig uit Normandië, arriveer in 1688 aan die Kaap aan boord van die Voorschooten. Hy trou met Marie Grillon uit die gemeente Mer naby Blois. In 1694 verkry hy Normandie, 'n plaas naby Lormarins in die Drakenstein, maar dit word hom eers in 1713 amptelik aan hom toegeken.
Sy finansiële posisie het tussen 1700 en 1715 aansienlik verbeter, nadat hy al die besittings van sy goeie vriend Philippe Drouin, sowel as dié van Philippe se vader, geërf het, insluitende die plaas De Groene Fonteyn in die Wagenmakersvallei. Soos baie ander Hugenote-mans aan die Kaap, het Phillipe Drouin ongetroud gebly. Die meerderheid van manlike setlaars oor vroue aan die Kaap was in 1705 selfs meer as wat dit in 1682 was. In gebiede soos die Drakenstein was daar 227 mans vir elke 100 vroue.
Alle Suid -Afrikaanse Malherbes stam af van Pierre en sy vrou Elizabeth Cellier. Aan die einde van die negentiende eeu was die Malherbes erg betrokke by die veldtog om Afrikaans as amptelike taal in plaas van Nederlands te laat erken. Die wynboer, Petrus Jacobus Malherbe (1853–1939), was 'n stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875. Sy seun, Daniël Francois Malherbe (1881–1969), was 'n stigterslid van die Afrikaanse Taalvereniging en hy wy sy lewe aan die studie en bevordering van die taal. As romanskrywer, digter, dramaturg en geleerde het hy gehelp om Afrikaans as 'n volwaardige taal te vestig en het hy die eerste professor in Afrikaans in Suid-Afrika geword aan Grey Universiteitskollege (deesdae die Universiteit van die Vrystaat).
Marais
Charles Marais, sy vrou, Catherine Tabourdeux, en hulle vier kinders het in April 1688 aan boord die Voorschoten by die Kaap aangekom. In Frankryk was hy ’n lidmaat van die Le Plessis-Marly-gemeente naby Longvilliers in die Hurepoix-streek van Île de France. Claude was 26 jaar oud, Charles jr. 19, Isaac 10 en Marie 6. Phillipe Marais het die plaas in die Drakenstein Le Plessis Marle (vandag Plaisir de Merle) genoem, na sy plek van herkoms.
Een jaar na hul aankoms word Charles tragies op sy plaas deur Khoi-Khoi vermoor in 'n geskil oor 'n waatlemoen. Die lykskouing is uitgevoer en gesertifiseer deur die chirurg Jean-Prieur Duplesis en sy verslag is deur Jacques de Savoye in Nederlands vertaal. Sy weduwee, Catherine, het f600 uit die Batavia-hulpfonds ontvang. In 1690 trou sy met Daniel des Ruelles uit Pikardië. Sy eerste vrou, Anne Goudalle, is onderweg na die Kaap oorlede.
Die Marais-families in Suid-Afrika stam almal af van twee van Charles Marais se seuns, Claude en Charles. Claude trou in 1690 met Marie Avis uit Châteaudun in die provinsie Orléanais en Charles trou in 1692 met sy stiefsuster, Anne des Ruelles van Guînes in Vlaandere. Hy was dus sy eie stiefpa en ook sy eie skoonpa. Claude erf Le Plessis-Marly en ontvang in 1699 die plaas Wel-van-Pas in die Wagenmakersvallei van WA van der Stel, dieselfde jaar waarin sy broer Charles die aangrensende plaas, De Fortuin, ontvang. Dit is opmerklik dat die twee Marais-broers ’n slim politieke spel gespeel het deur sowel die getuigskrif vir Van der Stel as die versoekskrif teen hom te onderteken.
Claude was ’n lidmaat van Drakenstein se gemeente en ook lid van die Heemraad. Toe hy met Suzanne Gardiol, die weduwee van die welgestelde Abraham de Villiers, trou, het sy finansiële posisie aansienlik verbeter. Hy verkry twee plase, Meerlust en Lekkerwyn ('n omvorming van die familienaam, Lécrevant) in Drakenstein, en 'n huis in Tafelvallei. By die afsterwe van Claude het Suzanne se seun Jacob de Villiers Meerlust en Lekkerwyn geërf, en Claude se seuns, Charles en Estienne, die plaas Le Plessis Marle.
In die Afrikaanse letterkunde het die legendariese digter, skrywer, joernalis, advokaat en natuurkundige, Eugène Marais (1871 - 1936) ikoniese status behaal. Hy word as een van die belangrikste Afrikaanse digters beskou. Sy gedig, “Winternag” (1905), is die mees gelese gedig in Afrikaans. In 2003 is Marais aangewys as een van Afrika se top 15 literêre figure van die twintigste eeu. Marais, gebore in Stellenbosch, ontvang sy opvoeding aan 'n Engelsmedium-skool in die Paarl. Op 19-jarige ouderdom word hy aangestel as redakteur van 'n Nederlands-Afrikaanse opposisiekoerant, Land en Volk, in Pretoria. Marais was 'n vurige kritikus van president Paul Kruger en sy regering, sy nepotisme, patronaatskappe en korrupte praktyke by die toekenning van lisensies vir drank, watervoorsiening aan Johannesburg, dinamiet vir die myne en vele ander items. Dit herinner aan die veldtog wat sy voorouers twee eeue tevore teen die korrupte Van der Stels gevoer het. Tydens die Anglo-Boereoorlog woon Marais in Londen waar hy finansieel ondersteun word deur sir Percy Fitzpatrick (skrywer van die topverkoper, Jock of the Bushveld). Nadat hy hom in 1901 as advokaat bekwaam het, keer hy terug na Transvaal, waar hy Milner se maatreëls vir verengelsing sterk ondersteun het.
Eugène Marais was die eerste persoon wat die gedrag van wilde primate formeel bestudeer het, en sy waarnemings word steeds aangehaal in werke oor evolusionêre biologie. Sy werk is in verskeie tale vertaal. Die Belgiese Nobelpryswenner Maurice Maeterlinck het plagiaat gepleeg met die vertaling van “Die Siel van die Mier” as “La Vie des Termites”.
Eugene Marais was 'n komplekse en raaiselagtige karakter wat verslaaf was aan morfien. Hy het in 1936 sy eie lewe geneem.
Die eerste generasies van Hugenote aan die Kaap was hoofsaaklik boere. Drie Marais-broers van Stellenbosch word beskou as die eerste Afrikaner-kapitaliste. Petrus (geb. 1839), Christian (geb. 1849) en Jannie (geb. 1851). Hulle het die Kaap in 1870 verlaat om by die stormloop na die pas geopende Kimberley diamantdelwery aan te sluit. Hulle was bedrewe sakemanne en het talle kleims gekonsolideer en aangekoop vir Kimberley Central Mines. Hulle het Cecil John Rhodes se poging om beheer oor Kimberley Diamond Mines te verkry, gekeer deur ’n samesmelting met Barney Barnato se Standard Mining Company. Afgesien van hulle mynbelange, het die broers ook 17 plase in die Kimberley-distrik besit. Nadat hy 'n fortuin gemaak het, keer Jannie in 1892 terug na Stellenbosch en die volgende jaar na die Kaap.
Maré (Maree)
Ignatius (Ignace) Maré is omstreeks 1670 gebore en hy kom in 1758 in Drakenstein te sterwe. Dit is nie duidelik of sy plek van herkoms Calabria (die plek waar sy huweliksertifikaat met sy tweede vrou uitgereik is) of die Cambrésis-streek in Noord-Frankryk (Pama) is nie.
Die opgaafrolle van 1705 beskryf hom as ’n wewenaar met twee seuns en een dogter. Op 7 Februarie 1706 trou Ignatius met Suzanne Janse van Vuuren, die dogter van die Gelderlander Gerrit Janse van Vuuren en die Hugenoot Suzanne Jacob, gebore 1671 in Vieille-Église in Calaisis. Die opgaafrolle van 1709 tot 1757 toon dat die egpaar 9 kinders gehad het.
Ignatius doen op 7 Julie 1706 aansoek om 'n weidingslisensie in die Groene Kloof en kry dit ’n jaar later. Op 14 Oktober 1714 word die plaas Langefontein aan die Elsjeskraalrivier in die Tygerberg aan hom toegeken. In 1723 koop hy die plaas St Omer in Daljosaphat uit die boedel van Armand Véron. Ignatius was die grootste deel van sy aktiewe lewe 'n veeboer. Hy was een van die vryburgers wat óf gedwing is om die WA van der Stel se getuigskrif wat aan die Here XVII gestuur is, te onderteken, óf dit vrywillig gedoen het.
Ignatius, die seun wat uit sy eerste huwelik gebore is, het blykbaar nie oorleef nie, aangesien die jongste seun, gebore op 18 Julie 1729, ook Ignatius genoem is. Dié Ignatius is drie keer getroud en het sy eerste twee vroue, Margaretha Roux en Claudine du Toit, oorleef. Hy is in 1803 oorlede, dieselfde jaar as sy derde vrou Anna Dorothea Pretorius (weduwee van David du Buisson). Een van sy seuns Jacob Phillipus Maree het in die Slag van Bloedrivier in Zoeloeland geveg en het later na Transvaal getrek om aan die Britse bewind te ontsnap. Hy word lid van die uitvoerende raad van die Zuid-Afrikaansche Republiek en het soms waargeneem namens staatspresident Paul Kruger.
Een van die mees treffende en ikoniese Afrikaanse volksliedjies, Sarie Marais, is vernoem na Susara Margaretha Maré, Jacob se dogter by sy tweede vrou, Cornelia Erasmus. Op ouderdom van sestien het Susara (Sarie) vir Jacobus Petrus Toerien, digter en subredakteur van die Paarlse koerant, Di Patriot, ontmoet. Hy was in Pretoria om 'n onderhoud met haar pa te voer. Dit was liefde met die eerste oogopslag die twee is in Desember 1884 getroud. Hulle vestig hulle in Middelburg in die ZAR sodat Petrus 'n pro-Boere koerant, De Republikein, kon uitgee. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit Toerien by die Middelburg-kommando aan en beleef die Natalse gevegsfront. Sy verlange na sy geliefde het hom geïnspireer om die woorde van die liedjie Sarie Maré te skryf. Die titel is later verander na Sarie Marais en dit is getoonset op die wysie van Sweet Ellie Rhee, ’n volksliedjie uit die Amerikaanse burgeroorlog, wat deur Amerikaanse mynwerkers in die Johannesburgse goudmyne in Johannesburg gewerk het, gesing is.
Die liedjie was gewild onder duisende Suid -Afrikaanse soldate wat aan die kant van die Geallieerdes in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog geveg het. In 1953 word dit die regimentsmars van die Britse Royal Marines-kommando op voorstel van Winston Churchill ter verering van die dapperheid van die Boere-kommando's, soos Churchill dit self beleef het. Die lied word ook gesing deur die Vreemdelingelegioen as Massari Mari en as Sarie Marès die tradisionele lied (chant de tradition) van die elite Franse militêre kollege, l'École Militaire Interarmes (EMIA).
Mesnard (Minnaar)
Jean Mesnard van Saint-Martin-de-la-Brasque in die Luberon en sy gesin bereik Genève op 12 September en Frankfurt op 31 Oktober 1687. Sy vrou, Louise Corbonne, moes in Frankfurt herstel na die geboorte van haar sesde kind. Saam met hulle was hulle vyf ander kinders en Marie Anthouarde, Louise se 64-jarige moeder. Die gesin vertrek uit Rotterdam op 20 Maart 1688 aan boord die China onderweg na die Kaap. Op dié noodlottige vaart is Marie Anthouarde en twee van die Mesnard-kinders, Jacques en ’n baba, André, oorlede. Daar word vermoed dat Louise óf op see gesterf het óf kort na haar aankoms. Jean, as wewenaar met vier kinders, ontvang in April 1690 ’n bedrag van f304 in kontant uit die Batavia-fonds en f405 krediet van die maatskappy.
Jean trou weer en woon in Drakenstein tot sy dood in 1692. Die enigste van sy kinders wat volwassenheid bereik het, was Philippe. In 1702 gaan werk hy as landbouer by Suzanne Briet, die weduwee van Isaac Taillefert, op Leeuwenvallei in die Wagenmakersvallei. Sy finansiële posisie het aansienlik verbeter toe hy op 7 Mei 1712 in Stellenbosch met Jeanne Mouy, die weduwee van Jean Leroux, getroud is en die eienaar van Parys geword het. Later het hy Salomonsvlei by Pieter Leroux en De Veerkeyker by Estienne Bruère gekoop. Philippe en Jeanne is die voorouers van die Minnaar-geslag in Suid -Afrika.
Mellet
André Mellet uit Nîmes en sy vrou, Marie Gautier van Marennes in die Saintonge (vandag die Charente-Maritimes), het in 1731 pasgetroud by die Kaap aangekom, vergesel van Marie se oom, die handelaar Gilles Soullier en sy vrou Anne Roulain. Mellet het hom in Tafelvallei gevestig, waar hy as bakker gewerk en 'n gastehuis, wat baie gewild onder Franse besoekers was, bedryf het. In 1748 is hy na Nederland gerepatrieer omdat hy met goedere wat by die Kompanjie gesteel is, handel gedryf het.
Meyer
Pierre Meyer, afkomstig uit die Dauphiné-streek, bereik in 1688 die Kaap, aan boord van die Borsenburg. Boucher bespiegel dat Meyer ’n handelsagtergrond gehad het en van ’n hoër sosiale klas was as baie van sy mede-burgers. Dit het dit vir hom makliker gemaak om deur Jacques de Savoye se familie aanvaar te word toe hy met Savoye se dogter, Aletta, getrou het. Alhoewel Meyer in 1689 'n gedeelte van die plaas Nieuwe Dorp in die Dwarsriviervallei ontvang het en die titelakte op die hele plaas op 18 Julie 1692, onthul amptelike verslae dat hy nooit aktief geboer het nie. Hy verkoop die plaas in 1701 aan Jacobus van As.
In 1695 moes Meyer en drie mede-vrygesel -setlaars (Jacques Labat, ’n mede-Dauphinois, Jacques Therond uit Languedoc en Pierre Vivier uit Normandië) 'n verklaring aflê oor hulle toevallige ontmoeting met Jean de Seyne, 'n droster van die Hirondelle. Die Politieke Raad het die ontmoeting as verdag beskou omdat die Nederlandse Republiek in oorlog met Frankryk gewikkel was (Die Negejarige Oorlog (1688–1697).
Pierre was 'n verbete teenstander van die administrasie van Wilhem Adriaen van der Stel. Hy en sy skoonpa is in April 1706 in die "swart gat" van die kasteel opgesluit. Aletta de Savoye, Pierre se vrou was toe sewe maande swanger. Sy verweer was destyds namens die vryburgers “dat se met haar wijnen en andere waren vrij souden mogen handelen” & “dat se als vooren haar wijnen, brandewijnen en andere ware naan de schepe en een ijgelijk vrij mogten verkoopen”. Pierre verhuis later na Tafelvallei waar hy 'n handelaar word soos sy skoonpa, voor hom. Sy seuns, Jacobus en Pieter, en skoonseun Adriaan de Nijs, het ook in sy voetspore gevolg.
Dit lyk asof Pierre ook met eiendom gespekuleer het, want hy het Klein Constantia uit die boedel van Simon van der Stel gekoop en dit onmiddellik weer teen ʼn wins aan Jan Jurgens Kotze verkoop. In 1714 het hy nog twee Van der Stel -eiendomme gekoop en een daarvan in dieselfde jaar verkoop. Toe hy in 1719 te sterwe kom, was Meyer een van min Hugenote wat meer boeke as net die Franse Bybel besit het. Behalwe Pierre Meyer, was daar verskeie ander Meyer -stamvaders aan die Kaap soos Gerrit Hendrik Meyer uit Nederland wat met Suzanne Caucheteux, dogter van Essaye Caucheteux en Suzanne Albert, getroud is. Jacques de Savoye se twee seuns, Philippe Rudolf en Jacques jr., het geen nageslag nagelaat nie; sy dogters het die Meyer-, Viljoen- en Snyman -lyne voortgesit.
Migault
Op 4 Februarie 1727 word Francois Louis Migault uit Cabo de Goede Hoop verban vir sy optrede ”als een onnut instrument ter deeser plaatse”. Sy vrou Marie-Madeleine Niel, wat sleg deur hom behandel is, het die lewe gelaat en sy kinders Maria Elizabeth Migault en Johannis Stefanus Migault is deur hul oom Estienne Niel en hulle aangetroude oom, Andreas Grové, versorg.
François-Louis Migault is op 4 Januarie 1694 in Amsterdam gedoop. Hy was die seun van Jean Migault wat die dragonnades in Poitou en gevangenisstraf in La Rochelle ontduik het en daarna koers gekry het na Emden in die Nederlandse Republiek. Jean Migault het bekend geword vir sy joernaal, "Les dragonnades en Poitou et Saintonge" (In Engels vertaal as “The trials of a French Protestant family during the revocation of the Edict of Nantes”) wat 'n lewendige beskrywing gee van die ontberings van die protestante in die Poitou -Charente-streek ná 1685.
Die 19-jarige François-Louis Migault arriveer in 1713 as 'n VOC-soldaat aan boord van die Strijkebolle aan die Kaap, maar hy verlaat die VOC om ’n skoolmeester te word. Hy het eers Nederlands, Frans en Godsdiens in Tafelvallei onderrig. Later het hy die kinders van setlaars onderrig, byvoorbeeld dié van Estienne Niel van die plaas Dauphine in Olifantshoek, waar hy ook as plaasarbeider gewerk het. Hy trou in 1719 met Estienne se dogter, Marie-Madeleine. Sy gedrag lei tot klagtes deur Estienne Niel en sy kinders in 1725 en tot 'n versoek deur Estienne en die burgers Andries Grové en Claude Marais dat die Politieke Raad hom moet verban weens “...het onbetamelijk gedrag en geduurige debauches in den drank & de continueele hartseeren door sijn onordentelijke levenswijs” Estienne het onderneem om die twee Migualt-kinders, Maria Elisabeth en Johannes Stefanus, groot te maak. Die Politieke Raad het François-Louis na die Nederlandse Republiek verban en hom gevonnis om sy passasie daarheen te verdien.
Mouton
Jacob (Jacques) Mouton van Steenwerck (naby Lille/Ryssel) in Suid-Nederland was reeds teen 1688 in Middelburg in Zeeland toe die hoofstroom van Hugenote-immigrasie na die Kaap begin het. Sy eerste vrou, Catherine l'Hermite, en hul drie kinders is nie saam met hom na die Verenigde Provinsies nie. Nadat die huwelik ontbind is, trou hy met Marie de Villiers. Op 2 Februarie 1699 vertrek Jacob en Marie en hulle twee dogters, Madeleine en Marie, aan boord van die Donkervliet, 'n Oos-Indiëvaarder van die Kamer van die Zeeland, na die Kaap. ’n Derde dogter, Marguerite, is tydens die vaart gebore en sy word op 26 Julie gedoop, ses dae na hul aankoms in Tafelbaai. Marie sterf kort daarna en Jacob moes na die jong gesin omsien. In Oktober 1770 trou hy met die 20-jarige Francina Bevernagie. Sy het vier maande tevore uit Nederbrakel in Vlaandere aan die Kaap arriveer, vergesel van haar vier broers Joost, Anthonie, Jean en Theunis.
Jacob was een van die eerste setlaars om grond in die Roodezand-omgewing te ontvang en hy noem sy plaas Steenwerck na sy geboorteplek. Hy en Francina het tien kinders grootgemaak, sewe van sy eie en die drie dogters uit sy tweede huwelik. Die seuns, Abraham en Jacob, het die Mouton-naam voortgesit en vyf van Jacob se dogters is die stammoeders van ander Suid -Afrikaanse families. Die Moutons was pioniers in die noordelike grensgebied van die 18de- eeuse Kaap.
Aan die begin van die 21ste eeu was Jannie (Johannes) Mouton een van Suid-Afrika se suksesvolste sakemanne. Hy was die stigter-voorsitter van die PSG Groep, 'n Beleggingskorporasie met groot beleggings in finansiële dienste, bankwese, onderwys en landbou.
N - Z
Naudé
Jacob Naudé, afkomstig van Berlyn, kom in 1718 aan boord van die Abbekerk by die Kaap aan. Sy 18-jarige neef Philip-Jacob Naudé (seun van sy broer Roger-David Naudé) arriveer in 1754 as 'n VOC-soldaat aan boord van die Slooten aan die Kaap. Die Naudé-gesin het Metz in die noordooste van Frankryk verlaat om hulle in Berlyn te vestig ná die herroeping van die Edik van Nantes. Jacob se oupa en vader (Philippe) was albei bekende wiskundiges. Philippe is in 1708 gekies as lid van die Berlyn-Brandenburgse Akademie vir Wetenskappe en Geesteswetenskappe en in 1714 as lid van die Royal Society of London.
Kort na sy aankoms word Jacob vrygestel van sy VOC-kontrak om as skoolmeester vir die kinders van Hugenote-gesinne in die Drakenstein op te tree. In 1718/19 was hy in diens van Pierre Jaubert vir 'n vergoeding van f10 en 'n halwe pond tabak, in 1719/20 by Josué Cellier vir f10 en 'n pond tabak, en in Mei 1720 word hy deur die weduwee Suzanne Taillefert (wat 8 kinders gehad het, twee by haar eerste man, Jean Gardé en ses by Pierre Cronier) aangestel en hy word haar derde man. Die egpaar het aangebly op Versailles, die plaas wat Suzanne van Pierre Cronier geërf het. Hulle het een seun gehad, ook Jacob genoem. Toe Suzanne in Februarie 1724 op 39-jarige ouderdom te sterwe kom, word die 28-jarige Jacob die voog van sy stiefkinders. Aangesien Suzanne se begrafnisdiens in Frans gehou moes word, eis die kerk betaling van 'n ekstra f3 “ voor het bedieninge van de franche taal in de Kerke". Suzanne was die stammoeder van drie Suid-Afrikaanse families: Gardé, Cronjé en Naudé.
Jacob het voortgegaan met die boerdery op die Cronier-plase in die Wagenmakersvallei totdat sy stiefseun, Jan Gardé, Versailles kon oorneem. Hy het as onderwyser, leser en koster in die gemeente Drakenstein gewerk totdat hy op sy plaas, Klipvlei, afgetree het, waar hy op 30 Maart 1740 oorlede is.
Die tweede stamvader, Philip-Jacob Naudé, is in 1766 eervol uit die diens van die Kompanjie ontslaan en het as onderwyser in Drakenstein diens gedoen. Hy trou in Mei 1774 met Johanna Elizabeth du Plessis, die agterkleindogter van Jean-Prieur Duplesis. Die egpaar het vyf dogters en drie seuns. Hul oudste seun, Charl David, het die Naudé-naam voortgesit.
Een van die Naudé-afstammelinge, Christiaan Beyers Naudé (1915–2004), was 'n internasionaal bekende teoloog, geestelike en anti-apartheidsaktivis. Naudé het in sy leeftyd 14 eredoktorsgrade ontvang en is in 1993 genomineer vir die Nobelprys vir Vrede. Nelson Mandela beskryf hom as “’n ware humanitêr en ’n ware seun van Afrika”. Beyers Naudé het die Christelike Instituut van Suid-Afrika gestig, 'n ekumeniese organisasie wat dialoog en begrip tussen rasse bevorder het. Die Wêreldraad van Kerke het hom aangewys as "een van die ware Christelike profete van ons tyd".
Néel (Nel)
Estienne Niel was 'n soldaat uit Dauphiné wat in diens van die Kompanjie na die Kaap gekom het. Hy trou met Marie-Madeleine, die dogter van Charles Marais, en boer op La Dauphine in Oliphantshoek. Alhoewel hulle vyf kinders gehad het, het nie een van hulle seuns ’n seunskind gehad nie. Die manlike lyn het dus doodgeloop en die stamvader van die groot Nel-familie in Suid -Afrika is Guillaume Néel, 'n kleremaker wat uit Rouen afkomstig is.
Op 14 April 1685 trou die 23-jarige Guillaume met die 19-jarige Jeanne la Batte (Jannetjie Labat) van Saumur en drie jaar later vertrek hulle na die Kaap op die Schelde. Hulle vestig hulle in die Stellenbosch-distrik, waar Guillaume as kleremaker werk, maar hy boer ook op Blaauwklippen aan die Dwarsrivier in die Moddergat-omgewing. Die joernaalskrywer Adam Tas, 'n leidende teenstander van die Van der Stel-regime, het op die nabygeleë plaas Libertas gewoon. Hy beskryf die nederige, maar gelukkige huis van die Néels en sê dat die “de vrunden hebben agt kindertjes bij elkander en leeven soo’ ‘t schijn, in haar hutje vergenoegt en wel tevreden”. Arm maar hardwerkend het hulle hul inkomste aangevul deur soms op die Tas-plaas te werk, benewens hul eie grond. Guillaume verdien f12 vir die vervoer van 'n wa na die Kaap vir Tas en f9 om na sy ramme om te sien.
In September 1714 ontvang Guillaume die veeplaas Bootmansdrift aan die westelike oewer van die Bergrivier. Sy dogter, Cornelia, wat met Adriaan van Jaarsveld getroud is, het die stammoeder geword van die Van Jaarsveld-familie van Suid -Afrika.
Op gevorderd ouderdom verhuis die Néels terug na Kaapstad. Guillaume (of Willem Nel soos hy sy naam vanaf 1694 teken het) sterf in 1734 op 71-jarige ouderdom. Sy vrou, Jeanne, wat liefdevol deur haar skoonseun, Pieter Venter versorg is, sterf die volgende jaar.
Teen ongeveer 1835 was daar Nels in die distrikte van Albany en Somerset-Oos. Louis Jacobus Nel, sy kinders en sy broer se kinders en hulle gesinne was een van die groepe wat by die Groot Trek aangesluit het en na Natal getrek het. Hester Nel (geb. 1782) was ’n direkte voorsaat van Koos de la Rey, die legendariese Boere-generaal van die Anglo-Boere-oorlog en Theunis [MT] Steyn, president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat. Louis Botha, die eerste premier van die Unie van Suid -Afrika stam ook af van Cicelia Nel (b. 1780). TJ (Theunis) Nel was die enigste Afrikaanssprekende lid van die Natalse parlement en het tot sy dood as senator in die eerste parlement van die Unie van Suid-Afrika gedien.
Nourtier (Nortjé)
Die drie Nourtier-broers uit Guînes, seuns van Jean Nourtier en Eve du Pont, het na die herroeping van die Edik van Nantes na die noordelike provinsies van Nederland gevlug. Daniel (b. 1666) was 'n timmerman, en Jacob (b. 1669) en Jean (b. 1670) was landbouers. Daniel trou op 17 Junie 1687 met Marie Vitu in die Middelburg, die hoofstad van Zeeland. Hulle word in diens geneem deur Jacques de Savoye, 'n welvarende handelaar uit Ath in Henegouwen (Hainaut), wat via Gent in Middelburg aangekom het. Die Nortiers en die De Savoyes was waarskynlik verwant aan mekaar, want De Savoye se eerste vrou Christine was ’n du Pont. Die groep wat saam met De Savoye die Kaap in 1688 aan boord van die Oosterland bereik het, sluit nie net die Nourtiers in nie, maar ook sy tweede vrou Marie-Madeleine de Clerq, sy skoonmoeder Antoinette Carnoy, sy kinders Marguerite-Thérèse en Barbe-Thérèse (by sy eerste vrou) en 'n baba Jacques. Dit was blykbaar 'n lonende vennootskap, aangesien De Savoye f1225 uit die Batavia-fonds ontvang het — meer as enige ander vlugteling — en die Nourtier-broers f331.
Daniel ontvang 'n plaas in Simondium 1690 en Jean die naburige Frederiksberg. In 1705 het Daniel die plaas Frederiksberg oorgeneem van Jean ('n vrygesel). Jacob trou in 1717 met die 17-jarige Marguerite Mouton, dogter van Jacques Mouton en Marguerite de Villiers. Die egpaar het drie seuns en twee dogters gehad. Daniel en Maria was ouers van vier seuns en een dogter. Na Daniel se dood in 1711, trou Maria met Matthijs Michielsz. Sy was 43 en hy 'n wewenaar in sy middel sestigs.
Pinard (Pienaar)
Die Hugenote-vlugtelinge, Jacques Pinard (23 jaar oud ) en Esther Foucher (21 jaar oud) is op 10 Desember 1687 in die Waalse kerk in Oude Delft getroud. Beide was uit die Centre-Val de Loire-streek; Esther van Suèvres in Orléanais en Jacques van die Drouais-provinsie.
Aangesien die Protestante van Drouais verbied is om 'n tempel in Dreux op te rig, stig hulle 'n gemeente in Fontaine-sous-Prémont, 'n gehuggie suidoos van Dreux. Op 15 November 1685 onderteken Jacques Pinard in Dreux sy afswering van Calvyn se dwaalleer (“l'héresie de Calvin”), met die hulp van die koning se dagonders (" avec l'aide des dragons du Roi "). Ander Hugenote-vlugtelinge aan die Kaap wat in Dreux hulle geloof afgesweer het, was Philippe Drouin (14 November) en Gidéon Malherbe (17 November 1685) wat saam met Pinard op die Voorschoten aan boord was.
Boucher maak die opmerking dat ‘”Gidéon Malherbe deel was van 'n groep vlugtelinge wat in Delft op 2 September 1697 voor die beroemde pastoor en Hugenote-historikus Elie Benoist verskyn het om in die openbaar verskoning te vra omdat hulle Calvinisme afgesweer het voordat hulle uit Frankryk ontsnap het.”
Jacques en Esther verlaat Goeree op 13 Desember 1687 op die fluitskip van die Delftse Kamer, die Voorschoten. Daar was 22 ander Hugenote aan boord, waaronder die Foucher-broers Gaspard en Philippe van Suèvres aan die Loire. Naby die Kaap het die Suidooster so sterk gewaai dat die passasiers in Saldanhabaai aan land moes gaan en later aan boord die Jupiter na Tafelbaai geneem moes word.
In 1692 ontvang Jacques die plaas Lustigaan in die Drakenstein en in 1699 verkry Phillippe Foucher die buurplaas De Wilde Paardenjagt. In 1711 onderteken Jacques die petisie teen Van der Stel en koop in dieselfde jaar Geelblomsvlei uit die boedel van Matthys Michels. Die opgaafgrolle van 1712 beskryf Jacques as die eienaar van een slaaf, agt perde, 63 beeste, 200 skape en 16000 wingerdstokke.
Jacques en Esther het twee seuns gehad, Pierre en Jacques. Ná Esther se dood in 1697, trou Jacques met Marthe Lefebvre, die eerste meisie wat van Hugenote-ouers aan die Kaap gebore is (in 1689). Jacques en sy twee eggenotes is die stamouers van die Pienaar-geslag in Suid -Afrika.
Een van die familie se bekendste seuns is generaal-majoor Daniël Hermanus (Dan) Pienaar (1893–1942), waarskynlik een van Suid -Afrika se mees charismatiese en gewilde militêre bevelvoerders. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy aan die hoof van die Eerste Suid-Afrikaanse Infanteriebrigade en later die Eerste Suid-Afrikaanse Brigade in die veldtog in Noord-Afrika. Hy het op die hoogtepunt van sy loopbaan die lewe gelaat toe sy vliegtuig op die terugvlug na Suid-Afrika in die Victoriameer neergestort het.
Francois Pienaar (geb. 1967) het in 1995 die Springbokke tot 'n oorwinning oor Nieu-Seeland gelei in die Wêreldrugbybeker. Nelson Mandela het die Webb-Ellisbeker oorhandig, geklee in 'n Springboktrui met Pienaar se nommer. Tydens hierdie ikoniese nasiebou-oomblik het Pienaar aan die wêreld gesê dat sy span die trofee gewen het, nie net vir die 60 000 ondersteuners in die stadion nie, maar vir al 43 miljoen Suid-Afrikaners.
Rétif (Retief)
François Rétif, die stamvader van die Retief -familie in Suid-Afrika, is op 2 Februarie 1663 in die klein dorpie Mer naby Blois in die provinsie Orléanais gebore. In 1688 kom François en sy suster, Anne, aan boord van Borsenburg aan by die Kaap. Ander lede van die nou verbonde Protestantse gemeentes van Mer en Blois wat na die Kaap gekom het, was: Philippe Foucher en sy vrou, Anne Souchay, hulle drie kinders, Philippe se suster Esther, die Leroux-broers, Jean en Gabriel, Philippe se neef, Estienne Bruère, Michel Martineau en Pierre Rousseau
In April 1690 het François 130 riksdaalders uit die Batavia-hulpfonds ontvang en in 1691 word na hom in die opgaafrolle verwys as 'n vryburger wat in Drakenstein boer in vennootskap met Pierre Rousseau, Michel Martineau en Jean Cloudon. Agt jaar later ontvang François sy eie plaas, La Paris, in Wemmershoek. Dit grens aan sy swaer Pierre Rousseau se plaas, L'Arc d'Orléans.
Elf jaar na die aankoms van die Rétifs het Pierre Muoy, 'n wewenaar uit Sint-Amands in Vlaandere aan boord van die Donkervliet by die Kaap aangekom en by die Hugenote in Drakenstein aangesluit. Hy was vergesel van sy twee jong dogters Marie (14) en Jeanne (13). Die 37-jarige François trou in April 1700 met Marie Muoy, wat toe nog net 14 was, en hulle vestig hulle op La Paris. Die opgaafrolle van daardie jaar toon aan dat hy twee perde, 34 beeste en 3 000 wingerdstokke besit het. Hy maak sy eie wyn en verbou koring, gars en rog.
Die egpaar verhuis na die Wagenmakersvallei waar Patatskloof in 1703 aan hulle toegeken word. Hy het in die moeilikheid beland toe sy bure, waaronder Gidéon Malherbe (De Groene Fontein), Jean de Tuillet (Hexenberg), Daniel Jacob (Leeuwentuin) en Jacques Potier (Doolhof) hom by die landdros verkla het omdat hy water vir besproeiing onwettig uit die Kromrivier gelei het. Hy is beveel om die rivierloop te herstel.
Later het hy ook Hartebeeskraal van Estienne Terreblanche gekoop. Na Rétif se dood in 1721 het Marie Mouy voortgegaan met die boerdery. Sy het die plaas Wildepaardejacht in 1748 van Paul Roux gekoop, meer wingerde geplant en sy het 12 slawe gehad om vir haar te werk.
Al vier die dogters van François en Marie is met Hugenote getroud. Maria trou met Pieter Rousseau, Anne met Pierre Hugo en Hester met Jacobus Marais. Die twee van François en Marie se vyf seuns wat getrou het, het ook Hugenote-meisies gekies. Paul trou met Dorothea Melius, een van Hester Roux se dogters, en François trou in 1741 met Anna Marais. François en Anna se seun, Jacobus, trou met Debora Joubert, die dogter van Pieter Joubert en Martha du Toit. Hierdie familie-patroon om met Hugenote te trou, is eers byna 100 jaar later verbreek toe Jacobus en Deborah se seun, Piet, een van tien kinders, in 1814 met 'n weduwee, Magdalena Johanna Greyling (née de Wet), trou.
In die jaar waarin Piet Retief getroud is, het die Kaap amptelik 'n Britse kolonie geword. As boer aan die Oosgrens en kommandoleier was Retief gefrustreerd met die onbuigsame reëls wat die Britte neergelê het en hulle gebrek aan simpatie vir die ontberings van die boere: selfs al word hulle vee geroof, mag niemand die grens oorsteek na die Xhosas se gebied nie. Daar was ook geen hoop op regeringshulp.
Die skaarste aan grondgebied het tot toenemende armoede onder die Boere gelei en bygedra tot die gespanne verhoudinge. Op 22 Januarie 1837 stel Retief namens die Boere 'n manifes op waarin hy hulle lank gekoesterde griewe teen die Britse regering uiteensit. Die manifes is op 2 Februarie in die Grahamstown Journal gepubliseer en op 17 Februarie in De Zuid-Afrikaan. Dit was die begin van die georganiseerde migrasie van ses groepe Boere uit die kolonie na die noorde om aan die gesag van die Britse kroon te ontsnap. Hierdie pioniers het bekend geword as die Voortrekkers en die migrasie as die Groot Trek.
Retief het een groep uit die distrikte Adelaide en Fort Beaufort oor die Drakensberge na Zoeloeland gelei. Sy ouer broer, Francois (Frans), was lid van 'n ander trek. Die gebied in Zoeloeland was onder die beheer van Dingaan. Retief het hom meegedeel dat hy in vrede met die Zoeloe-mense wou lewe, maar het terselfdertyd gewag gemaak van die militêre mag van die Voortrekkers en van hulle oorwinning oor die Ndebeles. Die aankoms van duisende Voortrekkers in die Bo-Thukela-vallei is dus deur die Zoeloes as 'n bedreiging gesien.
Op 6 Februarie 1838 is Retief, saam met sy seun Pieter en sy stiefseun Abraham, sowel as sy manne saam met hulle Khoi-Khoi-bediendes, gesamentlik ongeveer honderd manskappe, na Dingane se kraal genooi. Hulle is genadeloos deur Dingane se krygers afgemaai. Hierdie episode was die begin van 'n tragiese siklus van wraak en vergelding.
Rousseau (Rossouw)
Pierre Rousseau is die stamvader van die groot Rousseau-familie. Hy het in 1688 aan boord van die Borsenburg saam met Maria, sy suster, sy toekomstige vrou, Anne Rétif, en François Rétif, haar broer, by die Kaap aangekom. Al vier was lidmate van die Mer-gemeente. Aan die Kaap trou Maria Rousseau met Jan Janse van Eeden en word die stammoeder van die Van Eedens in Suid -Afrika.
In 1689 trou Pierre met Anne Rétif, wat vir hom 11 kinders baar. Die egpaar het 94 kleinkinders gehad, waarvan 30 Rossouws, 20 Dutoits, 15 Marais’s, 12 Duplesis’s, nege Hugo’s en vyf Blignaults. Sy dogter, Anna Rousseau, trou in 1705 met Daniel Hugot en in 1725 met Jean Blignault en word die stammoeder van die Hugo- en Blignault-families in Suid-Afrika. Na Anne se dood op 39 -jarige ouderdom, trou Pierre met Gertruida du Toit (dogter van François Dutoit en Suzanne Seugnet, 27 jaar jonger as hy). Hulle het een kind gehad wat as baba gesterf het. SA Genealogies berig dat Pierre 'n dertiende kind gehad het, Regina Rousseau, wat buite die eg gebore is, en haar moeder was Elisabeth Rootsteen van die Kaap.
Pierre Rousseau was een van die meer vooruitstrewende Hugenote-boere. In 1694 ontvang hy 'n plaas naby Wemmershoek, Drakenstein, wat hy L'Arc d'Orléans noem na sy streek van oorsprong in Frankryk. Dit grens aan sy swaer se plaas, La Paris. In die daaropvolgende jare verkry Rousseau De Vleesbank in Drakenstein (onteien van een van WA van der Stel se kornuite, die balju, Johannes Blesius), Eikeboom in die Wagenmakersvallei (Wellington), Sonkwasdrift-Oos wat voorheen in besit was van Guillaume Dutoit, Sanddrift in die Land van Waveren (wat hy moes laat vaar weens strooptogte deur die Khoi-Khoi), en Stellenkeur-Switserland (onteien van die Switserse Johann Jürgen weens onwettige handel met die Khoi-Khoi).
Soos baie ander vryburgers, was Rousseau betrokke by ruilhandel met die Khoi-Khoi as 'n wyse om sy skaap- en beeskuddes te vergroot. In Junie 1696 het die kaptein van Chainouqua, Dorha (Klaas), hom, saam met Guillaume Frisnet, Guillaume Loret, Pierre Grange, Mathieu Amiel en Matthias Frachasse, by die owerhede verkla omdat hy die Kompanjie se verbod op handel met die Khoi-Khoi oortree het. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle meer vee besit as die Kompanjie self. Ondanks die pogings van die VOC om die alleenreg op ruilhandel met die Khoi-Khoi te behou, was dit nie volhoubaar nie.
Pierre Rousseau was 'n steunpilaar in die Hugenote-samelewing: hy was 'n diaken in die Drakensteinse gemeente en Heemraad. Toe WA van der Stel hom probeer oorreed om 'n luitenant in die Drakenstein-infanterie te word, het hy hom onttrek omdat “...hij niet perfect is in de Nederduijtze taal” en niks van krygsoefeninge verstaan nie. Rousseau was een van die drie-en-sestig burgers wat die petisie teen Van der Stel onderteken het, maar hy onttrek daarna en vra verskoning en sê dat hy nie heeltemal verstaan wat hy onderteken het nie en dat “van s’ herten grond leet is, en dat niemand dan den duijvel selven die godloose lasterbrief kan te samen gesteld en geschreven hebben – derhalven versoekt hij op ’t demoedigste dat hem die godloose misdaat daar hij door onnoselheijt toe verleijd is geworden, magt werden vergeeven en quijt gescholden”.
Roux
Van die drie Hugenote-Roux's (Paul, Pierre en Jean), wat na die Kaap gekom het, het slegs Paul, 'n wewer uit Orange in Provence, ’n nageslag gehad, sodat alle Suid -Afrikaanse Roux's van hom afstam. Sy eerste vrou was Claudine Seugnet van Saintonge. Ná haar dood trou hy met Elisabeth Couvret uit Bazouches-en-Dunois in Orléanais. Roux het uit sy twee huwelike sewe kinders gehad, waarvan vier getrou het. Op 8 November 1688 word hy aangestel as sekretaris en voorleser van die gemeente Drakenstein en onderwyser van die Franse kinders. Hy het hierdie rol vervul tot sy dood in 1723. Paul Roux se seun, Jeremias Roux, het toestemming gekry om 'n skool te stig waar die kinders in Frans onderrig kon word. Hy het ook as koster opgetree en het af en toe uit die Franse Bybel gelees.
Sénécal (Senekal)
Die stamvader van die Senekal-familie in Suid -Afrika is David Sénécal uit Dieppe in Normandië. Op ouderdom van 21 kom hy in 1688 aan boord van die Zuid Beveland aan in die Kaap. Daar word vermoed dat Sénécal familie verwant was aan Salomon de Gournay, ook van Dieppe, wat op dieselfde skip was. In 1692 ontvang David Sénécal De Hartebeestkraal, 'n plaas van 60 morg aan die Wilde Paardsrivier. Sy plaas grens aan die plase van Philip Foucher, Jacques Pinard en Salomon de Gournay (Salomonsvallei). In 1692 ruil Sénécal en De Gournay plase uit. Kort daarna ruil Sénécal Salomonsvallei vir La Concorde, 'n plaas wat aan Gabriel le Roux behoort. Die rede vir hierdie uitruilings is nie bekend nie, maar albei is deur die Raad van Justisie goedgekeur.
De Gournay trou in 1693 met Anne Martin, die weduwee van Jean du Puis uit Dieppe, en Sénécal trou in 1695 met haar dogter, Anne-Madeleine du Puis. David en Anne-Madeleine du Puis het twaalf kinders gehad. David het sy inkomste aangevul deur as wamaker te werk. Hy was een van 30 Hugenote wat die petisie teen WA van der Stel onderteken het.
Toe die eerste kerkgebou in Simondium in 1716 heeltemal vervalle geraak het, het die gemeente Drakenstein grond gekies om 'n nuwe kerk in die Paarl te bou. Die grond was aangrensend aan Sénécal se plaas, La Concorde. Toe hy in 1746 op 79 -jarige ouderdom oorlede is, is Sénécal waarskynlik in die Paarl-begraafplaas, net langs sy plaas, begrawe.
In 1716 is Sénécal l deur sy buurvrou Suzanne Briet (weduwee van Isaac Taillefer) in die hof aangekla weens die blokkering van die watertoevoer na haar plaas, Laborie. Sénécal is skuldig bevind en beveel om die water toevoer te herstel.
David was die enigste van die agt nasate wat getrou het. Hy is met sy niggie, Marta Bruère, getroud. Alle Senekals is dus afstammelinge van hierdie egpaar, wat drie seuns en twee dogters gehad het. David het Drakenstein verlaat om hom as veeboer op De Hoop, 'n leningsplaas in die Swellendam-distrik, te vestig.
Die Vrystaatse dorp Senekal is vernoem na Frederick Senekal, die kommandant-generaal van die Oranje-Vrystaatse burgers in die Basuto-oorlog van 1858.
Terreblanche
Die presiese datum en plek van die geboorte van Estienne Terblanche is nie bekend nie. Boucher stel voor dat hy op 25 Mei 1670 in die hawestad Toulon in die Provence gebore is, waar sy ouers Louis Terreblanche en Catherine Meissonnière in die weef- en materiaalbedryf gewerk het. Estienne het waarskynlik uit die suide van Frankryk na Nederland uitgewyk, ná die herroeping van die Edik van Nantes. Teen 1701 was hy aan die Kaap as 'n vrije Fransman. Sy naam word die eerste keer genoem ná 'n skermutseling met Khoi-Khoi-veediewe in die Land van Waveren (die huidige Tulbagh). Die eerste paar jaar het Estienne in vennootskap met ander vryburgers geboer. Die opgaafrolle van 1705 beskryf hom as 'n kleinboer in vennootskap met 'n sekere Joubert, waarskynlik Jacob Joubert, die seun van Pierre Jaubert. Hulle het vier perde, tien beeste en 'n paar wingerdstokke besit en het met koringproduksie eksperimenteer. Na 'n paar jaar het Estienne ’n nuwe vennoot verkry, Jean Imbert uit Nîmes, wat sy plaas Drakenstein, Languedoc, aan Essaye Caucheteux verkoop het.
Estienne trou in 1713 met Marthe Lefebvre, die 29-jarige weduwee van Jacques Pinard. Hy word nie net die stiefpa van Marthe se ses Pinard-kinders nie, maar word ook eienaar van drie Pinard-plase in Drakenstein: Geelblomsvlei, Hartebeestkraal en Lustigaan. In die volgende agt jaar word die egpaar ouers van twee seuns, Stephanus en Pieter, en twee dogters, Geertruy en Martha. Dit het so sleg met die boerdery gegaan dat Estienne die weeskamer vir ’n lening moes vra en sy spogplaas, Lustigaan, in 1725 aan Louis le Riche moes verkoop. Volgens die opgaafrolle van 1731 het Estienne toe nie meer geboer nie. Twee van sy stiefseuns, Jan en Salomon Pienaar, word veeboere en sluit by die trekboerbeweging aan. Die trekboere bereik die Groot-Brakrivier teen 1730 (380 kilometer van die Kaap af). In 1733 ontvang Salomon 'n leenplaas, Welgevonden, naby die huidige Mosselbaai.
Therond (Theron)
Die 19-jarige Jacques Therond het in 1687 uit die stad Nîmes in Languedoc gevlug om vervolging vry te spring. In Junie het hy hulp in Frankfurt am Main ontvang, voordat hy vandaar na Middelburg in Zeeland gereis het. Daar het hy hom as soldaat by die VOC aangesluit en die eed van lojaliteit afgelê soos vereis. Daarna het hy op 29 Januarie 1688 koers gekry na die Kaap aan boord van die Oosterland, die Oos-Indiëvaarder van die Zeelandse kamer. Daar was 24 ander Hugenote aan boord, waaronder ' Jean Imber, ook uit Nîmes, wat ook as soldaat by die VOC aangesluit het. Kort na hulle aankoms, is hulle toegelaat om vryburgers te word. In 1692 ontvang Therond ’n plaas aan die Palmietrivier in Klein Drakenstein (Jean Roux en Jean Imbert was sy bure). Omdat hy die petisie teen Van der Stel onderteken het, is die titelakte eers in 1710 uitgereik, nadat die goewerneur ontslaan is. Toe Therond, sy swaer, Hercule des Prés en 13 ander Hugenote in Februarie 1706 na Stellenbosch ontbied is en deur Landdros Starrenberg beveel is om die getuigskrif ten gunste van Van der Stel te onderteken, het hulle geweier en uitgestap.
Therond trou in Junie 1696 met die 22-jarige Marie-Jeanne des Prés, derde dogter van Hercule des Prés, eienaar van De Zoeten Inval in die Paarl. Hulle eerste kind, Maria, is gebore op 7 Augustus 1698 en op 24 Augustus gedoop deur Pierre Simond in die eerste Hugenote-kerkie in Drakenstein (beskryf deur Valentyn as niks meer as 'n skuur nie). Hulle het nog 'n dogter en vyf seuns gehad, waarvan die jongste, David, op 24 Augustus 1718 gebore is.
Therond het in grond belê. Hy koop Languedoc van Abraham Prévost in 1711 en Keerweder op die oostelike hange van die Drakensteinberg in 1716. Therond en Imbert het in 1714 'n vennootskap gevorm om hulle twee plase aan die Klein Bergrivier te ontwikkel. Imbert noem sy plaas Montpellier en Therond syne Le Rhône. Met verloop van tyd het Therond een van die meer suksesvolle Hugenote-boere geword. Die opgaafrolle van 1731 verwys na hom as die eienaar van 12 slawe, sewe perde, 100 beeste, 400 skape en 20 000 wingerdstokke. Hy dien as inspekteur van paaie, lid van die Heemraad en van die Drakensteinse militêre raad en lidmaat van die Drakensteinse gemeente (waar hy 'n stukrag was vir die bou van die nuwe Hugenote -kerk in die Paarl). Marie-Jeanne des Prés word onthou as die vroom moeder wat verse van toewyding vir elkeen van haar babas geskryf het.
In 1826 word Pieter François Theron (1771–1846) die eerste Afrikaner-genealoog wat 'n redelik akkurate Hugenote-genealogie, Geslagslijst der Fransche Protestantsche Vlugtelingen (1826), saamgestel het. Hy was bekend met die kinders en kleinkinders van verskeie van die Hugenote-setlaars.
Afstammelinge van Jacques Therond sluit in Daniël (Danie) Theron (1872–1900), die legendariese verkenner en vreeslose guerrilla-vegter tydens die Anglo-Boere-oorlog. Die Britse opperbevelhebber, lord Roberts, noem Theron: "the hardest thorn in the flesh of the British advance" en het 'n losprys van £ 1 000 op sy kop gesit. Sy lewe is kortgeknip toe hy in September 1900 in aksie gesneuwel het.
Sy agter-agter-niggie, Charlize Theron, het die Oscar vir beste aktrise in 2004 gewen. ’n Ander bekende Theron, professor Chris Theron van die Stellenbosch Universiteit, het gehelp om die Pinotage-kultivar, die eerste suksesvolle Suid -Afrikaanse rooiwyndruifsoort, te ontwikkel.
Villion (Viljoen)
François Villion van Maaseik uit Suid-Nederland het op 14 Februarie 1672 as 'n VOC-soldaat by die Kaap aangekom aan boord van t'Huijs te Velsen. Hy trou in 1676 met Cornelia Campenaar uit Middelburg in die Nederlandse Republiek. Hulle oudste seun, Henning Viljoen, trou met Marguerite-Thérèse de Savoye en boer by Watergat in Simondium. Vier van hulle kinders het die Henning-tak van die Viljoen-gesin voortgesit. Henning sterf tydens die pokke-epidemie in 1713.
Die jongste seun van François en Cornelia, Johannes Villion, trou met Catharina Snijman, dogter van Christoffel Snijman en Marguerite-Thérèse de Savoye. Hulle het twee kinders gehad, 'n seun en 'n dogter. Johannes en Catharina sterf albei in die pokke-epidemie. Hulle seun, Johannes jr., het met Aletta Olivier getrou en agt kinders in die wêreld gebring en so verseker het dat die Johannes-tak van die Viljoen-familie voortgesit word.
Die derde seun van François en Cornelia is voor 1713 oorlede, sonder nasate. Hulle dogter, Johanna trou met Hendrik Venter en word dus die stammoeder van die Venters in Suid -Afrika. Sy is op die ouderdom van 34 oorlede tydens die pokke-epidemie. Anna se suster, Cornelia, was eers met Hercule du Preez getroud en later met Christian Maasdorp. Die derde Villion-suster, Francina, trou met Jacob Cloete en hulle het ses kinders gehad.
Na die dood van François trou Cornelia in 1690 met Wemmer Pasman en hulle woon vermoedelik saam met hulle kinders op die plaas, Idas Valleij in Stellenbosch. Cornelia en Wemmer het drie kinders van hulle eie gehad. In 1700 is hulle deur die Stellenbosse kerk onder sensuur geplaas en deur die kerkraad aangespreek: “Wemmer Pasman en Cornelia Campenaar, voor de laaste maal, ernstig zouden werden aangesproken over haar dronkenschap”. Cornelia was in 1713 ’n slagoffer van die pokke.
Benjamin Johannes (Ben) Viljoen (7 September 1869—14 Januarie 1917) was 'n boer, vryheidsvegter, Boere-generaal en Amerikaanse konsul. Viljoen is in die Oos -Kaap gebore en verhuis in 1890 na Johannesburg waar hy die Krugersdorpse Vrywilligerskorps stig en by die militêre optrede teen die Jameson Raiders betrokke is. Hy is bekend daarvoor dat hy gesê het dat dit tyd is dat die Boere die wapen teen die Britte opneem en hulle vertroue stel in "God en die Mauser". Tydens die Anglo-Boere-oorlog het hy die Johannesburgse kommando gelei. Later begin hy 'n guerrilla-kommando en word assistent-kommandant-generaal van die Boeremagte. Hy is uiteindelik in 1902 op Lydenburg gevange geneem en as krygsgevangene na St Helena gestuur, waar hy My Reminiscences of the Anglo-Boer War geskryf het. Nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, vertrek hy en 'n paar ander Transvaalse oud-offisiere om 'n boerdery-kolonie in Mexiko met die hulp van Theodore Roosevelt te stig. Alhoewel pogings om die nedersetting in die noorde van Mexiko te vestig, misluk, slaag hy daarin om die Boere-kolonies in Doña Ana County in Berino, Chamberino en La Mesa in die New Mexico Territory te organiseer. In 1909 kry hy Amerikaanse burgerskap.
Hy was bevriend met president Theodore Roosevelt en die goewerneur van New Mexico, George Curry. Hy is aangestel as majoor in die territoriale National Guard's First Regiment of Infantry. Hy het die aansluiting van New Mexico by die Verenigde State promoveer en ook by die Mexikaanse revolusionêre stryd betrokke geraak as militêre adviseur van Francisco Madero in die Slag van Ciudad Juarez. Vir 'n kort tydjie was hy die Amerikaanse konsul in Duitsland. Hy sterf in 1917 op sy plaas in La Mesa in New Mexico.
Abraham en Constand Viljoen was ‘n identiese tweeling (gebore 28 Oktober 1933), maar hulle het verskillende lewensuitkyke gehad. Abraham was 'n diep gelowige man wat teen apartheid gekant was, terwyl Constand hoof van die Suid -Afrikaanse Weermag geword het. Aan die begin van die negentigerjare het Constand na sy aftrede na vore gekom om aan die hoof van die Afrikaner Volksfront te staan. Die Volksfront was 'n regse groep wat teen onderhandelinge met die ANC gekant was vir militêre optrede voorberei het. Abraham was betrokke by die Instituut vir 'n Demokratiese Alternatief vir Suid -Afrika (IDASA). IDASA is gestig om blanke Suid-Afrikaners en die African National Congress (ANC) nader aan mekaar te bring. Abraham het toenadering by sy vervreemde broer gesoek om samesprekings met die ANC aan te moedig. Wat gevolg het, was 'n reeks geheime vergaderings en onderhandelinge wat gehelp het om die weg te baan vir 'n vreedsame skikking.
Vivier (Viviers)
Die drie Vivier-broers uit Normandië, Abraham, Jacob en Pierre was in ballingskap in Zierikzee, Zeeland toe hulle op 24 April 1688 aan boord van die Zuid-Beveland na die Kaap vertrek. Soos baie vlugtelinge, ontvang hulle geskenk-pakkette van die Waalse kerk— die laaste een aangeteken op 28 Maart 1688 as "vir die drie vertrekkende Viviers" ("aux 3 Viviées pour partir"). In 1690 ontvang hulle plase in Daljosafat, weerskante van Dal-se-Loop, 'n sytak van die Bergrivier. Abraham ontvang Schoongezicht en Jacob en Pierre die aangrensende plase, Goede Rust en Non Pareille. Abraham trou in 1695, toe hy 41 jaar oud was, met die 16-jarige Jacquemine des Prés, dogter van Hercule des Prés en Cecile d'Atis. Hy was die enigste van die broers wat getrou het, wat hom en Jacquemine die stamouers van die Vivier(s)-families in Suid-Afrika maak. Die egpaar het nege kinders gehad, waarvan agt volwassenheid bereik het.
Die Vivier-broers sterf tydens die pokke-epidemie van 1713 en so ook Jacquemine in 1715 toe sy 36 jaar oud was. By haar afsterwe was haar oudste seun, Abraham, 18 jaar oud en haar dogter, Elisabeth, 17 jaar Marie-Jeanne des Prés (Jacquemine se suster) en haar man Jacques Therond was verantwoordelik vir die grootmaak van die vyf Vivier-dogters.
Alhoewel daar ongeveer 320 Hugenote na die Kaap gekom het, het nie al hulle vanne oorleef nie. Die vanne van Hugenote-vroue soos Aubanelle, Avicè, Bacat, Basché, Briet, Buisset, Carnoy, Cochet, D'Atis, De France, De Potter, Eloy, Fourdrinier, Martinet, Mille, Petel, Pochox, Tabourdeux, Valette, Vitu en Wibaut het verdwyn. Dié van hulle wat getroud was en ook hulle dogters, soos die De Savoye-meisies, het die stammoeders van bekende Suid-Afrikaanse gesinne geword. ’n Ander rede waarom name uitgesterf het, is dat sommige Hugenote kinderloos gesterf het. Jean Gardiol was een van hulle. Sy susters Marguerite en Suzanne is albei getroud met broers De Villiers, wat hulle die stammoeders van hierdie familie maak. Tot vandag toe het baie meisies die naam Gardiol om die herinnering aan dié Hugenote-familie uit Lacoste in Provence lewendig te hou.
Hieronder is sommige van die vanne van Hugenote wat na die Kaap gekom het en slegs 'n rekord van hul name agtergelaat het:
•Matthieu Amiel, 'n wolkaarder van Le Luc in Provence, se eerste vrou, Suzanne Aubanelle, is óf aan boord van die Wapen van Alkmaar oorlede óf kort nadat hulle in 1689 geland het. Die egpaar het twee kinders gehad. In 1689 trou hy met Jeanne Mille en ontvang die plaas Terre de Luc in Oliphantshoek in 1694. Matthieu onderteken die getuigskrif ter ondersteuning van Wilhem Adriaen van der Stel in 1706.
•Pierre Barillé, van Niort in Poitou, het 'n plaas naby Stellenbosch ontvang. In 1692 trou hy met Dina van Soetermeer. Die huwelik was kinderloos en hulle het in Tafelvallei gewoon tot Barillé in 1700 sterf.
•Abraham Bleuset (d. 1735) en Isabeau Pochox (d. 1726) het geen kinders gehad nie. Abraham word van 1693 tot 1731 as wewenaar in die opgaafrolle aangeteken, dus moes Isabeau kort na hul aankoms aan die Kaap gesterf het. Abraham was 'n leidende teenstander van die Van der Stel -administrasie.
• Dit wil voorkom asof Louis de Bérault, swaer van Pierre Simond, omstreeks 1698 in Stellenbosch oorlede is. Hy was die eerste Kaapse Hugenoot wat ʼn slaaf gekoop het – Isaac van Madagascar vir 100 ryksdaalders in 1690. As VOC sersant was hy die leier van ʼn soekparty wat na oorlewendes van die Stavenisse aan die kus van Natal en die huidige Mosambiek gaan soek het. Hy het ongetroud gebly en al sy wêreldse goed vir sy suster nagelaat. Daar was 'n nota in sy testament wat sê dat hy agt of tien jaar lank nie van sy vriende gehoor het nie
• Jacques Bourbonnais uit Mons in Henegouwen was 'n matroos in diens van die VOC. Hy het as kneg vir Gérard Hanseret op die plaas, Vlottenburg, naby Stellenbosch gewerk. Hy het ongetroud gebly en is na 1713 oorlede.
• Min is bekend oor Paul Brasier. In die rekords van die Batavia-fonds word genoem dat hy geen hulp uit die fonds ontvang het nie en daar is geen bewyse dat hy 'n gesin gehad het nie.
• Die rekords oor Antoinette Carnoy, die weduwee van Philipe de Clercq en skoonmoeder van Jacques de Savoye, eindig met die terugvaart na Europa met De Savoye in 1712.
• Jean Cloudon, afkomstig uit Condé-en-Brie in Champagne, word aangeteken as boer op Goede Hoop in Drakenstein in 1692. Dit lyk asof hy geen afstammelinge gehad het nie.
• Essaye en Jean Caucheteux is wees gelaat toe hulle ouers tydens die reis na die Kaap gesterf het. Esaias, wat met Anna Marseveen getroud was, sterf kinderloos in 1708. Sy broer, Jean, wat met Anna Gildenhuys getroud was, sterf in 1713, ook kinderloos.
• Philippe Drouin van Calais het op De Groene Fontein in die Wagenmakersvallei geboer. Toe hy omstreeks 1701 kinderloos sterf, het sy lojale vriend Gidéon Malherbe sy eiendom geërf. Dit sluit Phillipe se erfenis van sy vader in Frankryk sowel as sy plaas in die Wagenmakersvallei. Phillipe se motivering daarvoor is aandoenlik: “Verder soo verclaart den testateur alsoo hij nog vader nog moeder nog suster nog broeder heeft te nomminerend instijtueren tot zijnen eenigen en universeele erfgenaam Gidion Malerbe of zijn regt vercrijgende en dat uijt trouwe vrintschap die hij aan mijn heeft bewesen”.
• Jean Duthuilé het sy lewe aan die Kaap het in 1699 baie belowend begin toe hy die plaas Hexenberg in die Wagenmakersvallei ontvang het. Dit kom tot ’n einde met die dood van een van sy slawe en 'n Khoi-Khoi-arbeider, vir wie hy genadeloos gestraf het omdat hy 'n paar sleutels gesteel het. Jean vlug in die uitgestrekte en onbekende binneland in en daar is nooit weer van hom gehoor nie. Hy is in absentia skuldig bevind en ter dood veroordeel. Teen 1718 het hy in Londen as lidmaat van die La Patente-gemeente in Soho verskyn, waar hy met Marguerite Champagne getroud is.
• Jean Gardé van die Dauphiné-provinsie is met Suzanne Taillefert getroud. Hulle het twee kinders, Jean en Susanna, gehad. Die familie-lyn het doodgeloop omdat Jean nie getrou het nie.
• Jean Gardiol, 'n ywerige ondersteuner van der Stel, is nooit getroud nie en sterf kinderloos op sy plaas La Cotte in die Oliphantshoek (vandag Franschhoek) in 1738.
• Paul Godefroy van die Orléanais het die plaas Knolle Vallei in Daljosafat, wat hy met Daniel Terrier gedeel het, ontvang. Voor sy koms na die Kaap is Paul en sy broer, Pierre, opgesluit in die Fort l'Écluse aan die Rhône. Nadat hulle die Protestantse geloof afgesweer het, is hulle na die Nederlandse Republiek. Pierre vestig hom in Londen. Paul sterf in 1699 sonder erfgename op Daljosafat.
• Oor Antoine Gros is byna niks bekend nie, behalwe dat hy van Soubeyran in die Daphiné afkomstig was en 'n ruim toekenning van f338 uit die Batavia-fonds ontvang het. Die laaste inskrywing oor hom is in die opgaafrolle van 1692.
• Jean Imbert het 'n vrygesel gebly. Hy ontvang die plaas, Languedoc in Drakenstein, maar verkoop dit in 1702 aan Essaye Caucheteux. Daarna verhuis hy na die Land van Waveren. Daar het hy in vennootskap geboer, eers met Estienne Terreblanche en later met Jacques Therond. Laasgenoemde het as soldaat op die Oosterland aangekom. Toe hy in 1723 sterf, het hy geen familie gehad nie. In sy testament noem hy “uijt een besonder genegentheijd en tot recognitie voor getrouwe diensten tot zijn eenige en algemeene erfgenaam Pierre de Provence [Pierre Joubert].”
• ’n Oorspronklike faktuur in Frans, uitgereik deur 'n kneg, vir werk wat vir Imbert gedoen is, lui: ”Verslag van wat ek vir Jan Imber 1716 - eerstens, 8 dae snoei van wingerdstokke en dan 15 dae wingerdspit [en] 3 dae wingerdsteggies versamel. Die jaar 1717 - 8 dae om wingerdstokke te snoei en nege dae in wingerdspit. ”
• Die sporadiese rusies tussen die humeurige Jean Imbert en sy vriend met net een hand, Antoine Martin, afkomstig van Uzès 25 km noord van Nîmes, was welbekend. In 1691 het Jean de Villiers 'n verklaring afgelê dat Imbert Martin met 'n pistool ('een passtool') oor die kop geslaan het. Hy moes die pistool uit Imbert se hand ruk om Martin se lewe te red. In Mei 1694 was hierdie twee besig om saam met Daniel Terrier, Daniel Bouvat en Matthieu Fracassé op Paul Godefroy se plaas partytjie te hou. Toe ’n argument ontstaan, het Martin Imbert met ’n mes in die rug en boude gewond.
• Jacques Labat se naam verskyn slegs op die lys burgers van 1693 en 1705. Hy het waarskynlik na Europa teruggekeer.
• Nicolas Labat (jonger broer van Jacques) het met Elisabeth (Isabeau) Vivier getrou, maar daar was geen kinders nie. Nicolas sterf in 1717.
• Gidéon Legrand, 'n sjirurgyn uit Compiègne in Pikardië, wat in Stellenbosch en Drakenstein gewoon en gewerk het, sterf in 1710 en laat sy boedel na aan sy broer Abraham in Haarlem in Nederland. Daniel Hugot het 115 boeke en Jean Durand 5 woordeboeke, uit Legrand se boedel gekoop.
• Jean Manié wat uit Calais afkomstig was, was nie getroud nie. Hy het 'n gemeenskaplike testament met Abraham Bleuset, saam met wie hy op die plaas Calais by Dal Josafat geboer het, nagelaat.
• Die verhaal van Zacharie Massion is hartroerend. As 'n ou man sonder vriende of familie, het hy sy boedel aan die Drakenstein-kerk nagelaat op voorwaarde dat hulle hom tot sy dood sou versorg. Sy testament is in 1731 geregistreer.
• Antoine Martin, wat net een hand gehad het, is afkomstig uit Uzès, 25 km noord van Nîmes. Hy vestig hom in Drakenstein en noem sy plaas Languedoc na sy streek van herkoms. In 1702 verkoop hy hierdie 50-morg-plaas aan Essaye Caucheteux vir f900. Dit was die laaste inskrywing oor hom in die opgaafrolle. Daar is geen rekord van enige gesin nie. Hy is in 1699 oorlede.
• Michel Martineau van Mer, werk saam met sy mede-Orléanais Pierre Rousseau, Jean Cloudon en François Rétif. Dit is aangeteken dat hy f120 van die Batavia-fonds ontvang het, maar hy word nie op opgaafrolle genoem nie.
• Pierre Mouy arriveer in 1699 as wewenaar in die Kaap en sterf in 1735. Die Mouy-lyn loop saam met hom dood. Sy dogters, Marie en Jeanne, het die stammoeders van die Retief-, Le Roux- en Minnaar-nasate in Suid-Afrika geword. Deesdae woon die tiende geslag Rétif -afstammelinge op sy plaas, De Krakeelhoek (nou Welvanpas) in die Wagenmakersvallei.
• Jean Mézel (Jan Mysal) verdwyn uit die historiese rekords ná 1692 toe hy as woonagtig in Drakenstein aangeteken is. Hy het f60 uit die Batavia-fonds.
• Jean Parisel, afkomstig van Villiers-le-Bel aan die noordelike buitewyke van Parys, vestig hom in Drakenstein. Hy boer op die plaas Bergen-Henegouwe in vennootskap met Jean Durand waar hy in 1695 oorlede is. Hy onderteken die getuigskrif ter ondersteuning van WA van der Stel.
• André Pelanchon van Sivergues in Provence arriveer in 1688, 15 jaar oud, op die China. Volgens die rekords was hy as boerkneg in diens van Essaye Caucheteux toe hy in 1690 f100 uit die Bataafse Fonds ontvang het. Sy naam verskyn op die Kaapse opgaafrolle van 1692 tot 1709. In 1709 is dit opgeteken dat hy die weesheer gevra het om 63 Kaapse gulden te skenk aan Essaye se weduwee, wat toe getroud was met Abraham Prévost. Pelanchon was betrokke by die onwettige ruilhandel in vee met Khoisan-stamme.
• Charles Prévost en sy vrou, Marie Lefebvre, het saam met hulle seun, Abraham, en twee dogters, Anne en Elisabeth, na die Kaap gekom. Jakob, hulle tweede seun, is ter see gebore. Charles is een maand na hulle aankoms aan die Kaap oorlede. Marie is nog drie keer getroud. Abraham trou met Anna van Marseveen, die weduwee van Essaye Caucheteux. Hulle het slegs dogters gehad, en daar is geen verdere rekords van sy broer, Jakob nie, en dus het die familienaam met Abraham se afsterwe doodgeloop.
• Anne en Elisabeth Prévost, Abraham en Anna se dogters, het onderskeidelik die stammoeders van die Van der Merwe- en Du Preez-families geword. Anne Prévost en Schalk van der Merwe het 10 seuns en ses dogters gehad, en Elisabeth Prévost en Philippe des Prés, sewe seuns en vier dogters. Die smeltkroes-effek aan die Kaap word geïllustreer deur die twee Prévost -huwelike en dié van Schalk se pa, die stamvader Willem Schalks van der Merwe. Willem Schalks het in 1661 van Broek in Nederland na die Kaap gekom en sy vrou, Elsje Cloete (oorspronklike naam Klauten), was van die Keurvorstedom van Keulen (Kurfürstentum Köln) in die Noordelike Rynland. Elsje is in 1655 in die Katolieke kerk van Ödt naby Keulen gedoop en trou in 1668 met Willem Schalks in die NG Kerk aan die Kaap. Saam het die egpaar 13 kinders (vier seuns en sewe dogters) gehad waarby Willem Schalks 'n voorkind bygevoeg het – 'n dogter gedoop Maria Schalck – met die moeder 'n slavin Koddo uit Wes-Afrika (Koddo van Guinea). Maria Schalk trou in 1696 met Paul Heyns uit Leipzig en word die stammoeder van die groot Heyns-familie in Suid -Afrika.
• Pierre Rochefort uit Grenoble, wat in 1689 aangekom het, het in vennootskap met die Hugenote-messelaar Gérard Hanseret op Vlottenburg geboer. Daar is geen rekord dat hy 'n gesin gehad het nie.
• Jean Rey, seun van 'n plaasarbeider van Lourmarin in die Luberon, trou in 1712 met Marie-Catherine Lefebvre, weduwee van Gabriel Leroux. Hulle het twee seuns en 'n dogter gehad. Hy ontvang die plaas Lormarins in Drakenstein in 1692 en koop Salomonsvlei in 1712. Sy seun, Jean, het net twee dogters gehad, wat daartoe gelei het dat die van uitsterf.
• Jean Rogier het twee keer aan die Kaap getrou. Hy en sy eerste vrou, Maria Vermeulen, het drie kinders gehad, Gysbert, Brigitta en Johanna. Die Rogier-van het egter met Jean se afsterwe in 1724 doodgeloop. Daar word geen melding gemaak van kinders nie.
• Jean Roux, wat in 1665 gebore is, is uit Lourmarin in Provence afkomstig en het in Daljosafat geboer. In sy testament van 1705 het hy sy boedel aan sy vader wat nog in Lourmarin was, bemaak en indien reeds oorlede moes dit aan die Drakensteinse Armesorg oorgedra word. Dit lyk dus asof hy geen familie aan die Kaap gehad het nie.
• Pierre Roux, 'n arbeider van Cabrières d'Aigues in Provence, het in Januarie 1689 op die Wapen van Alkmaar by die Kaap aangekom. Sy vrou, Madeleine Goirande, is vermoedelik ter see dood. Pierre het die plaas Winterhoek in Drakenstein (Wemmershoek) ontvang en dit in 1696 aan Wemmer Pasman verkoop. Hy vertrek na Europa om eers in 1718 na die Kaap terug te keer toe hy die plaas Paarl Diamant gekoop het. In 1725 vertrek hy na Batavia, waarvandaan hy in 1730 terugkeer. Sy testament is in 1739 op Daniel Malan se plaas Morgenster opgestel. Daarin het Pierre al sy wêreldse besittings aan Daniel bemaak, op voorwaarde dat hy tot die dood vir hom sou sorg.
• Daniel des Ruelles kom van Guînes. Hoewel hy 'n vrou en verskeie kinders gehad het, blyk dit dat hy saam met twee dogters, Anne en Esther, by die Kaap aangekom het. Hy is getroud met 'n weduwee, Catherine Tabourdeux, maar het geen verdere kinders gehad nie. Hy is in 1726 oorlede.
• Jacques de Savoye en sy vrou Marie-Madeleine de Clercq het twee dogters en 'n seun gehad. Hy is in 1741 oorlede. Die De Savoye familienaam het doodgeloop, aangesien Jacques se seun voor hom oorlede is. Sy dogter Marguerite trou met Christoffel Snyman, die seun van 'n soldaat Hans Christoffel Snijman en die vrygelate slaaf Groote Catrijn van Paliacatta. Marguerite word dus die stammoeder van die Snyman-familie.
• Die susters Jeanne, Suzanne en Claudine Seugnet is afkomstig uit Saintes in die provinsie Saintonge. Claudine het met Paul Roux getrou en Suzanne met François du Toit.
• Durand Sollier, ’n skoenmaker, trou met Isabeau de Villiers. Hulle het net 'n dogter, Martha, gehad. Sy broer, Gilles Sollier, wat 'n handelaar was, het 'n interessante lewe gelei. Hy, sy vrou en stiefseun keer in 1718 terug na Europa, maar teen 1731 was hulle terug aan die Kaap. Gilles Sollier, wat in Tafelvallei gewoon het, was dikwels 'n tussenganger vir die setlaars en die Kompanjie, omdat hy in Frans, Nederlands en Engels kon skryf. Een van die vele briewe wat bewaar is, is die brief wat hy van Pierre Lombard ontvang het. Dit is namens hom geskryf omdat Lombard nie kon skryf nie en is onderteken met 'n "(L)". In die brief word Gillis gevra om by die Hollander, Andries de Kock, in te tree vir geld wat hom verskuldig is (vir sewe osse en 'n koei). Hy meld op ’n roerende wyse dat sy jong slaaf na sy land van herkoms terugverlang en versoek Sollier om ’n pond saffraan en neutmuskaat te stuur. U baie nederige dienaar (L) pierre lombard.
• Die Taillefert-familie was afkomstig uit die dorpie Château-Thierry aan die Marne-rivier, ongeveer 80 kilometer oos van Parys in die Brie-distrik van die historiese Champagne-streek. Isaac, die stamvader, was 'n hoedemaker en die seun van Jean Taillefert, 'n apteker in Château-Thierry. Sy vrou Suzanne Briet was uit 'n familie wynboere in die nabygeleë Monneaux. Die egpaar moes noodgedwonge hulle geloof afsweer voordat Isaac en die ouer kinders in ballingskap na Middelburg kon gaan. Op 11 Januarie 1687 het Isaac in Middelburg in die openbaar verskoning gevra omdat hy sy geloof herroep het. Suzanne en hulle twee jongste dogters het in September dieselfde jaar by die gesin aangesluit.
• Isaac en Suzanne arriveer met hulle ses kinders aan boord van die Oosterland in April 1688. Familielede wat hulle geloof afgesweer het, het agtergebly om die egpaar se landbou -eiendomme te beveilig. Aan die Kaap het Isaac as hoedemaker bly werk. Die goewerneur Maurits Pasques de Chavonnes (1654 – 1721) wie se gesin uit Frankryk na die Sint -Bartholomeus-slagting gevlug het, het met Isaac se dood (in 1699) in een van sy verslae hulde gebring: “eerst zijn hier goede sterke hoeden gemaakt, door een der franse vluchtelingen genaamd Isak Talifer, dat een seer groot gerief voor de coloniers was, dog met desselfs doot is sulx agtergebleven”.
• In 1689 ontvang Isaac die plaas Picardie aan die Bergrivier in die Paarl en sy seun Jean die aangrensende plaas La Bri (Laborie) wat na sy gebied van vernoem is. Hulle het die plase as een eenheid bewerk. Toe hy in 1698 na die Kaap kom, besoek die Franse avonturier François Leguat vir Isaac op sy plaas. Sy reisverhaal wat in 1708 gepubliseer is, beskryf die ondernemingsgees van die man uit Champagne: “Een van die vlugtelinge, genaamd Taillefer, 'n baie eerlike en vernuftige man en veral nuuskierig in hierdie besonderhede (van sy natuurlike omgewing), het 'n tuin wat as baie netjies beskryf kan word. Niks ontbreek nie en alles is in orde en so netjies. Hy het ook ’n groot werf en 'n groot hoeveelheid osse, skape en perde, wat volgens die gebruik van die land die hele jaar buitenshuis bly…. Hierdie gasvrye man ontvang en onthaal almal wat so gelukkig is om hom te kom sien. Hy het die beste wyn in die land, en dit is baie soos ons klein wyne in Champagne ”.
• Ondanks die feit dat hy in 1695 'n diaken was in die Franse gemeente in Drakenstein, was Isaac gereeld in regsgeskille betrokke. In 1696, byvoorbeeld, het die landdros Isaac opdrag gegee om 'n eis van 'n timmerman vir uitstaande lone af te handel. In Mei word hy deur sy handlanger Christoffel Luyte gedagvaar omdat hy nie betyds betaal is nie; in Augustus het hy die weduwee Des Prés (Cecilia d'Atis) hof toe geneem omdat sy nagelaat het om haar kant van hul gemeenskaplike drif oor die rivier te onderhou; en in Oktober neem hy regstappe teen Gerrit van Deventer omdat hy nie die voorwaardes van 'n boukontrak nagekom het nie. Taillefert ontvang die plaas De Leeuwenvallei in die Wagenmakersvallei in 1699, die jaar van sy dood.
• Suzanne Briet het voortgegaan om te boer ná haar man se dood, en volgens die opgaafrolle het sy baie goed gevaar. In 1700 het sy 36 stuks vee en 12 000 wingerdstokke gehad. Teen 1709 het sy 80 beeste, 400 skape en 20 000 wingerdstokke gehad en sy het haar koringproduksie verdubbel. Deur haar dogter Marie Elizabeth, wat in 1691 met Pierre de Villiers (gebore 1657 in Bar-sur-Seine in die streek Champagne-Ardenne) getroud is, word Suzanne een van die De Villiers-stammoeders in Suid-Afrika.
• Nie een van Isaak Taillefert en sy vrou, Suzanne Briet, se twee seuns het seunskinders gehad nie.
• Daniël Terrier en sy vrou Sara Jacob het in 1690 hulp ontvang uit die Bataafse Fonds. Aanvanklik boer Terrier saam met Paul Godefroy en Antoine Gros op die plaas Knolle Vallei. Sara hertrou met Jean de Bus in 1700 om een van die stammoeders van die Buys- en De Buys -afstammelinge in Suid -Afrika te word.
• Estienne Viret uit die Dauphiné en sy vrou Marguerite Roux het vyf seuns gehad, maar nie een van hulle het seunskinders gehad nie, sodat die van doodgeloop het.
• André Wibaut (Huibaux) arriveer in 1706 uit Amiens, Pikardië aan boord van die Beljois as soldaat van die VOC. Huibaux trou met Marie Delporte (gebore 4 Oktober 1699 in Drakenstein), dogter van die stamouers Jacques Delporte en Sara Vitu. Huibaux werk van 1709 tot 1711 vir 13 gulde per maand as arbeider by Pierre Jourdan (Cabrière) op Olifantshoek (hy ontvang ook, kos, drank en skuiling). Van 1711 tot 1715 werk hy vir sy swaer, Hercule Verdeau op Champagne in die Wagenmakersvallei vir 14 gulde per maand plus kos, drank, skuiling. Nadat hy as timmerman gewerk het, koop hy die plaas Calais, Daljosafat in 1725 van Abraham Belusé. Wibaut sterf in 1727 en laat sy vrou Marie Delporte, 38 jaar oud, agter. Hulle het geen kinders gehad nie.
• Louis Barré van La Roque-d'Anthéron in Provence keer in 1705 terug na Europa.
• Pierre Batté het in 1696 na Europa teruggevaar. Soos baie ander Hugenote moes Barré in 1690 geldelike hulp uit die Bataafse Fonds ontvang.
• Daniel Bouvat keer in 1708 terug en word 'n Nederlandse burger in Amsterdam in 1711.
• Paul Couvret, met sy vrou en vier kinders, en Jacques de Savoye met sy vrou en skoonma, Antoinette Carnoy, keer in 1712 terug na Europa.
• Pierre Bénézet, wat 'n vrygesel was, het sy plaas, Languedoc, aan sy buurman Jean Gardé verkoop. Hy was nog 'n jong man toe hy in 1700 na Europa vertrek het. Die naam Pierre Bénézet verskyn tussen 1721 en 1757 in Nederlandse en Duitse rekords.
• Matthieu Fracassé word in 1713 aangeteken as in Holland woonagtig, so hy moes toe al teruggekeer het. Daar is ook 'n verslag dat sy dogter Suzanne in 1718 in Amsterdam gewoon het.
• Jean Caucheteux, Gérard Hanseret en Salomon de Gournay, al drie wewenaars, keer in 1718 terug na Europa.
• Salomon de Gournay van Dieppe het in 1686 na Londen gevlug. Hy arriveer in 1688 met die Zuid Beveland. Salomon was getroud met Anna Martin, die weduwee van Jean du Puis. Hulle het een seun gehad wat jonk oorlede is. Salomon het 'n plaas in Drakenstein gekry wat hy Salomonsvlei genoem het. Hy verlaat egter die Kaap en sluit aan by sy oudste broer Jean wat in 1718 in Londen gewoon het. Daar trou Salomon met Marthe Lormier, dogter van Jean Lormier en Rachel de Senne van Dieppe.
• Gérard Hanseret was getroud met Gabriella Wavrand. Hulle kinders het moontlik in Europa gebly. Hy was 'n messelaar in Stellenbosch, maar het skynbaar nooit die sterk band met sy tuisdorp St Omer in Artois verbreek nie. Sy testament is vol van bemakings aan familie en vriende in Europa en in 1718 keer hy terug daarheen.
• Jean Légeret van Courteron in Champagne was 20 jaar aan die Kaap voordat hy in 1716 na Europa vertrek en hom in Hamburg gevestig het.
• Die sjirurgyn Paul Lefebvre en sy tweede vrou, Elizabeth Sézille en hulle twee kinders, Marie-Madeleine en Gidéon, wat aan die Kaap gebore is, keer in 1705 terug na Europa. Marie-Madeleine trou met David Taillefert van Château-Thierry in Frankryk.
• Pierre Sabatier kom in 1688 aan die Kaap aan en vertrek in 1700.
• Pierre Simond en sy vrou en kinders het in 1702 die Kaap verlaat om hulle in Amsterdam te vestig. Teen die 1720's woon sy weduwee, Anne de Bérault, en hul kinders Catherine, Pierre, Jacques-Cléopas, Marie-Elisabeth en Lydie in Londen.
• Jean du Tuillet, Pierre Cronnier and Abraham Jacob is verban en gedwing om die Kaap te verlaat.
DIE EINDE VAN AMPTELIKE HUGENOTE-IMMIGRASIE
Van 1685 tot 1687 was dit hoog op die VOC-agenda om vlugtelinge uit Frankryk te werf om na die Kaap te emigreer en golwe Hugenote het in 1688 en 1689 by die Kaap aangekom. Die VOC se oorspronklike begeerte om die immigrasie-program te laat slaag, blyk uit die herhaalde versoeke aan Simon van der Stel om hulp aan die Hugenote te bied. Reeds voor hulle vertrek uit Holland, het Van der Stel die opdrag gekry om hulle te help en die nodige voorrade en ondersteuning te voorsien totdat hulle op hulle eie oor die weg kon kom. Hy is ook ingelig dat hulle hardwerkende mense is wat met baie min tevrede sou wees.
Ná 1689 het die aantal vlugtelinge egter vinnig afgeneem. Die Here XVII maak inderdaad geen melding van verdere immigrasie na 1688 nie. Alhoewel sommige vlugtelinge na 1689 aanhou kom het, blyk dit dat die VOC nie net belangstelling in die borg van verdere immigrasie verloor het nie, maar ook die aanvanklike positiewe houding teenoor die Franse koloniste aan die Kaap redelik vinnig verander het. In 'n verslag aan die Here Sewentien van 26 Junie 1691 erken Van der Stel dat hy meer koloniste nodig het, maar hy het setlaars uit Frankryk uitgesluit: "veral nie Franse jongmanne of lede van die bourgeoisie nie, maar vroom boere en arbeiders soos die Nederlanders en Hoog-Duitsers wat 'n voorbeeld stel aan ander nasies. ”
In 'n brief van 2 Julie 1699 wat aan die Middelburgse Kamer gestuur is, word herhaal dat hulle nie meer Hugenote moet stuur nie, maar eerder boere uit Zeeland. Dit lyk asof die VOC gehoor gegee het aan Van der Stel se versoek en die Here XVII-rekords van 22 Junie 1700 bevat 'n nota dat alle koloniste gereformeerd of Lutherse Protestante moes wees. Vantevore is net vereis dat die immigrante nie Rooms-Katoliek moet wees nie. Tog het sommige Hugenote wel na die Kaap gekom, en hulle voorouers dra tot vandag toe trots hul name.
BOOYENS, H.
God bless the Good ship China.
BOOYENS, H.
Pierre de Cabrières and Pierre de Belle Etoilé.
BOOYENS, H.
In search of the Soul of the Afrikaner.
DE VLEESCHAUWER, C.A.M. 1988.
Die Vlaamse Hugenote. ’n lesing gehou in die Missaksentrum vir die bevordering van die Vlaamse en Armeense kultuur op Woensdag, 23 November 1988.
RIDGE, S.G.M. 2020.
Natal Huguenot connections: the Nels.
VOS, H. 2009.
Bethlehem Farm 153 Dwars River Valley, Drakenstein: Historical survey of its owners & the early French congregation.
Teken in en ontvang ons jongste Nuusbrief en opdaterings.